A place where stories unfold

AFRIKAANS, MY REWOLUSIONÊRE TAAL

Daar was ‘n tyd in die vroeë 1980’s in my studentjare by UWK toe Afrikaans meer radikaal as rewolusionêre omgangstaal, as Engels was.

Jy kon in ‘n massavergadering gemaklik van die inkrimpende dwangbuis bestel van Apartheid dwingelandy praat en dit sou nie net aanvaarbare slagspreuktaal wees nie, maar ook toejuigend ge-viva word. Dit was ‘n tyd van growe anglisismes deur ‘n minderheid van engelsdenkende studentaktiviste wie maar genoop was om te praat van ‘n “staat van emergensie” en “violente resistansie” om gehoor te word.

Die ‘Kommuniste-Manifes’ was in Afrikaans in sekere geheime leserskringe beskikbaar, en daar was kontekstueel gepas daaruit aangehaal soos die geval met dié se tweede openings paragraaf: “Watter opposisieparty is nie deur sy regerende teenstanders vir Kommunisties uitgeskel nie, en watter opposisieparty het die skandelike verwyt van Kommunisme teen die nog verder gaande opposisieparty sowel as sy reaksionêre teenstanders nie teruggeslinger nie?”

[DIE KOMMUNISTE-MANIFES ; 1937 vertaling deur Dr Jean van der Poel, Helene en Jacques Malan, redakteur van die radikale TREK joernaal in die 1930’s]

Afrikaans, ons taal, was toe ‘n taal van radikale slagspreuke en rewolusionêre diskoers. Dit was die taal waarin ons oor ons toekoms kon teoretiseer en dielekties besin. Dit was die taal van UWK se rewolusionêre voorhoede en die militante massas. Dit was alomvattend ons taalrigsnoer in vooruitstrewendswese. Afrikaans my taal, ons taal van ‘n bevryde toekoms.

Ons het by die UWK van my studentjare Afrikaans in gemeenskaplike belang van die groter ons toegeëien. En dit is waar die Universiteit Stellenbosch (US) konvokasie debat miskien in huidige openbare redetwis ontbreek. Anders, bly die volgende kwelvraag uit die Kommuniste-Manifes onheilspellend, in die UK neweliberale konteks, ironies steeds vanpas :

“En is u opvoeding dan nie ook deur die maatskappy bepaal nie, deur die maatskaplike toestande waarin u opvoed, deur die direkte of indirekte ingryping van die maatskappy, deur middel van die skole, ens., nie?”

+ posts

Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *