Die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Vrystaat Kunstefees stel ’n beursfonds ter nagedagtenis aan Crystal-Donna Roberts, wie ons verlede jaar in die stryd teen kanker verloor het.
Sy was nie net ’n uitstekende aktrise nie, maar ook ’n talentvolle skrywer. Ons het die borrelende Crystal leer ken toe sy haar boek, Speurder Sammi: Die blou steen in 2021 as deel van die Bosberg Boekskryf-program geskryf het. Sy was ’n besonderse deel van die Jakes Gerwel Stigting se skrywersfamilie, en ons sal haar nooit vergeet nie.
Die Crystal-Donna Roberts-beurs is tydens die bekendstelling van die kunstefeesprogram in Bloemfontein aangekondig. Die beurs sal ’n nagraadse student in die kunste aan die UV finansieel onderseteun, en sal teen die komende akademiese jaar in werking tree.
Dit word berig dat die prys ingestel is in Roberts se eer omdat sy bekend was daarvoor om altyd ander aan te spoor asook vir haar vermoë om jong kunstenaars te inspireer.
Dit beteken vir ons by die Jakes Gerwel Stigting baie dat Crystal se inspirerende nalatenskap op hierdie impakvolle manier geëer word.