A place where stories unfold

DIT IS NIE ONS SKULD NIE!

Hoe maklik neem ‘n kind die skuld op homself vir dit wat met sy vriende gebeur … ?

Ek kyk, sit so en luister terwyl die klanke van die ‘OMO’ advertensie op ons draadloos wegsterf. Wanneer die stories begin op die draadloos, skel ma nie meer.  Ons kan nou buite speel, tuiswerk was vergete tot die ‘Geheim van Nantes’ se laaste klanke weggesterf.

Ons het van die plaas af getrek dorp toe, waar ek standerd twee begin het. Ek het gou gewoond geraak aan die dorp en sommer baie gou vriende gemaak. Die dorp was ‘n wonderlike ervaring, so baie mense op ‘n hoop. Dit was so anders as op Conway, die siding , waar on seers gebly het.  

Ek het met Danstertjie (wat my agterryer geraak het) vriende gemaak, al was hy baie jonger as ek. Hy het my kom help in die tuin vir ‘n stukkie jam brood, as ‘n mens dit help kan noem, want hy was meer in die pad as wat hy iets gedoen het. Die snaaksigheid van Danster was dat hy nege vingers gehad het. Hy is sonder ‘n regter duim gebore. En toe gebeur die snaaksste van goeters? Net twee huise van Danster-hulle se huis, drie jaar, later word Doortjie gebore, met twee regter duime! Dit het die skindertonge los gehad? Ek het gehoor die mense sê dat Danster se pa daar gekuier het. Ek was te jonk om dit alles te verstaan, toe dink ek maar hy het Danstertjie se duim daar vergeet.

Dan was daar Witstok. Ons het hom soms Botterore genome, want daar was altyd sulke geel goed wat by sy ore uitgekom het. Hy was lank, skraal en bleek, langer en bleker as ons ander (almal het geglo dat hy dalk baas Fanus se kind was. Sy ma, antie Katryn, het by hom gewerk. Maar dit was ook weer ‘n skinderstorie. Witstok was glo al dokter toe, en dan het hy met watte in sy ore teruggekom. Maar ‘n paar maande later was dit weer so ‘n geel-etter affêre. Miskien was dit maar sy kruis. Behalwe sy botterore, was hy die waaghalsigste van ons almal. Dan was daar Botterkop, die dorp se skobbejak, en Gaffel die atleet, Viva en Loog wat goeie rugby spelers was – ‘n paar van die karakters van my kinderdae, maar hulle was ouer.

Ons het tot laataand gespeel asof die spel nooit sou ophou nie en asof ons nooit sal groot word nie, soos Peter Pan. Ons kinders het nooit dronk word geken nie. Mense het bier gebrou, maar dit was vir die grootmense. Dan het mense brandewyn gekoop by die bar, maar soos ek sê, dit was vir grootmense.

Witstok was nie in die skool daardie dag nie. Ons het geweet hy dros van tyd tot tyd, maar die juffrou het gesê hy draai stokkies. Dit was ‘n nuwe woord. Ek, inteendeel, kon dit natuurlik nie waag om weg van die skool te bly nie.

Oppad huistoe daardie dag, het ons vir Witstok langs die munisipalitiet se heining gekry, naby Van Staden’s Vervoer garage-stoor ding. Hy het half onder die lorrie gelê soos die verlamde man van die bybel.

Ons het vir Witstok wakker gemaak met moeite. Toe ons hom by opstaan kry, kon hy nie op sy voete staan nie. Hy was deurmekaar en het aanmekaar gepraat van jakkalse, honde en skoenlappers wat hy wou vang, maar hy het bang gebly vir die waterslang. Hy het gekots totdat daar niks meer in sy maag oor was nie. En daar was in egter geval ook nie veel in nie, want hulle was baie arm. Eers daarna het hy reggekom. Ons moes wag tot hy reg was voor ons kon huistoe.

Hy was ons held, want hy’t ‘n nuwe wêreld betree wat ons nie geken het nie. Hy was lekker dronk en toe tiep hy. Almal, behalwe ek was beīndruk. Net grootmense kon dronk word. Ek wou nie so lyk en voel soos hy gevoel het nie.

Witstok het al meer en meer stokkies gedraai en elke middag na skool, het ons oopmond geluister na sy manewales deur die dag. En toe gee hy ons eendag, toe ons so onder die brug by die rivier sit, ‘n witbeen om te rook. Hy het dit by Botterkop gekry en hy weer het dit in die lokasie gekoop. Ek weet net dit was die eerste en aller laaste keer dat my mond aan twak geraak het. Die soet smaak het my mond bitter gemaak. Maar ek dink die dampe was erger! My pa het my pimpel en pers geknyp dat ek vir dae lank geloop het soos iemand wie in sy eiers geskop was.

En toe eendag, het Witstok nie vir ons gewag by die brug nie. Ons het gewag en gewag. Teleurgesteld is ons huistoe. Ons sal hom môre kry?

Die môre is met afwagting afgewag. Ons het geweet dat iets nuut sou kom. Miskien het hy nou ‘n meisie gehad? Nog ‘n ding wat vir ons snaaks was, want meisies was die laaste ding waaraan ons ons gesteur het.

Witstok was ook die volgende dag nie daar nie. Iets was verkeerd? Witstok het dan altyd soos klokslag die volgende dag by die skool verskyn? Soms buite die skool heining. Al was hy baie afwesig, het hy altyd in rekenkunde die beste gevaar? Ons het gewag vir sy stories.

Witstok was skoonveld. Niemand kon antwoord nie. Almal het gedink ons jok. Ons moes weet. Meester wou ons slaan omdat ons nie kon sê waar Witstok was nie.

