A place where stories unfold

Aansoeke verwelkom: Dialoogprogram vir skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika

Die Jakes Gerwel Stigting nooi graag alle skrywers (opkomend of gevestig) van alle genre’s uit om aansoek te doen vir ‘n residensie wat vanaf 27 Februarie tot 13 Maart 2023 by Paulet Huis op Somerset-Oos aangebied word. Hierdie program word in samewerking met die Passa Porta internasionale skrywershuis in Brussel aangebied en het ten doel om skrywers van verskillende kontinente byeen te bring.

 
Suksesvolle plaaslike aansoekers sal die Dialoogprogram vir Skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika 2023 residensie saam met Belgiese skrywers Tom Naegels and Neske Beks, meemaak.
 
As jy wil deel wees van hierdie opwindende samewerking, waarvan alle kostes gedek word, stuur asseblief jou voorlegging aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 16 Januarie 2023.

Neske Beks (1972) is ’n skrywer en kunstenaar wat met vaardigheid verskeie kunsvorme kombineer. Haar debuutfilm Eigen Volk (2011) weef elemente van teater, gesproke woordkuns, sang, fiksie en niefiksie saam in ʼn geslaagde en treffende geheel. In 2014 debuteer sy met die roman De Kleenex Kronieken, ʼn humoristiese kroniek van die gebeure binne ʼn familie en ook binne ʼn dorp. Sedertdien het sy tekste in verskeie bundels, onder meer Zwart (2018), gepubliseer. By die uitgewer Querido het haar kinderboek Sala en Monk – Ons Samen in 2020 verskyn, asook die bundel essays genaamd Echo in 2021. Sy dien op verskeie literêre, film- en teaterpanele en het reeds internasionaal pryse verower vir haar teater- en filmwerk. Sy is ook stigter en direkteur van Alphabet Street, ʼn gilde vir swart skrywers, asook van Tank, ʼn redaksie- en dinktenk van kleur. In 2022 word sy ingehuldig as lewenslange lid van die Nederlandse Akademie van Kuns. Sy werk tans aan verskeie projekte waar sy haar kunstenaarskap met heling kombineer.
Tydens haar residensie in Paulet Huis sal sy werk aan haar nuutste roman en ʼn multidissiplinêre projek oor kulturele toe-eiening.

Neske Beks

Tom Naegels (1975) is ʼn skrywer en joernalis waarvan die joernalistieke bydraes, rubrieke en meningstukke gereeld in De Standaard verskyn. Hy was tussen 2011 en 2016 ook die nuus-ombudsman. In 1997 word hy vir die eerste keer op literêre gebied opgemerk met die verskyning van sy kortverhaalbundel Het heelal in! Vijf stukjes van de kosmos. In 2005 verskyn sy eerste roman Los wat tegelykertyd ʼn liefdesverhaal en ʼn skets van die stad Antwerpen se maatskaplike probleme is. Die roman is met die Seghers Literatuurprys bekroon en was in 2006 op die langlys van die Libris Literatuurprys. Die boek is in 2008 deur Jan Verheyen vir film verwerk. Nadat hy vir ses jaar navorsing gedoen het, het hy in 2021 Nieuw België, een migratiegeschiedenis oor die Belgiese migrasiebeleid na die Tweede Wêreldoorlog gepubliseer. Hiervoor het hy in 2022 die heel eerste Belangrikste Boek van die Jaar-prys vir niefiksie in België verower.
Tydens sy residensie in Paulet Huis sal hy aan sy volgende historiese boek werk.

Tom Naegels

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Aansoeke verwelkom: Dialoogprogram vir skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika”