In die 6de uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrrikaanse Taal (HAT), word die woord fokken grammatikaal vereer as byvoeglike naamwoord, bywoord en woordeel. Maar sy betekenis word hier leksikaal beperk tot ‘n blote versterkingsvorm van dit wat deur omringende woorde genoem word. So fokken het hier geen onafhanklike of veelsinnige betekenis status nie. En dit is fokken onaanvaarbaar! Asof dit nie genoeg was dat Kaapse liberale Afrikaners, in teenstelling met hulle Gauteng en Vrystaat genote, hierdie woord ontman het na die verwyfde flippen!
Maar moenie nou gaan staan en fokken hoop verloor nie. Daar is iets te beredder om onse fokken, weer tot sy regmatige veelsinnige status te op te hef. En die antwoord lê in ‘n epifaniese oomblik wat ek vanoggend by die kruising van Eppinglaan en Haltweg in Elsies Rivier oppad na die slaghuis beleef het. In ‘n tipiese Landrover Defender oomblik van onbedoelde padvarkigheid wissel ek te vinning bane nadat ek my vlikkerlig aangeskakel het. ‘n Parmantige Toyota Conquest met ‘n kloosterkoek middeljarige onderwyseres jaag van agter my uit en kom staan lynreg langs my in die ander baan voor die verkeersligte. Haar vinger swaai soos PW Botha s’n rond terwyl sy briesend skree – “Djy moet ophou met jou trok so fokken kak ry! Het djy jou license by Pick en Pay gekoep!”. Ek wil hier leksikaal vertoef vir ‘n oomblik want fokken gaan nou in haar hele uiting baie meer veelsinnig word. In hierdie eerste uiting is fokken die oortreffende trap van die alreeds vergrotende trap “kak”, met ander woorde, kontekstueel die sterkste vorm van dié trappe van vergelyking. Sy onafhanklike woordkragtigheid is dus hier voordiehandliggend.
Maar haar uiting stop nie daar nie en sy breek onmiddelik uit met ‘n hartstogtelike lag en sê – “My jirre Jeremy! Dis mos fokken djy. Wat maak djy innie Elsies?”. Soos duidelik hier, word fokken nou as ‘n troetelwoord gebruik. Maar dit verander onmiddelik in konteks to die minibus taxibestuurder agter haar ongeduldig sy toeter blaas. “Hou jou fokken in!” – skel sy en PW-Botha-vingerwys in sy rigting. Nou die gebruik van fokken hier is te kompleks om volwaardig in al sy omgangskontekste te verduidelik. Maar wat ek wel uit persoonlike eervaring weet, is dat dié gesegde in Elsies Rivier veral deur die vroue gebruik word om mans te waarsku dat hulle wellustigheid nie op daardie oomblik welkom is nie.
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was ’n lid van MK en ’n lyfwag vir oud-president Nelson Mandela. Hy is ’n vorige majoor-generaal in die SAPD en was tot onlangs adjunk-provinsiale-kommisaris in die Wes-Kaap SAPD. Vearey se biografie Jeremy vannie Elsies het in 2018 by Tafelberg verskyn. Sy book Into Dark Water: A Police Memoir (Tafelberg 2021) is benoem op die 2022 Sunday Times Literary Awards langlys.