“Moerstaal bekyk oorsprong: geskiedenis, erfenis en taal vloei saam. Loit Sols skryf oor sy voorsate, die Eerste Inhemse mense aan die suidpunt van Afrika. Nie net die inhoud van sy gedigte nie, maar ook sy woordeskat en skryfwyse word deur die erfenis verryk. So klink Loit se “skryf-stills” op in ‘n betreuring van verlies, maar ook in ‘n strewe na behoud.”

Loit Sôls is ’n veelsydige visuele kunstenaar, musikant en digter. Hy is die skrywer van die digbundels My straat en anne praat-poems(1998) en Die Faraway Klanke vanne Hadeda(2006) asook, onder andere, die album Serious Kak-praat (2004). Hy het musiekoptredes in verskeie lande buiten Suid-Afrika op sy kerfstok, byvoorbeeld, Nederland, Engeland, Indonesië en Botswana. Van sy gedigte is in ’n aantal bloemlesings opgeneem en ook in ander tale vertaal. Hy is genooi om in 1999 in Nederland aan die Winternachten-poësiefees deel te neem en in 2001 aan die Jakarta International Poetry Reading in Indonesië. In 2021 behaal hy ’n MA in Kreatiewe Skryfkuns aan Rhodes Universiteit.
