Hoofstuk 7
Nie ’n enkele winterdag in Prins Albert was nié koud nie. As die son genadig was en deur die dag geskyn het, moes jy jou regmaak vir die klewende ryp snags. Spierwit gras en druppels water wat verys het, was kenmerkend van die snerpende wintersoggende. Sommige dae was my ruggraat konstant snaarstyf soos ek inmekaar getrek was om te keer dat my maer lyfie sy laaste hitte verloor.
Kos moes ons dikwels deur die bittere koue dra. Rondom die paraffienverwarmer en draadloos het ons familie met swaar borde kos gekuier. Stampmielies en bone was vele aande op die spyskaart, en sappige vleis- en murgbene het ons die nodige warmte verskaf om te oorleef.
Een aand vra Jamie-Lee uit die bloute: “Waar is Ouma se man dan?” Dalk was dit die storie oor die radio wat haar daaraan laat dink het.
Ons koppe het gelyktydig in haar rigting gedraai. Die vraag was óf baie slim óf baie dom. Want wat hét van ons oupa geword? Niemand het ooit oor hom gepraat nie. Sover ek kon onthou, was daar nog nooit ’n oupa in die rondte nie, en ouma Nellie was al amper vir ewig ’n ouma.
Ouma het die swart draadloos op die kas afgesit. “Julle oupa?” het sy stadig gevra, soos een wat die vraag ontleed.
“Hy’s mos lankal dood, my skatjie. Het ek nooit vir julle gesê nie? Julle oupa moes hard werk vir ons gesinnetjie. Hy’t op hoë geboue gewerk, verskriklik hoog. Toe misgis hy hom op ’n dag en trap mis en val. Morsdood. Arme John. Hy sou julletjies baie graag wou sien.” Die hartseer in haar stem het my oë ook tranerig gemaak.
“Wie’s my pa, Ouma?” het ek skielik dapper gevoel om te vra.
Sy het my vreemd aangekyk, nes of ek nou onder iemand se ma uit gevloek het.
“Julle vra te veel vrae, kindertjies. Kom, laat julle bed toe gaan. Dis môre skool.”
Keanan het my vies aangegluur, want hy wou nog nie bed toe gaan nie. Maar ek dink ons het almal daai aand met die vraag in ons gedagtes gaan slaap oor wie nou eintlik ons elkeen se pa is. My ma het altyd alleen uit die Kaap huis toe gekom, en antie Dorothy het elke keer met ’n ander man kom kuier. Antie Madie het nou en dan iemand saamgebring, maar nooit het ’n pa vir een van ons kom kuier nie.
Ouma Nellie het vir ons almal aan die begin van die maand All Pay gekry. Sy’t gesê die flentertjies geld wat haar dogters stuur, sou ons nooit kon deurdra nie. Eers op hoërskool sou ons skaam kry omdat ons All Pay-kinders was, maar in ons kleintyd het die lekkers en chips vir alles opgemaak. Nou en dan het ouma ’n lay-by by Pep of Ackermans gelos en dan het dit soos Krismis gevoel.
Hieraan dink ek toe Shomeez die Woensdag ná die partytjie voorstel ons moet die Saterdag by Cape Gate gaan fliek. Eintlik is ek sommer geskok, want sy sal nie sommer voorstel dat ons iets moet doen nie, sy is selfs liewer as ek vir tuisbly.
Hanlie is ook beskikbaar, en sy vra tot my verbasing waarom ons nie vir Palesa saamnooi nie. My woonstelmaat se verskoning is dat sy en Mondeo reeds planne vir die naweek het. Ek haal net my skouers op. Miskien is dit beter dat dit net ons drie is, ons kan reeds so verskil oor die fliekkeuse.
Miriam Telanie is originally from Beaufort West in the Karoo. As one of five children, reading and writing have been, from her childhood days, her favourite activities. She qualified as a teacher after school. Miriam writes since her teenager years and she has already published several short stories in various magazines. Her dream is to have a complete book published – something she hopes to achieve through the mentorship programme.