“Ek het gevries. Dis wat trauma aan jou doen. Ek weet daardie kind gaan grootword en die persoon wat hy in die spieël sien, begin afkraak. Tensy hy hulp gaan soek, maar hoeveel mense doen dit? Ons hoop dis eintlik net “ ’n fase” wat hy sal ontgroei. Of iets wat hy later sal afmaak as “my grootwordjare”.
En dan word hy self ’n boelie of dit sit om in self-haat wat uitspeel in iets soos self-sabotasie. Soos in my geval: aanhoudende uitstel.
Die skole is nou weer oop. Iewers naby jou loop ’n kind elke oggend met swaar voete skool toe, want hy weet wat wag. Die enigste oplossing is om in te gryp as jou kind of die bure se kind geboelie word of self die boelie is. So ’n kind moet weet waar om hulp te kry.
Anders bly die ligte af. En dis ’n donker plek om in te bly.”
Jodie Groener werk tans as ontvangsdame in Humansdorp, maar ’n ietwat “ambisieuse streep” maak dat sy nog die wêreld vol wil reis en baie wil skryf. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en was vir ’n rukkie ’n nuusleser op Kouga FM. Jodie skryf kortverhale en geniet dit ook om haar hand aan historiese fiksie en rubrieke te waag. In 2015 het sy nasionale kleure in die uitvoerende kunste verwerf en kort daarna het sy skerm as ’n sportsoort opgeneem. Ook hierin het sy tot op internasionale vlak uitgeblink en, hoewel sy dit vir ’n wyle moes staak as gevolg van befondsing, getuig haar prestasie van deursettingsvermoë in alles wat sy aanpak.
Jodie sê dat sy haar voorgeneem het om gemaklik te voel met wat ook al die uitkoms van haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool sou wees. “Maar toe die tyd aanbreek dat die organiseerders moes besluit wie vanjaar gekies sou word, was ek ’n senu-bol.”
Sy glo dat die slypskool nie net haar skryfwerk na ’n volgende vlak gaan neem nie, maar dat dit ook haar denke oor skrywerskap gaan verruim. “Woorde kan nie beskryf hoeveel die geleentheid vir my beteken nie. Dit gee my geweldige hoop.”