Die plek van water | Henu Baden

Dis Vrydag middag en ons wag nog vir die water. Water om die strate te versuip.

’n Wolk agterop ’n bakkie vlieg verby ’n man met ’n speaker op sy rug. ’n Man met ’n leer. ’n
Polisieman met vis en chip vingers. ’n Man wat twee Belinda’s versmoor tussen syne. Almal, kyk vir die Wolk, is dors – op dié einste Vrydagmiddag in die plek van water.

Op Nojolistraat koop die Wolk ’n paar groter stewels. Die oues het gespoegspat van kwyl. Hulle moes seker iets opgetel het op die stofstrate – dorsheid of dolheid.

Die Wolk ken van dolheid–

hy weet wanneer mense mekaar begin byt–

dan word jy bang vir water…

Die plek is beslis nie siek nie.

Maar wat, hulle wag. Wag vir water weer.

Verder af in Worcesterstraat hang die Wolk sy nuwe stewels oor die bakkie se rand.

Om seker te maak hulle lek nie.

Maar, sonder arms kan ’n Wolk nie vashou nie en hy drip-drip effens in die pad.

Blykbaar kan niemand meer vashou nie. Tot die rotte hap die spatsels waar hulle val.
Want hulle is dors. Want alles is dors in dié plek van water.

Die speaker man is dors vir aandag.

Leer man is dors vir hoogte.

Belinda man is vrek dors of verdoof – op hierdie droë Vrydagmiddag in KwaNojoli.

As die volk net weet – ’n bakkie vervoer ’n armlose verlosser. As die arme mense net sou opkyk.

Dink net as Moses nie arms gehad het om die rots te bliksem nie.

Droë mense is dolmense, dink die Wolk.

‘Dis jammer ons kannie stof drink nie’ dink die mense.

Hai vloeistof is maar ’n kakkerige woord. Stof vloei nie; dit woel en verstop.

Net die Wolk kan ons verlos. Net water kan die polisieman se olierige vis vingers skoon lek.

Net water kan die maan se skandie verblus.

Maar helaas, ‘Akukho manzi’ – geen water in die plek van water.

En toe – onder die Boschberg maak die bakkie flappe oop en onse verlosser styg.

Styg. Styg. Oor Paulet Huis.

Fok as iemand net leer man kon oortuig om te loop klim om die Wolk te klim haal.

Maar almal is te dors.

Tot die spoke is te dors om te praat. So hulle wag.

En die manne wag. En die rotte wag. En die maan wag. Wag.

Vir die water om die strate te versuip.

In Kwanojoli die plek van water

Dankie Theo. Dankie vir jou en die Jakes Gerwel Foundation. Julle het my lewe verander.

Ek het ’n storie geskryf wat ek graag met jou wil deel. Ek het dit in my kop geskryf toe ek en Gilbert agter op die bakkie gesit het, na ons uitstappie waterval toe. Dit was ’n warm dag maar ons het geweet dat die reen kom – so ons het maar gewag.

Geniet dit.

Liefde,

Henu


Henu Baden was ’n deelnemer aan die 2026 NATi Jong Sterre-residensie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *