A place where stories unfold

Die son op Seeblou

Deel 1 van hierdie kortverhaal

Clarissa staan by die kitchen sink en dagdroom.  Met hande vol skuim was sy teen ‘n slakke pas die laaste pan. Haar oë dwaal oor die agtertuin, toe Asha al langs die heining gehardloop kom. Rugsak skeef en skoolkouse laag op die enkels. Sy gooi die hekkie oop en so ook haar rugsak op die grond.

“Rissa, kom gou. Hulle’t hom gegryp. Vi boeta.”, Asha se voet steek vas in die lang gras van die tuin. Sy val en land met oop hande en knieë op die sementblad voor die kitchen deur.

Clarissa draai om en met twee lang tree is sy by die oop deur. “Asha, hoekom lyk jy so? En vir wat hardl… Sê wee?”

“Ou eina. Ons was net uit by’ie hek toe stop da ‘n van. Almal het net gekyk.” Hoes Asha die woorde uit. Sy kyk op na waar Clarissa op die trappe staan en hande afvee aan ‘n verbleikte rok.

“Clarissa, hoor djy wat ek sê?”, roep Asha uit. “Hy’s gevat deu ouens in ‘n van.”

Dis asof sy tóé eers hoor wat haar suster al van die hek skree. Sy lig haar rok se soom op om nie by die trap te val nie en tel vir Asha aan die collar op. Hulle hardloop pad af tot by die skool. Asha, met knieë wat bloei, hardloop voor. Sy kyk om en sien hoe haar groot suster val in die stof.

“Bleddie rok.”

Vloek Asha ‘n skoot en draai om haar suster te help. Clarissa was nog altyd lomp. Met of sonder ‘n lang rok om haar te potjie.

Sy kom net orent en ‘n wit bakkie briek langs hulle. “Kom, klim julle.”

“Juffrou?”, vra Clarissa. “Gaan ons skool toe?”

“Ja, klim nou in. Meneer Godfrey het klaar die polisie gebel. Ons gaan vir hulle by die skool wag.”

Bloedig beskryf nie die hitte van die dag nie. Droog. Jou tong sit aan die verhemelte vas. En niks gaan help tot daar nie ‘n wolk breek nie.  Dit gaan so vir die afgelope twee jaar. Die munisipaliteit stuur gereeld lorries uit met water. As hulle ‘n probleem ondervind, moet die gemeenskap maar die vuil water uit die krane drink. Kom glo van ‘n boorgat hier naby.

Skoliere en hul ouers staan saam by die groothek. Onderwysers probeer almal kalm hou, maar elkeen het iets te sê. Meneer Godfrey staan nader en die paniek raak stil.

“Het iemand al die kind se mense laat weet?” vra een ma.

“Wie is die liewe kind? Meneer is die hoof. Meneer moet weet.”

“In die heldere dag! Die Here moet ons spaar. Niks soos dié het ons al oorgekom nie.” roep ‘n mansstem uit.

“Goed mense. Die plaaslike polisie is ontbied en die seunskind se klasonderwyseres het na sy huis gejaag. Hulle is oppad hierheen. So, ek vra dat almal nou terugstaan van die hek en asseblief stadig aan huiswaarts beweeg. Vir nou sal ek voorstel u hou u kinders binnenshuis en onder oë totdat ons weet waarmee ons te doen het hier. Dis Vrydag, maar sover gaan skool soos normaal voort vanaf Maandag. Dankie.”

Juffrou Pieters, Benjamin se juffrou, trek met ‘n spoed by die skool se hek in en parkeer so na moontlik aan die administrasie – blok.

Clarissa en Asha klim by een deur uit en is by die hek voor juffrou Pieters kan keer.

“Clarissa, Asha dis nie beste om nou tussen al die mense uit te gaan nie,” roep sy agter hulle.

“Watte’ kant toe is hulle, het julle gesien? Benji! Benjamin!” Clarissa se knieë gee mee. Asha staan oudergewoonte nader en haak haar in. Meneer Godfrey help ook. Sy lippe is asvaal van die droog. Of skok, wie weet.

