A place where stories unfold

Drie gedigte uit Thicker than Sorrow

Krotoa (for Krotoa Eva)

Wie se kind is ek

die ek soekie begrawe plek van my wortels

lank vergiet in verdriet

vertel my die storie Groot Moeder

ek wil nie klei-voet oor jou graf loop nie

ek krap-krap aan ou wonde in die spieel van leuens

gedaantes verklee’ en ontkleu’

tot daa’ waa’ land en strand en sand jou uitgespoegit

die ma-sap nog duidelik om jou lyfie

kindjie van die Goringhaikhona

ons rolspeel hier in tale wat leuens vertel oor ons komvandaan saad

Cocoqua en Goringhaikhona roep hul kind

sy kruis heen en weer

weer en heen

vervel van plek na plek

O Krotoa my ma se kin’

jou bene roep soe knaend in die Suid-oos wind

commandant se vleis prys geklys in kasteel kombuis

uit die vlakte spier van jagte-versamelaars jou stam vermom in Europierse klere

onder lae is jy verwyder en verneeder

tussen duiwels dans jou hart nog seerder

I could write this in English but my mouth won’t spell such a tale in that rule of grammar

my tongue is unreliable in that Germanic Anglo-Frisian dialect

these masters who believe their stories are not born out of pidgins and creoles

Afrikaaps and kaans sing closer to my lady mother’s tongue

En nou

nou hakel ons in bloed die rym van valse identiteit in populer geskiedenis

skielik staan ons almal hier by die bloed rivier

ys ons die bloedband met beduiwelde tonge

aasvoel se belange oppie hart

“Wie is meer Khoi as wie!” trap o’s mis want gister het o’s mos misgis

O vertel die storie Groot Moeder

van die memories waar o’s nooit wassie

wys vir o’s die voete van o’s voete

daar waar die mis spookaftig haar kakebeen in asem ritme tuimel

grys met woorde oor die oer-gees landscape

O Krotoa my ma se kin’

jou bene roep so knaend in die Suid-oos wind

commandant se vleis prys geklys in kasteel kombuis

uit die vlakte spier van jageter-versamelaars

jou stam vermom in Europierse klere

onder lae is jy verwyder en verneeder

tussen duiwels dan jou hart nog seerder

vluistertjies Groot Moeder

vluistertjies stroopsoet van die verloop van bloed.

 *****

Xam se kinnes

tussenie werwels vannie Langeberg tot diep innie palm vannie Keerom gekerf

oppie tong van Slanghoek steen versoen is die naam van Xam met grond en lug geroem

innie baarmoeder vannie Breede 

uit psalms van Khoi, Boesman en amaXhosa gelas, kweel die naam Kaapstad ver, nog fyn, nog sag

‘n ander naam vertaal haar saad – ongeleё geskiedenis beraad

In Hessequa en Chainoqua, Namaqua en Einaqua, tot daar by Kwe en Kun

Hier lê ons nou in disse kaai

kalbas se kind, boog se punt gepaar met spies en skild

in die berge katedraal is Khoikhoi en amaXhosa  bloed met inheems Xam versoet

nog skeep in Nederlands gehaak  kom die anker vannie die druif se kaak 

nog slaaf met hart geboei in die Kaap is Asiё, oos-wes Afrika gestrooi

my tong bedek met engelse konteks en nederlandse sweep

my rug gevou en vas gehou

maar hier in die bloed van my bloed van my bloed besef – gemaal uit protea, buchu se vlees kom

die roepstem op asem geswerf

kom tong-tak graaf en hottentotsgod bid ons harte sterk en ontdooi die raad van ouds

kom haal my Blombos grotse spook

kom soek my Diepkloof Xam se melk

Klipdrift stamboom krom, ontswyg my

en laat die eeue beskryf die wiegsaad beskryf

innie die begin vannie begin, vannie begin

voor Krotoa, Massevana, Susanna, Hintsa en Chaka se kuns,

op rots gewerf, daar doer buite die greep van die kolonie

ver, lank voor die wanhoop van apartheid se soom

die saak van kategorie en suiwer versuim

onder die vel, van ons vel, van ons vel

innie boek van bloed, inheems en uit,

ek en jy gemeng

tot innie murg van Elsie’s kraal

tot diep in Blombos grotse se saal!

