Faeed Amardien, onderwyser sowel as sokkerafrigter by Hoërskool Plumstead én voormalige deelnemer aan die Bosberg Boekskryfprojek (2023), se debuut-jeugroman Life is ’n biets is nuut op die rakke en maak reeds geraas.
Dit was definitief die geval met Amardien se boekbekendstelling in ’n ouditorium, vol gepak met studente, familie en ondersteuners, by dié hoërskool op 26 Augustus. Die geleentheid het selfs ’n standing ovation ontvang — nie iets wat aldag by ’n boekgesprek gebeur nie. Hy en sy uitgewer, Michelle Cooper, van Tafelberg het gesels oor die skryfproses van sy eerste roman asook sy blik as onderwyser op jongmense se identiteitskepping deur taal.
“Ek het opgegroei in Bonteheuwel,” sê Amardien. Die storie van Leonardo Blood, die hoofkarakter in sy debuutroman, vertel van haweloosheid, geslagsgebaseerde- en bendegeweld onder andere. Maar, sê Amardien, dit vertel ook ’n storie van “elke ander kind wat hulle op die Kaapse Vlakte vind.”
“In ’n taal wat ek verstaan.”
Life is ’n biets is in Kaaps geskryf. Na Amardien se onderwysers en mentors hom aan werke soos Kinnes deur Chase Rhys, Diekie vannie Bo-Kaap deur Zulfah Otto-Sallies blootgestel het, het hy dit as plig en voorreg gesien om by die groeiende korpus van Kaaps aan te sluit.
As onderwyser, is hy bewus dat leerders soms sukkel om met letterkunde, wat nie hulle eie lewenservaringe uitbeeld nie, te vereenselwig. Amardien vertel dat, ongeag die toenemende hoeveelheid Kaapse skryfwerk wat verskyn — en literêre pryse wen — sal leerders wat in Kaaps skryf steeds daarvoor gepenaliseer word in Afrikaans Eerste Addisionele Taalklasse. Hy hoop dat meer boeke in Kaaps sal bydra tot die gesprek rondom die standaardisering van die taal.
Amardien se debuutroman spreek die moeilike dele van die lewe aan, maar dis ook ’n storie van Hoop—in Kaaps.
“Ons kan nie ophou praat van die verlies en van haweloosheid nie,” sê hy. “Dit gaan nêrens nie.” Amardien, wie se ma oorlede is toe hy vyftien jaar oud was, vertel dat sy skryfproses een manier is om met sy “grief te grapple”. Skryf is vir hom ’n manier om sin te maak van sy lewe, ’n manier om verlies te vergestalt.
“Die storie van Leo gaan oor die lewe van ’n sestienjarige wat worstel met sy omstandighede en al sy setbacks, maar aanhou opdaag.”
Amardien, in die woorde van sy jong hoofkarakter, vertel dat om dié storie te skryf was iets wat hy moes doen om te survive.




Amardien woon in Parkwood. Hy het sy BEd-graad aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) met Afrikaans en Rekeningkunde as sy hoofvakke. Hy was tydens sy tyd by Paulet Huis nog besig met sy honneursgraad in onderwys met spesialisering in taalwetenskap en letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWC).