Regardt Visser

Regardt Visser het taal en kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch gaan swot waar hy dan ook sy honneursgraad in draaiboekskryf en regisseurswerk voltooi het. Dit het gelei tot skryf- en regisseurswerk vir teaterstukke en films. Regardt het ook onlangs vir die bekende sepie Binnelanders begin draaiboek skryf. Regardt vertel hoe stories sy lewe van vroeg af gekleur het in Velddrif, die vissersdorpie waar hy vandaan kom. “Stories was nog altyd die currency waarmee my familie en die dorp operate – ’n unspoken kompetisie onder mekaar,” sê Regardt. “Ek onthou pouses by die skool waar jy almal van jou naweek vertel het soos ‘Wa-wa-wag, daai’s nog niks. Hoor dié een’, en dan was daai vertelling jou grootste asset.” Om ’n goeie storie te vertel, maak vir hom meer saak as die medium waarvoor hy skryf. Tog is die kortverhaalvorm ’n voorkeurvorm en hy sit al lank met ’n idee vir ’n eenheidsbundel. Aan die begin van die jaar het Regardt homself belowe dat hy daadwerklik iets van sy skryfwerk gaan probeer maak. Die digter Ryan Pedro, wie se Pienk ceramic-hondjies onlangs verskyn het, het Regardt van sy ervaring by Paulet Huis vertel en hom aangemoedig om vir die Kommadagga-slypskool in te skryf. “Ek het begin bewe toe ek die mail van Theo ontvang. Ek soek nog heeljaar na so ’n geleentheid. Ek’s dankbaar teenoor die Jakes Gerwel Stigting vir hierdie spasie wat hulle geskep het, waar hulle belê in skrywers, stories en stemme van uiteenlopende agtergronde.” Regardt se idee vir ’n kortverhaalbundel kan nou vlerke kry. Al sy gunstelingboeke, soos Chinatown, Oolog en Pienk ceramic-hondjies is by Paulet Huis geskryf. So, om in hierdie selfde ruimte te kan sit en skryf, is fantasties.