Binne die koel personeelkamer, sit die twee susters en juffrou Pieters langs ‘n lang tafel. Dit ruik muf. In ‘n  hoek agter die deur is ‘n waterfilter en dié drup-drup. Clarissa kyk dit stip aan, maar spring behoorlik uit haar stoel toe Meneer Godfrey die deur ooploop met drie polisiebeamptes agter hom. Een het ‘n duif-gruis pak aan. Die ander twee mans staan op aandag in blou geklee.

“Sê my julle weet iets. Hulle kon toggie ver kom nie,” beveel Clarissa. Haar gesig opgepof van die huil.

“Mejuffrou, dankie vir die geduld. Ons was eers voor besig. Ek en my geleerde kollegas het die kring televisie van vandag en so ver moontlik terug beslag gelê. My forensiese mense spring dadelik met die ontleding weg.

Ons kon wel vasstel die maak en model van die motor waarmee die verdagtes vir ene Benjamin Draai ontvoer het. Julle broer, nie reg?

“Ja,” laat hoor Clarissa en Asha sag.

“Ek gaan u vrae vra en jy of julle moet dit so eerlik en akkuraat as moontlik antwoord. Reg?”

Die twee susters skud hul kop soos een man. Juffrou Pieters maak haar keel skoon en vra of haar teenwoordigheid nodig is vir dit.

“Nee Juffrou, jy mag jouself verskoon. Gaan saam met my sersant en konstabel en lê jou verklaring af. Reg. Eerstens, word gemaklik. Water, enigeen?” Weer skud hul koppe met ‘n nee aksie.

Toe die drie sitkry, lui die ondersoekbeampte se selfoon. Met sy wysvinger beduie hy ‘n minuut. “Ja? Praat met my… Niemand? K-9 en Forensies, nou! Ek is nog by die skool, maar hou my op hoogte.”

“Jy’t my boeta gekry?” vra Asha half gelig uit haar sitplek.

“Ek is jammer. Nog nie. Net ‘n verlate motor met dieselfde beskruiwing as die een wat Benjamin hier weg het.” “Hoekom vat dit julle so lank? Dis al amper vyfuur. Die skool is een uur uit. Hy kom al verder en verder weg met my..my broer!” sê Clarissa.

“Jou wat? Jy wou iets anders sê, juffrou. Nou is nie die tyd om goed van my weg te hou nie. En hy? Volgens ooggetuies was dit twee mans. Nie net een persoon nie. Onthou eerlik en akkuraat…

Jy sê nou wat jy weet anders sit ons tot vannag hier.

Storie duur volgende week voort

+ posts

Jodie Groener werk tans as ontvangsdame in Humansdorp, maar ’n ietwat “ambisieuse streep” maak dat sy nog die wêreld vol wil reis en baie wil skryf. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en was vir ’n rukkie ’n nuusleser op Kouga FM. Jodie skryf kortverhale en geniet dit ook om haar hand aan historiese fiksie en rubrieke te waag. In 2015 het sy nasionale kleure in die uitvoerende kunste verwerf en kort daarna het sy skerm as ’n sportsoort opgeneem. Ook hierin het sy tot op internasionale vlak uitgeblink en, hoewel sy dit vir ’n wyle moes staak as gevolg van befondsing, getuig haar prestasie van deursettingsvermoë in alles wat sy aanpak.

Jodie sê dat sy haar voorgeneem het om gemaklik te voel met wat ook al die uitkoms van haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool sou wees. “Maar toe die tyd aanbreek dat die organiseerders moes besluit wie vanjaar gekies sou word, was ek ’n senu-bol.”

Sy glo dat die slypskool nie net haar skryfwerk na ’n volgende vlak gaan neem nie, maar dat dit ook haar denke oor skrywerskap gaan verruim. “Woorde kan nie beskryf hoeveel die geleentheid vir my beteken nie. Dit gee my geweldige hoop.”

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *