Ons wêreld verander voortdurend en die transformasies wat ons beleef, is onvermydelik, persoonlik en seisoenaal, van winter tot lente, hartverskeurende terugslae tot ongelooflike deurbrake.
Ons weet nie hoe of wie ons wêreld môre gaan verander nie of hoe ons self gaan verander wanneer daardie verskuiwing plaasvind. Al wat seker is, is dat iéts gaan verander.
Nie so lank gelede nie het ons die vryheid en luukse gehad om te kook net wanneer ons wil en ons toestelle eers te laai wanneer die batterye begin pap word, maar ook hierdie werklikheid het verander. En ons moes ook. Ons is nou mense wat ons pligte, kuiertjies en selfs werk moet beplan volgens die beskikbaarheid van elektrisiteit.
Maar ons is ook meer as net vlees en bloed. Ons is méns, ook saamgestel uit ervarings, wêreldbeskouings, liefdes en verliese, modes en ontdekkings. Daar is katalisators, soos die dag wanneer ons die krag van opvoeding besef of die sterflikheid van ons ouers, die wreedheid van ons medemens en die skoonheid van kuns.
Al daardie oomblikke smelt oor jare heen saam soos legkaartstukke om ’n lewe te vorm wat die moeite werd is om te onthou en te koester.