A place where stories unfold

Netwerk24: Die dag toe ek my skrik verloor het


Dit was ’n doodgewone dag toe ’n pêl my SMS. Sy het niks om te doen nie en nooi my uit om oor te kom vir ’n kuier met nachos en tuisgemaakte kaassous en ’n bottel vonkelwyn. Die bottel vonkel sit nog sedert Kersfees kiertsregop in die skas en elke keer as sy haar hand uitsteek na die lemoensap, roep hy haar. Mimosas!

Ons besluit om sommer tot laataand te kuier en dat ek by haar gaan oorslaap.

Ek maak worsrolletjies en skep ’n lekker groot stuk melktert in ’n bak, pak my goedjies in ’n sak en stap by die voorhek uit. My vriendin bly net so drie strate van my af, ek voel taamlik veilig en dis nog nie eens sterk skemer nie.

Omtrent 100 m van waar sy bly, sien ek hoe ’n ou met ’n kappietop wat laag oor sy oë getrek is opstaan van die randsteen en in my rigting draai. Teen dié tyd is die straatligte aan en die kinders wat netnou nog buite gespeel het, is klaar ingeroep.

Wat nou? Draai ek om en hardloop, hardloop hy beslis agterna. Gaan ek aan, vra hy dalk net vir R2 and off he goes.

Toe nie. Hy haal ’n geweer uit en druk die ding tussen my oë.

Wat nou? Sit ek my hande in die lug, dan val my Tupperware vol snoephappies op die grond. So ek bly staan, met die reuk van vars worsrolle wat tussen ons bly hang.

+ posts

Jodie Groener werk tans as ontvangsdame in Humansdorp, maar ’n ietwat “ambisieuse streep” maak dat sy nog die wêreld vol wil reis en baie wil skryf. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en was vir ’n rukkie ’n nuusleser op Kouga FM. Jodie skryf kortverhale en geniet dit ook om haar hand aan historiese fiksie en rubrieke te waag. In 2015 het sy nasionale kleure in die uitvoerende kunste verwerf en kort daarna het sy skerm as ’n sportsoort opgeneem. Ook hierin het sy tot op internasionale vlak uitgeblink en, hoewel sy dit vir ’n wyle moes staak as gevolg van befondsing, getuig haar prestasie van deursettingsvermoë in alles wat sy aanpak.

Jodie sê dat sy haar voorgeneem het om gemaklik te voel met wat ook al die uitkoms van haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool sou wees. “Maar toe die tyd aanbreek dat die organiseerders moes besluit wie vanjaar gekies sou word, was ek ’n senu-bol.”

Sy glo dat die slypskool nie net haar skryfwerk na ’n volgende vlak gaan neem nie, maar dat dit ook haar denke oor skrywerskap gaan verruim. “Woorde kan nie beskryf hoeveel die geleentheid vir my beteken nie. Dit gee my geweldige hoop.”

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *