Ken djy vi Mossienes? Die timers vannie Elsies ennie Tiervlei raak stil as daa van hom gepraat word. Die wat hom gesien het is blind en die wat hom gehoor het is doof.
Mossienes was ‘n gentilmin ouroeker inne swart pencil-stripe 3-piece suit getailor uit ‘n Worcester-lappie mette 5-star okapi vas ge-goldchain aannie onnerste knoep van sy onnebaadjie. As Mossienes affie grêwelpad loep innie twaalfdelaan en hy kô kry enemy manskappe wydbien voo hom staan dan kap hy fullforce vas en dril sy pepsi Crockett en Jones innie grêwel lattie stof soes wolke staan. Hulle sê assie enemy manskappe die up khoeza en hom rush dan sien niemand fokol en al wat djy hoor is die getjank van sy enemies. Assie stofwolk vedwyn dan lê rie enemy manskappe zalties inne grêwel met olielekke. En Mossienes? Hulle sê hy vedwyn mettie stof sonne Crockett en Jones spore!
Maa daais nog fokollie! Hulle se lat Mossienes rol met sy eie force of gravity. Daai force of gravity is soe swaa lat die ghoeste se klere alles afval as hy verby hulle gly. Hulle val somma sametime vlou vannie hot flushes as hulle try om in sy oë te kyk. Hulle se daa het al ghoeste nêrra mettie lyf geraak toe hulle by eksidint tien hom loep!
Maa Mossienes was oek ‘n bemesterende ouroeker! Hy wassie soes Georgie Golding vannie Tiervlei wat die tou gekry het toe daai turfie Fenie vannie Elsies hom mang nie. Hy wassie soes Mafeets vannie Tiervlei wat ‘n long gekry het toerie TB hom mang nie. Hy was oekie soes daai moegoe ringkop vannie Lover Boys vannie Uitsig wat bekeer geraakit toerie Bybel hom mang nie. Hy het nooit vir fokol gemang nie!
Soe wie was Mossienes nou eintlik? Die wat hom gesien het is blind en die wat hom gehoor het is doof. En die wat hom rêrag geken het? Wel, hulle het vandag almal Alzheimer’s, ennie ghoeste wat gevallit vi sy force of gravity soek nou nog hulle papgeld.
Jeremy vannie Elsies
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.