Keith Oliver Lewis, deelnemer aan die 2024 PEN dit Neer-residensie, is vanjaar gekroon as wenner van die Toyota Stellenbosch Woordfees se elfde jaarlikse Kortverhaalbundel-kompetisie.
“Die aankondiging het tydens die bekendstelling van die bundel by die Stellenbosch-stadsaal gekom. Keith Oliver Lewis ontvang R30 000 vir sy wenverhaal Nagwaak. Die prysgeld is danksy die borge, EasyEquities, die Hiemstra Trust en PEN Afrikaans,” lees die Woordfees-feeskoerantberig.
“In 2022 het Keith Oliver Lewis die eerste keer sy hand gewaag aan ’n kortverhaal wat sowaar gekeur is vir die kortverhaalbundel daardie jaar. Hy het wel nie gewen nie, maar ’n belofte aan homself gemaak dat hy weer sal probeer.”
Keith Oliver Lewis is die tweede Paulet Huis Skrywer, naas Lynthia Julies wie ook weer vanjaar in die bundel verskyn, wat dié prys wen. Lees gerus die volle berig hier.