Jy hoef deesdae net jou foon op te tel en iemand sal gereed wees om al jou probleme en kwale uit te sorteer, skryf Yuwinn Kraukamp. Kraukamp was ’n deelnemer aan die 2022 Kommadagga Kortverhaalprojek.
In hierdie selfhelp-kultuur kan ons almal pasiënt en geneser wees
Onthou jy ’n tyd toe jy net jou ma kon bel na ’n slegte dag? ’n Tyd toe daardie oproep die enigste geneesmiddel was wat jy nodig gehad het ná ’n lang, uitputtende week?
Sy sou na jou probleme luister, natuurlik voorstel dat jy gesonder eet en vir jou sê dat daardie persoon wat jou sleg behandel by die werk of in jou klas, nie jou tyd of energie werd is nie. Haar raad was eenvoudig, prakties, en het geen data of maandelikse subkripsies gekos nie.
Wel, daardie eenvoudige dae is verby. Vandag lewe ons in ’n era van kunsmatige intelligensie (KI) waar ’n span lewensafrigters en terapeute een knoppie weg is om jou te help met ’n vyfstap-plan wat waarborg om jou te help om al jou doelwitte en drome te bereik. Om jou te help om die gebroke chakra agter elke dwase besluit en elke hartseer wat jy ooit beleef het, op te spoor en reg te stel.
Welkom in 2026, waar elke persoon op jou foon ’n ekspert is oor jou persoonlike probleme, jou emosionele wonde en natuurlik weet hoe om jou te genees. Hoe om jou innerlike, beseerde kind te vertroos. en hoe om jou hoër self te openbaar.
As jy in die afgelope paar jaar ’n voet – of liewer ’n duim – op enige sosialemediaplatforms gesit het, dan weet Jy presies waarvan ek praat. As Jy dit waag om een kort video te kyk van Barack Obama wat ’n inspirerende toespraak lewer, of Maya Angelou wat ’n bietjie wysheid oordra tydens ’n onderhoud. dan gaan die algoritme dit opmerk en dadelik vir jou 500 soortgelyke video’s stuur van lewensafrigters en motiveringsprekers wat raad uitdeel oor gesonde verhoudings en slegte gewoontes. Oor hoe jy emosionele grense moet bou en jou senuweestelsel gereld moet reguleer. Jou foon sal vir weke oorstroom word met amateur-terapeute wat chroniese kwale by jou diagnoseer waarvan jy nog nooit eens gehoor het nie.
Dis soos om vagevang te wees in ’n eindelose groepterapiesessie en die enigste mediese kwalifikasies wat jy nodig het om ’n aanlyn sielkundige te wees, is jou mening en ’n slimfoon…
Die rubriek het eerste verskyn in Die Burger op 25 Julie en kan op Netwerk24 gevind word hier.