A place where stories unfold

Die Sommelier van Boeta Jakes se Smokkelhuis

Die storie wat ek nou sny kô van eendag lank geleide innie eighties oppe smokkeldjaart innie Elsies. In daai tyd was daa nie resturante vi ôs mense nie soe djy het maa gelee van wyn innie smokkelhuis. Daa wassie van glass-of-tipple of vintage nie, net flagon die en seskan daai. Wat nog te sê van waiters en wine stewards. 

Maa in Boeta Jakes se smokkie waasit ‘n heel anne storie. Ek sit een Sarag mettie paa brasse omme kis Carlings oppie djaart toe Oupa Djapie, die neighbourhood alkie, skielik vannie tiep opspring.

“Oem Tas!”

Oppai exact moment sweef daa ‘n bra innie swart broek en wit hemp soes ‘n apostoliek priest na hom toe. Ek skrik en vestik ampe soes ek my bier afgorrel. 

“Wat en wie de fok is daai?” vra ek die bra langs my.

“Isse wine steward,” se die bra, “Boeta Jakes raak nou stylish en likes sie ôs moet hulle counterboys noemie.”

Die wine steward doen toe iets wat ek nog nooit in my hele se liewe gesien hettie. Hy sit ‘n skoon daisy print glas saggies nee oppie tamatiekissie voo Oupa Djapie, buig vorentoe mette butler style, en met sy links hand onne rie borrel Oem Tas, skink hy ‘n tiende vannie glas vol wyn. Boeta Djapie lyk confused.

“Sommelier Koos Jansen tot u diens. Vir u plesier, Oom Tas – n pikante tafelwyn met ‘n volronde waterlemoenskil neus welgebelanseerd afgerond met mostrapsel geure – 1981 vintage, ‘n goeie jaar.”

Oupa Djapie gorrel die kleine bietjie wyn en gryp wild na die bottel. Sommelier Koos hou sy pose en skink die glas stadig vol. Hy staan terug en Oupa Djapie down die glas. En soe gat die slow dance aan tot die bottle klaa is. 

“Nie fok, soe kan ‘n mens mos nooit gesuip raakie!” skrie Oupa Djapie en storm vannie djaard af.

Toe kry ek skielik ‘n kwaai gedagte. Osse kis is ampe op en ek is sieke Riekie het mee glasse as ôs gedrink. ‘n Man loose mos soms track naarie twiede kis bier. Die Sommelier ding is mos ‘n befokte gedagte. Soe kan ôs mos vi Riekie curb en somma same time mee leer vannie artistic virtues van Carling Black Label. 

“Nogge kis Carlings Sommelier,” roep ek.

“Jammer my dienste is net beskikbaar vir wyndrinkers.” Die sommelier trek sy neus op loop verby.

Fokken wynsnob, hom kom kitegat hou met my. Ek gat hom heeldag hie by ôs laat staan.

“Ok, een seskan Virginia, Januarie 1981 vintage asseblief.”

+ posts

Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *