Paulet Huis skrywer publiseer debuutroman

Theolla Langenhoven, deelnemer van die 2020 Kommadagga Kortverhaalprojek en die 2024 Bosberg Boekskryfresidensie, se debuutroman, Soetroos van Saron het verlede maand by Kwela, Jonathan Ball Publishers verskyn. Ons het haar ’n paar vrae gestel oor haar skryfervaring:

1. Hoe voel dit vir jou om vir die eerste keer ’n roman te publiseer?

Wanneer ek Soetroos van Saron in my hande hou, besef ek ’n kinderdroom het waargeword. Die kind wie vir ure boeke kon lees, en dan later haar eie stories sou skryf. Wie op hoërskool die ouer leerders ’n R2 sou vra om hul opstelle te skryf (moet tog nie nou piemp nie). En wie nou ’n ma is en vir haar eie kinders kan wys: jou droom is geldig. Dit kan waar word.

2. Hoe het hierdie storie by jou opgedaag? Het jy ’n persoonlike verbintenis tot die dorp Saron?

Terwyl ek by Stellenbosch Universiteit werk, staan ek eendag onder ’n boom en die gedagte kom by my op: hoekom skryf ek nie ’n verhaal oor ’n student van Saron wie hier kom studeer, by mense met ou geld kom woon, en dan probeer hulle om haar by hul euweldade intrek nie? Ek bel ’n vriendin, en sy antwoord: “… that is what my uncle and aunt did when we were young. I only realised that when I was an adult.” Dít was my bevestiging, en toe daag ek myself uit om ’n roman te leer skryf.

Ons jeuggroep het gereeld kampe by die Saron Vakansieoord gehad, en sodoende het ons die dorp verken. Ons het ook deelgeneem aan programme met die destydse jeug daar. Toe ontmoet ek een van my beste vriendinne, wie oorspronklik van Saron is, en dit gee my die geleentheid om meermale daar in Kanaalstraat te kuier.

3. Hoekom is fiksie vir jou belangrik? Waarom skryf jy stories soos dié?

Wanneer ek kyk na mense in die bruingemeenskap waar ek betrokke is, lees mense nie graag nie. Veral nie jongmense wie vrylik internet- en sosiale mediatoegang het nie. Lees is nie ’n prioriteit nie. Ek hoop om deur my manier van skryf lig te werp op sosio-ekonomiese kwessies wat ons gemeenskappe en land pootjie. Hopelik sal een dit lees en besef ons mag wegbreek van die ‘oorerflike trauma’ en stap in ons doel op aarde. Nie net aanvaar dat dit wat ons voorouers gekniehalter het, noodwendig ook ons lot moet wees nie.

4. Wat is die moeilikste deel van ’n roman (en ook ’n misterieroman) skryf?

Eerstens, ek moes met hierdie geleentheid leer hoe om ’n roman te skryf. Ek het altyd van kortverhale gehou en het gedink dis waarop ek altyd sal fokus, so ek moes eers ’n kopskuif maak. Ek moes leer hoe om my tydslyn en spanningslyn saam te laat loop, maar ook nie deurmekaar te raak met die twee nie. Ook om nie onnodige ‘fluff’ by te voeg nie. Ja, ‘digress’ was een van my eerste en moeilikste lesse wat ek sou leer en léér het ek. Hehehe.

5. Wat het die bystand van die Jakes Gerwel Stigting met die skryf daarvan vir jou beteken?

Sonder die hulp van ’n mentor sou ek beslis nie ’n roman in die gegewe tydperk kon afhandel nie.

Die waarde van die mentorskap is oneindig baie, want aangesien ek nie tale studeer het nie moes ek soos ek leer skryf, die belangrikheid van die herskryfproses en redigering leer. Dis waar ek besef het dit gaan nie net oor die aanvanklike ‘storie in jou kop’ nie, want dit is eintlik net 10% van die proses.

Dit het ook my dissipline as skrywer getoets. Gaan ek die lesse van die mentor inneem? Gaan ek regtig tyd maak in my besige skedule om amper 60 000 woorde te skryf? Die navorsing te doen? Deur tye van sterftes van familielede steeds skryf? ’n Skryfprojek aanvat terwyl ek reeds werk en studeer?

Dit alles kon ek net doen met die tipe mentor wat ek in Suzette Myburgh gehad het. En die rustigheid wat die Paulet Huis vir my kon bied om gefokus te bly.


Die bekendstelling van Soetroos van Saron vind plaas op 23 Julie by Exclusive Books Tygervallei. RSVP hier: https://exclusivebooks.co.za/pages/events#?event-id=84846.

Ons is trots op jou, Theolla, en sien uit om hierdie storie saam met jou te vier!

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *