A place where stories unfold

SOESOA EN DIE DAGGAROKERS VAN HOLLAND

Die land aan wie Soesoa van die Chainokwa in die sewentiende eeu behoort het, het geleef vanaf die Breederivier in die weste al langs die Sonderendrivier na die ooste tot by ‘n somerkraal by die Palmietriviermond. Hulle handelsroetes het gestrek tot by die Hanoemkwa van die Grootvisrivier wie hulle van dagga voorsien het, tot noord van die Senqu en Gariep riviere waar hulle metaal goedere bekom het. Met hul vaste vestigings, deurlopend gevoed deur vrugbare valleigrond, kon die Chainokwa dus ‘n volhoubare pastorale bestaan voer sonder om rond te trek opsoek na nuwe land om aan te hoort.

So watse goed isse die van Autshumao en sy groep bleekmans om hom hier op sy oudag op ‘n bloedwarm sommersdag in 1660 by sy aftreekraal te kom pla. Gelukkig het sy verkenners hulle al vyf dae lank sien aankom, genoeg tyd vir sy seun Goeboe en sy krygers vanaf hul Botrivierkraal om hier te kom stelling ineem. Soesoa rus met sy rug teen ‘n rots met koel teekleur rivierwater wat strelend laaf terwyl Autshumao en sy trop rooigebrande bleekmans sweetnat oor die skroeiwarm sandbank in sy rigting aansloer. 

“Die sonbesies sing darem baie mooi vir hulle vandag,” skerts Soesoa met Goeboe wie vanop sy wit langhoringos sy krygers beveel om die rooimans te visinteer. Autshumao weet mos van beter, dink Soesoa, hoekom het hy nie die rooimans met skaap- of wildsvet laat uitsmeer om hul vel teen die son en wind te beskerm nie. Goed dan, miskien blink die skaapvet van rykdom nie aldag op hulle velle nie. Maar waar is die beeste wat wys hoe ryk hulle is? 

En watse klere dra hulle in hierdie weer? Leerjasse oor ‘n volle borstuk met langbroeke en toeskoene? Kon Autshumao hulle nie reg aangetrek het nie; ‘n wildekat- of dassievel karos met renostervel sandale sou meer praktiese wees. Nietemin, tyd om van Autshumao te hoor waaroor hierdie storie eintlik gaan.

Hy rys statig uit die water, trek sy renostervel sandale sorgvuldig aan, en loop hom droog tot by Goeboe. Hier sit die rooimans in die warm sand in ‘n sirkel voor Goeboe se os, onder assegaaipunt bewaking deur parate krygers. Vir wat snik van hulle dan nou so ongemaklik na hul asem? O dis dit, gryns Soesoa, en trek sy leiersgewaad aan, ‘n luiperdvel karos en leertas om die nek. 

Hy en Autshumao sit gehurk voor die groep en die gesels begin. Dié gee hom eers ‘n knoes dagga om te kou en doen dan ‘n baie ongewone ding. Autshumao  sit sy dagga in ‘n houtpyp, steek dit aan die brand, en begin die rook uit die pyp suig. Hy verduidelik dat hy dit by die Hollanders geleer het, blykbaar verkies dié om boom te rook en nie kou of drink nie. 

Autshumao vertel hom van Van Riebeeck, die Hollanders se leier, wie dringend beeste soek. As voorsmaak, ‘n geskenk van rooi krale, koper, staafyster, byle en brandewyn met vooruitsigte van veel meer. Nie dat hy juis nou hierdie goed nodig het nie, maar Van Riebeeck het dan nou soeveel moeite gemaak om hom na sy fort in Tafelbaai te nooi. So afgespreek, hy sal die uitnodiging met die ander kraalleiers bespreek. En as hulle instem, die fort besoek, al blyk die Hollanders maar bra arm sonder beeste te wees. 

Nadat Autshumao en sy Hollanders vertrek, sit Soesoa en Goeboe met die ander kraalleiers kring. Hulle stem in dat hy te oskaravaan met Goeboe se vrou, ‘n groep krygers, en ‘n paar vee die fort moet besoek. Maar hy sal eers met Dohra van die Hessekwa, Oedasoa van die Kochokwa, Choro van die Gorahoukwa, en Gogosoa van die Goringhaikona moet praat. Hulle hét glo al met hierdie Van Riebeeck en sy Hollanders te doen gehad.  

Maar die dat hulle geneeskruid soos dagga rook, en glo dat land aan hulle kan behoort is ‘n vreemde ding. Miskien is daar meer tot hierdie mense wie blyk aan die see te behoort. Maar vir nou, kom ons help hulle eers uit hul armoede.

+ posts

Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *