Jou gedigte is baie visueel en praat reguit maar met empatie. Hoe ontwikkel jou gedigte? Neem ons deur jou skeppingsproses.
Daa is actually no recipe to my writing process. My vrinne vra altyd hoe kan ek soe gou ’n gedig skryf wat soe powerful is, dan sê ek dis simply die gifts vannie Man van Bo af. Ek sittie by ’n desk en soek stilte nie. Ek skryf meestal innie bed, want ek like nie koudkry nie. My hele bundel is geskryf op my phone tussen random moments innie kar, oppie veld, in ’n taxi, oppie toiletpot en innie garage waa ek my pyp roek.
Ek like skryf in ways dat jy nie nog moet loep soek wat die subteks issie. Alles is baie duidelik. Eerlik. Kort and to the point. My mense sal dadelik wiet van wie en waaroo ek praat as hulle ’n gedig lees. Dis hoekô ek niks explain nie.
Hoe lank het jy aan hierdie bundel geskryf/geskep?
Ek het begin in July 2019 en was drie dae laat vi my deadline met Ronelda. Maa innie eeste wiek van October 2019 toe was ek klaa. Soe drie maande. In Februarie 2020 toe lê ek dit voo en in October 2020 toe begin die editing process en hieso is sy.
Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy tydens die skryf van die bundel ervaar het?
Ek issie mal oorie editing process nie. Jy lees oo en oo van jou pyn en soms dink jy, wat gat hieso an jong! Die hoogtepunt was natuurlik dat my held, Ronelda Kamfer, my kon mentor en dat die span by Protea rêrag alles gemaklik gemaak het vi my, en my twee editors, Rentia Möhl-Bartlett en Danél Hanekom, was en is amazing.
Wat was die moeilikste gedig(te) om te skryf? Hoekom?
Die gedig oo my ouma wat haa hys veloo. Dis hoekom wassit belangrik vi my om “Krismis innie nuwe hys” net daarna te skryf. Dis nou nog ’n seer wond, maa skryf help mettie healing process.
En my ouma love die bundel. Soe ek het dit met net die regte hoeveelheid grace en respect approach.
Foto: Jeremeo Le Cordeur
Lees hier:
Veronique Jephtas is 'n drie-en-twintigjarige skrywer, aktivis, digter, regisseur en aktrise van die Paarl. Sy het haar honneursgraad in drama en teaterstudies in 2019 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en in kreatiewe skryfwerk gespesialiseer. Sy het haar debuut as dramaturg by die 2020 Woordfees gemaak met die teks Hoe change hulle met Marlo Minnaar, onder leiding van Lee-Ann van Rooi. Sy was ook onlangs te sien in die Kanna-bekroonde produksie van Malan Steyn Jakkals en Wolf Onbeperk.
