Die drie weke in die Paulethuis het my tyd en rus gegee om myself eindelik op skryf te kan fokus, en dit was toe ’n baie vrugbare periode; ek kon heelwat nuwe werk skryf en uitdink.
Maar dit was nie net die skryftyd wat so wonderlik was nie. Ons het as ’n groep skrywers dadelik baie maklik oor die weg gekom met mekaar, wat gemaak het dat die atmosfeer om in te werk uitstekend was.
Dan is die omgewing net fantasties. Ek het die Bosberg geklim, saam met Bibi Slippers, en ook die Saterdae dat ek daar was met Gilbert en later van die ander skrywers die Parkrun gedoen. Ek is so bly ek kon ’n bietjie die natuur en die omgewing ervaar. En dan was daar nog die trippie na die waterval.
Gilbert is ’n ander hoogtepunt; wat ’n gawe ou, so hartlik en baie gul en relaxed. En ʼn fantastiese kok, kannie glo dat hy drie maal per dag so baie en so baie lekker kos vir ons almal gemaak het nie. Hy, saam met Theo, was ʼn absolute treat.
Dit was absoluut ʼn heerlike tyd en ʼn belewenis wat ek koester. Die pragtige huis, die tuin, die Walter Battiss museum, die afsondering en die geselskap.
Ek het besluit om vanuit Kaapstad soontoe te ry, pleks van te vlieg, en ek dink daardie ervaring het ook bygedra tot die hele gevoel van natuurbelewing en wegwees. Ek was eendag byvoorbeeld Graaff-Reinet toe, maar het dus ook deur ’n plek soos Pearston gery – die kontras kan nie groter wees nie. Mens sien die mooi en die bevoorregte, en die hartseer en die armoede. Mens sien die toestand van die land eintlik baie skerper as in die groot stede.
Dit is fantasties dat die gemeenskap so betrek word by die huis en die stigting, en dat daar aktiwiteite georganiseer word om die bande sterk te hou. Theo en Gilbert kan dinge ook baie vinnig organize: ek het gedink dit sal dalk nice wees om ʼn aandjie te hou vir belangstellendes waarin die skrywers werk lees, saam met mense wat dalk ook skryf, uit die gemeenskap, die dorp, en dan ook húlle werk voordra. In no time was dié ding gereël, deur Theo en Gilbert, terwyl ek dit maar net as ʼn idee geopper het vir hulle iewers in die toekoms. Dit was ʼn baie lekker aand daai.
Dit was, kortom, drie weke waarin ek in baie opsigte intens geleef het – gesien, geproe, gedink, geruik.
Ek is “papa” Theo baie dankbaar vir die feit dat ek deel mag gewees het.