  *****

Belong o’s

Ons loop elke dag op vergeete name

omring deur vergeete name

wie kan dokter wees waarie storie onbekend bly?

ek ken nie my ma se ma nie, ken nie my pa se pa nie

die stories stom geslaan in stram uitgevreete nalaatigheid.

Ekkit my ma se oё, sê hulle

 “Sy lyk soes dinges se kind neh?”, sê die anties

maar praat is beskerm innie skaamtes

die ou mense kannie helpie

hulle glo nog in oubaas se pyn.

Maar dit spook by die huis mammie

die doilys sit innie skadus van koppies en pierings met lippe wat skinner in vroёr jare,

hoe oorle’ oom se hande haar bene met blou kolle oopgevlek ‘et vir indringende phallus

sy lus onafhanklik van haar gehuil

o’s praat ‘ie soe dit baat ‘ie

g’n wonder die spoke kom raas nog en besoedel die plek waarie leuens en geheime val

g’n won’er die maagd saag die onuitgesproke woor’e met wyn

met wyn ja

ek is nog met wyn

die salf sit sy daar waar dit pyn

Amper vry, amper maar noggie

waala! amper maar noggie, spogie kin’ers van gesiene geskiedenis

ook mos nou gerecognise deur oubaas se kin’ers

gewilde ethnicities spog

alles is mooi toegepas oppie die skaal van een bloedlyn.

Maar wat vannie anne dele van familie mammie?

die dele sonne grafstene en family reminders en memories

verjaardae sonder verpligtings, doop psalms wat huil innie wingerde en hier langs die ou blouberg wat

Kaapstad omsingel

Wat daarvan mammie?

Die kaal wind sing droewig

en die ou wonde prikkel en prut in die kwansuise storms van identiteit

soms pla dit my min want ek is nog met wyn

die salf sit ons daar waar dit nogtans so pyn.

Soe dronk soes ‘n ‘kleurling’!

beweerings van oud wat klop oppie tong vannie nuwe Suid Afrika

mense likes nog daai term gebruik, ‘kleurling’,

asof ‘kaffer’ se belediging net een woord byt

nog min virrie see’ van die kin’ – die onderwys in die bewys

ja hie’ bly ons struikel op oubaas se sin mammie.

O’s woeker oppie faceboekies, instagrams en die twitters

soes watse voёls met baie te sê

en skryf ywerig van rights en equlity en wat nog,

maar onner die drang bly die vraag nog staan,

is o’s deel van die plek? belong o’s?

belong o’s mammie?

Daa’ sit seer vir my en staar

‘is hie’ waarie colour verwyder word

daar’s iets in die kind se hart wat skort

belong os is wat pyn

tussenie dwelms, ‘ie guns, ennie kinnes wat kwyn

o’s gryp dringerd annie bottels vol wyn

want daar lêrrie seer wat geskiendenis verdwyn.

*****

Die bekendstelling van Thicker than Sorrow (Modjaji Books) is op Augustus 9, 2022

+ posts

Is a published poet, actress, facilitator, cultural activist, who hails from the Cape Flats. Her poetic work has been characterised as stark and unapologetic. Khadija’s debut poetry collection is called Beyond the delivery room may be found at The Book Lounge. Her 2nd collection, Thicker than Sorrow will be available from the 9th August 2022. Publisher Modjaji Books.
More recently Khadija’s acting career has and is at the fore as her artistic expression at the moment.
She is featured in Arendsvlei, Alles Malan, Afgrond,Sewende Laan,Recipes for Love & Murder, Krismis van Map Jacobs and Down so Long a movie shot in 2019 in Hangberg, in Hout Bay, in which Khadija is the lead actress opposite Tshumano Sebe. It was part of Silverskerm 2022 & she was nominated for best actress award. Avokado, a film detailing the lives of the wealthy Willemse family has recently been screened on Flieknet. Khadija plays matriarch Sylvia Willemse.
Her international stuff include Recipes for Love & Murder, Low Rider, Spinners and Locked Up Abroad.
She still maintains a close eye on the heritage sector as it pertains to identity which features prominently in her performance poetry.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *