A place where stories unfold

katedraalberg


ek sou graag die voëls bome plante insekte op die naam wou groet
in die veld stap en hulle kan uitwys: kransvalk dassievoël bergpatrys
rooiborsjakkalsvoël bontkiewiet vleitinktinkie slangverklikker
tussen die vaalbos die postuur van die grysbok kan onderskei van
die klipspringer en die duiker, ’n sagte spoor in die sanderige grond sien
en weet ’n rooikat was hier. ek wil weet wanneer dit die namtap
se broeiseisoen is ek wil blare tussen my vingers fynmaal
en ruik: wilde dagga keurblom koorsbossie duiwelsklou
die rooi van aardroos wolwekos veldskoenblaar ’n myl ver kan uitken
malvablare vir tandpyn aanbeveel aloe vir sere boegoe vir maagpyn

maar ek ken nie die berg soos ek haar graag wil ken nie

wat ek wel weet is dat ek myself soos ’n kaapse reënpadda
sal opblaas en terugdryf land toe wanneer iemand my uit die dekriet
optel en in die rivier sit waar ek nie kan swem nie; my uit die fynbosberg
optel en neersit waar slik modder sand en skalie oor duisende jare
nog nie inmekaargepers is om ’n sitplek vir ’n koggelmander
te vorm sodat hy my aandagtig vanuit sy sonkol kan dophou nie

+ posts

Elodi Troskie is ’n 24-jarige skrywer en die inhoudsredakteur van die onafhanklike Afrikaanse webjoernaal Klyntji.com. Sy het grootgeword aan die Weskus, in die Sederberge en ook in die Witzenbergstreek. Sy woon op die oomblik in Kaapstad. Sy is besig met haar honneursgraad in Engels en fokus op ekokritiek. Haar werk as inhoudsredakteur sluit kopieskryf, redigeer- en vertaalwerk in. In beide haar akademiese en redaksionele doelstelling is daar ’n verwerping van ’n dualisme tussen natuur en kultuur. Van haar gedigte het in Nuwe Stemme 6 verskyn.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *