A place where stories unfold

Anna-Karien Otto

Anna-Karien Otto skryf in Afrikaans en Engels. Sy het in Grahamstad (nou Makhanda) grootgeword, “omring deur briljante, eksentrieke karakters”. Sy is opgelei as ’n spraak-en-drama-onderwyser en het voorheen as subredakteur gewerk. Tans krap sy haar potjie as vryskutskrywer in die Paarl. “’n Verblyf van twee maande in Graaff-Reinet het my passie vir die kookkuns laat ontvlam,” sê sy. “Ek het kosrubrieke begin skryf wat op my webwerf verskyn.” Sy was oorstelp deur die nuus oor haar keuring vir die Kommadagga-slypskool: “Skryf is ’n eensame bedryf en dit is ontmoedigend om sonder leiding artikels uit te stuur en dan dikwels geen terugvoering te ontvang nie. Die kontak met ander skrywers is vir my goud werd. En om deur iemand soos Rachelle Greeff gementor te kan word, was nog altyd ’n droom. Maar hierdie keer gaan die droom waar word!” As kind het Anna-Karien die skrywer Jan Rabie geken en tydens ’n kuier by Rabie ook vlugtig vir Jakes Gerwel ontmoet. “Wat hierdie twee groot geeste gemeen gehad het, was ’n diep liefde vir Afrikaans.” Anna-Karien vertel van ’n skooltoer deur die Karoo waartydens sy en haar skoolmaats die Walter Battiss-museum in Somerset-Oos besoek het: “Oorkant die museum is Jakes Gerwel se pragtige ou huis en dit het ’n indruk op my gemaak toe ek dit die eerste keer sien. Ek voel bevoorreg dat hierdie brose skakels ’n soort sirkel kan vorm wat tydens die Kommadagga-slypskool voltooi gaan word.”