Eendag was daa ‘n stuksnyer wat ge-wie in plaas van ge-wat het. “Dis nie hy wie nie, maar hy wat!”, maan die stoere grammatikore. Maa dié stuksnyer willie gehoorit tie. Toe stuur hulle die taalfariseërs vannie ivoortempel om hom te vang.
Hy wôd verhoor innie Hof van Taalkundige Skynheiligheid ennie Onnemagistraat lies sie klagstaat virrie Boemagistraat voo.
Hier voor ons staan die taalgedrog Jeremy vannie Elsies, ‘n vieslike heteroglossienaar wat knersend ge-wie in plaas van ge-wat het. Deur sy eiesoortige Afrikaaps, pleeg hy alewig met opset taalsondes teen die grammatikale gebooie en spelkanonieke van standaard Afrikaans en Engels.
Taalsonde 1 : Die morfologiese inbedding van Engelse ontlenings:
Hy besoedel die taal met wanwoorde soos ge-organise, ge-try, ens.
Taalsonde 2: Dupliseering van meervoudsvorme:
Hy praat van ouense in plaas van ouens.
Taalsonde 3: Byvoeging van ‘n vergelykingssuffiks:
Hy sê bietere, langere en vinnagere in plaas van beter, langer en vinniger.
Taalsonde 4: Verbuiging van byvoeglike naamwoorde:
Hy gebruik arme, warme en stoute in plaas van arm, warm en stout.
Taalsonde 5: Gebruik van die bepaalde lidwoord voor plekname:
Hy sê innie Tiervlei, oppie Parowstasie, vannie Elsies, ens.
Taalsonde 6: Gebruik van die besitlike voornaamwoord onse in plaas van ons in die attributiewe posisie:
Hy praat van onse mense, onse goeters, onse land, ens.
Taalsonde 7: Epentese:
Pampier in plaas van papier, oepeslaan in plaas van oopslaan, ens.
Taalsonde 8: Ontronding:
Hiening en sienings in plaas van heuning en senings.
Taalsonde 9: Rotasering:
Byrie, mirrag, skuire, sôg, ens., in plaas van by die, middag, skuite, sorg, ens.
En hier kom die allegrote Taalsonde 10 edelagbare.
Soveel so dat dit nie meer galmend gestel kan word soos volg nie.
Homorgane eindklustervereenvoudiging by Afrikaanse soewel as Engelse leksikale items:
Mon, spen en gel, ens., in plaas van mond, spend, en geld, ens.
Die boemagistraat beginte hyperventilate vannIe befok raak. Die skuim borrel deu sy stywe lippe en sy poephol knyp toe. Hy skrie – “WAT PLEIT JY JEREMY VEAREY, JOU VERWRONGE AFRIKAANSVATTER VAN DIE KAAPSEVLAKTES?!”
“Lobotomise his left frontal lobe! Bleach his Broca’s area!”, jou die Engelse puriste.
“Ontwoord die Raka!”, skel die Afrikaanse boenks.
Jeremy vannie Elsies spring orent. Hy hap deur sy Woordeboek van die Afrikaanse Taal-muilband en breek sy Afrikaanse Woordelys & Spelreëls-boeie. Die boenks en puriste skarrel verskrik buite hoorbare afstand.
In dié Hof van Taalkundige Skynheiligheid is daar geen voorspraak vir hom nie. Nou nie juis omdat hy die jurisdiksie van hierdie boendoehof erken nie, maar, te wille van ons ware taalerfnis, sal hy maar homself hier self moet verwoord en verbeeld.
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.