Henque Heymans

Henque Heymans het sy liefde vir skryf ontdek toe hy in die televisie-bedryf onder Franz Marx en Christo Compion gewerk het, waarna hy begin het om vir die filmbedryf en ook redelik onlangs die teater te skryf. In 2016 is hy medewerker aan en skrywer vir Suid-Afrika se eerste een-tot-een teaterproduksie DEURnis. Hierdie ambisieuse baanbrekerswerk in plekspesifieke teater lewer vir hom in 2017 sy eerste nominasie vir ’n ATKV-Woordveertjie asook in 2018 die Blou Fiësta-prys. Henque het hom in 2019 onderskei deur die opvoer van wyd uiteenlopende maar uitstaande produksies soos Birthing Nureyev, as vlagskip vir die Nasionale Kunstefees (NAF), Kamerverlaat, wat goud verkry het by die ATKV-Tjokkertoneel, en die ATKV-Tienertoneelproduksie Br(o)os, wat ’n silwer toekenning losgeslaan het. Henque se ryk tekste is gesog by akteurs wat streef om hul potensiaal ten volle te ontwikkel en die benoemings en toekennings van Aardklop, KykNET Fïesta en die Woordfees vir beste akteur – met selfs ’n Naledi-teatertoekenning in 2020 – stroom in.