Toe ons laat die middag na sport oefening huistoe stap, het ons die mense naby ons plek by die brug sien saamdrom. Ons was nuuskierig, maar dit was alreeds laat en ons moes by die huis kom. Ons het so onderlangs gehoor dat iemand het met sy gesig af in die swart modder gelê het. Toe ons verby Witstok-hulle se huis loop, het ons twee polisie vans gesien. Die benoudheid het in ons kele kom sit en ons bene aangejaag huistoe. Ons was besig om uitmekaar te gaan, toe is die polisie om ons. Ons het soos vasgekeerde hoenders teen die draad gaan staan. Ons het nie geweet wat aan die gang was nie. Ek het net daar my broek natgemaak. ‘n Polisieman was vir ons soos ‘n god – almal moes hulle gehoorsaam en hulle kon jou straf. Danstertjie het onkeerbaar begin huil-skree! Ons was nog nooit in ons lewens so bang nie. Die polisieman se stem het ver en swaar geklink: “Wanneer laas het julle vir Witstok gesien?”

Niemand wou sê nie. Netnou sê ons die verkeerde ding. Netnou het Witstok gesteel, en dan het ons saam gesteelde goed geëet? Sê-nou hulle kom soek die gesteelde goed by ons huis? My ma sal dit nooit kan oorleef nie. O here, wat sal my pa sê, … gelukkig is pa weg.

En die skool? Ek wil nie aan die skande dink nie?

Ek het vinnig huistoe geloop. Ek het gewag om enige oomblik die polisie vên agter my te hoor. Ma het iets gevra oor die gedoente by die brug en by Witstok-hulle se huis, maar my verstand was ver weg. Daardie aand het die slaap weggebly.  In my wakker slaap het ek vreemde goed gesien en gedink. Ma wou weet hoekom ek nie slaap nie, en toe sê ek die verkeerde ding: “My maag pyn.” Net daar en dan het sy die kasterolie bottel uitgehaal en gesê: “Môre oggend sal jy beter wees.” O, god, nie dit nie? Ek het probeer protesteer, maar verniet. Ek het die bitterheid afgewurg, maar ek kon die bitter smaak in my mond en stories van Witstok nie afgesluk kry nie.

Die polisie het nie weer gekom nie.

Die pad skool die volgende dag was lank en somber. Ons makkers het mekaar probeer vermy. Ons het so een een agter mekaar graspolskoppend skooltoe geslenter soos ganse agter hulle ma. Niemand wou iets sê nie. Ons was te bang om met mekaar te praat. Die vrees en die stilte tussen ons het die gestalte van Witstok gehad. Sy skaduwee het stil saam met ons geloop.

Die skoolklok het soos ‘n doodsklok gelui. Ek was kwaad vir die meisies wat soos vinke vir mekaar geskree het en luidrugtig tussen die rye gehuppel het. Hul opgewondenheid het soos vals klaviernote in my ore weerklink.

Die prinsipaal het skielik soos ‘n reus bo die byeenkoms uitgetoring. Toe ons die groot swart Bybel in sy hande sien, het ons soos boetvaardige sondaars ons oë in swye grond toe laat sak. Ons kon nie die heiligheid aanskou nie. Deur my bangte het ek Witstok hoor lag soos daardie eerste dag toe hy van die dagga so deurmekaar gepraat het. Die woorde: ‘dis julle wat vir meester gesê het!’ het in my ore vasgesteek.

Die stem van die prinsipaal het soos ‘n swaard swaar oor ons gehang: “Alle vlees is gras,” En toe sing ons: “Ure dae, maande jare, mense val soos blare af …”

Toe was sy stem stil.

Ons het gewag. Asem opgehoue vir die volgende swaar woorde. Sou ons hierdie swaar woorde wou hoor?

Toe ek my oë ophef, was die Bybel alreeds toe. Dit het gevoel of die prinsipaal met my gepraat het. Dit was asof hy wou sê, ‘dit is deur jou, jy moes hom gewaarsku het!’.

En toe kom dit: “ … soos julle seker al gehoor het, Pieter Myburgh het eergister versmoor, …” Ek het die res nie gehoor nie. Ek moes wegkom. Ek het my bangheid weggehol. Ek het my vrees vir die prinsipaal en vir sy blousool, en vir pa as ek uitbly, weggehol, weggehol omdat ek stilgebly het oor verkeerde goed. Ek is tussen die kinders deur brug toe, rivier toe!

“Vermoor, vermoor!” het dit weerklink in my ore terwyl ek gehardloop het. Tussen die riete het ek my uitgehuil oor my eie doodgaan en deur die trane en snot net daar op die nat grond aan die slaap geraak. In my droom het ek vir Witstok gesien, hy het baie skoenlappers na my toe uitgehou. Hy’t die skoenlappers een vir een van die takke in die middel van die stroom afgepluk. Ek het die skoenlappers laat vlie. Later was daar baie van hulle. Toe sien ek hoekom Witstok altyd so lekker en so alleen kon lag.

Gaffel, Viva, en Loog-hulle het my daar kom wakker maak met my duim in my mond: “Kom jong, jy moet huistoe.”

By die huis het my ma ons ingewag, want die hele dorp het ons gesoek. Met die intrapslag het die opgehoopte woorde uit my mond geborrel: “Dis die waterslang, ons het hom nie vermoor nie …!” Ma’t haar hand op my skouer gesit: “Toemaar, dit is nie julle skuld nie, hy het gegly en in die modder versmoor.”

G Allen Grootboom

Allen Grootboom het in Middelburg en Graaff-Reinet in die Oos-Kaap grootgeword en werk tans as ’n psigiater in George. Sy belowende manuskrip Die vuur huil speel af in die 1960’s en vertel die storie van Jakob Koetaan van Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) en van sy familie wat hulle plaas gedurende die apartheidsjare verloor het.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *