
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o, dis lente! Paulet Huis se tuin is die ene bloeisels. En dis daardie tyd van die jaar: ons gaan skole toe! Die bakkie lyk soos ’n dieretuin gelaai – Jakkals, Wolf, Skaap en Bok wag agter op die bak vir die Wela Kapela-teatergroep van Oos-Londen.
Die rooster vir die week is uitgedruk en voor op die paneelkissie geplak. Dis nie kinderspeletjies om in vyf dae by 14 skole en 3 000 kleintjies uit te kom nie. Drie vertonings per dag, maar die manne is nie bang nie. Hulle skrik nie vir werk nie. Watse werk, lag Xola Mziwakhe, alias Jakkals. Hy het nog nie een dag in sy lewe gewerk nie. Alles is pret en plesier. Ja, beaam Reggy Danster, met Uil en Kraai op sy skoot. Hy is die hoofman van die groep, die vaderfiguur wat homself ontferm oor die jonger spelers.
Die produksie – wat die Jakes Gerwel Stigting saam met die Suidoosterfees aanpak – is geskep deur Amanda Bothma, die hoof van Wela Kapela. Dis die volksverhaal van Jakkals en Wolf, of dan Udyakalashe no Mvolufu by die Xhosa-skole, wat Amanda ’n lekker paar kinkels gegee het! Jakkals is so slinks soos altyd, en tussen hom en Wolf (gespeel deur Sinovuyo Mbasane) is die arme Skaap (Alizwa Majelman) en Bok (Luthando Blandile) omtrent op hulle senuwees. Gelukkig is daar Katarina Kraai en die wyse Uil wat vrede in die Diereryk wil bewerkstellig. Tussendeur dans en sing ons. “Waka Waka! This time for Africa!” Die kinders skop sand op soos hulle lywe skud.
Oral wil die kleintjies aan Wolf se lang tone vat, en niemand kan die arme benoude Skaap se sagte wollyf weerstaan nie. Iewers raak ’n kleintjie aan die huil – Jakkals was darem hopeloos te naby aan haar. By een skool in Cookhouse bondel die kinders voor die saal, terwyl die akteurs agter ’n toe deur regmaak. Hulle is so uit hulle nate dat hulle eers vir Gilbert en toe sommer vir my wil optel en ronddra. Hulle ken ons mos nou al. Dis die ooms wat die boeke en die snaakse diere hier aanbring.
By al die skole is ons leeskamers nog netjies met boeke en matte. Hulle hou aan om te werk, fluister Lubabalwe Sijila, een van die leesassistente, terwyl die kwaai hond vir Jakkals verjaag. Al word jy nie meer betaal nie? Ja, knik hy. Vanaf einde April wag ons en die 40 leesassistente dat die kontrakte van die Social Employment Fund deur Citizen Connect vir ’n volgende siklus hernu word. Wat as dit nie gebeur nie? Ons maak planne, troos Nompumelelo, die projekbestuurder. Altyd.
Dis ’n fees op sy eie, saans in Paulet Huis, met Gilbert se kos, die gesels en die manne se musiek. Hulle is eintlik sangers; droom van groot dinge. Ek droom saam: volgende jaar kom hulle weer vir die kinders, en dan sing hulle sommer ook. Die dorp se mense is honger. Ons hou ’n fees vir die kinders, dis oukei, lag Reggy. Dis immers kinders wat die wêreld gaan verander.
Dis die laaste oggend, en die groep is vroeg uit die vere. Dis plaaspaaie ry vandag. Die laaste stop is Bracefield. Hoe dan anders? Dis hier waar alles vir die Gerwels begin het. Ek beplan om by die groep aan te sluit, maar ek moet eers deur dringende e-posse werk. Dan kom daar nog een deur: dis van die mense van Citizen Connect. Hulle wil vergader. Die kontrak vir ’n nuwe siklus is so pas bevestig. Die assistente het weer werk!
Ek dink skielik aan Katarina Kraai wat vir die diere preek: as julle alleen staan, knak julle maklik soos ’n stokkie. Maar as julle saamstaan, is julle sterk. Dankie tog vir al die saamstaners – die Suidoosterfees, die Social Employment Fund, Citizen Connect, die Jakes Gerwel Familietrust en die DG Murray Trust wat in ons glo.
Ek klap die rekenaar toe. Tot weersiens, my liewe Paulet. As ek opstaan en kyk na die swart-en-wit foto’s van die verlede (mens kan nooit ophou kyk nie), verbeel ek my prof. Jakes knipoog vir my.







