Terugblik op Tweede Boekskrywers-residensie | Audrey Jantjies

Ek is ’n werksvrou. Dit maak my een van miljoene. Ek moet werk om kos op die tafel te sit, om te kan oorleef.

Hierdie survival mode maak dat mens jouself, jou inner being afskeep. Die een wie jy werklik is. Jy wikkel en weeg tussen every day life wat jy moet prioritiseer. Op die ou end is jy byna zombie-agtig. En dit is ’n daaglikse stryd om nie daai deel van jou wat jou behoud definieër, die één deel van jou wese wat jou mens maak, agter te laat in die stryd om oorlewing nie.

Die Jakes Gerwel Stigting en die Jannie Mouton Stigting se Oude Leeskamer op Stellenbosch se tweede boekskrywers-residensie se tydsberekening was perfek. Dit het vir my kom haal uit daai rut.

Ek het vroegmiddag in Stellenbosch aangekom.

Ek was lieflik verwelkom. ’n Lekkergoedmandjie, ’n mooi briefie wat my nog meer tuis laat voel het. Die skrywerswoonstel is ’n haven. Alles wat jy nodig het om jou vir dae lank aan die samelewing te onttrek en net alleen met jou gedagtes. In ’n gedagte, met ’n gedagte, deur ’n gedagte. Hemels.

Ek het die dakvenster oop gelos saans sodat ek kon slaap met die oop hemelruim met die sterre wat met my visie en uiteindelik my gees, my siel kon poppehuisie speel. Ek is die kind, die maan my pa, die naghemel my ma en die sterre my maatjies.

Deur die dag het ons gewerk. Ek en Suzette. Kompleet met horlosie, beskuit en tea breaks tussen in. Sy verraas my tussenin oor my gedagtes wat wegdwaal. Sy is kwaai, maar sy is die beste mentor ooit. Ons kry baie gedoen. Baie meer as wat ek sou, as ek nié op hierdie program was nie. In samewerking met Suzette herontdek ek my inner self. En ek skryf oor dinge wat nog altyd vir my moeilik was om te verwoord op papier, want die temas raak aan daai dele wat mens liewers nie wil herleef nie, maar wat jy een of ander tyd moet face.

Die morbiditeit van skryf oor jou diepste denke, herinneringe en empatiese meelewing van iemand anders se gesigsuitdrukking op ’n spesifieke tydstip soms, of self net ’n verroeste graaf by iemand se begrafnis, is deur die lieflikste siele omskep in vrolikheid. Caren, Klara, Dèlani. Die tuinman, wie se naam ek vergeet het maar wat sy drome met my gedeel het in my vyf minuut breaks – ’n boek op sy eie. Almal wat bygedra het tot my verblyf daar.

Die Leeskamer het my laat dink aan my droom om eendag die Camino de Santiago te doen. As leser en skrywer het jy alles wat jy nodig het daar, maar die tyd is te beperk.

Ek is ewig dankbaar vir die Jannie Mouton Stigting en Jakes Gerwel Stigting.

Daar is baie om te doen. Baie om te skryf.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *