In ’n artikel op LitNet skryf Annari van der Merwe, een van die Jakes Gerwel Stigting se trustees, oor haar herinneringe aan die skrywer Breyten Breytenbach wat op 24 November 2024 oorlede is.
Sy skryf:
Ek het Breyten Breytenbach vir die eerste keer van aangesig tot aangesig tydens die Kaapstadse Somerskool se lesingreeks oor die Sestigers ontmoet. In Februarie 1973 by die Universiteit van Kaapstad … Die Leslie-teater was reeds stampvol. In die breë gang voor die groot lesinglokaal gons dit. ’n Kronkelende tou mense met die ysterkoei moet sweet of ’n meer onlangse bundel, of sommer net ’n program of stuk papier in die hand, beur en skuifel langsaam in die geharwar vorentoe en wag opgewonde vir Breyten se handtekening. Ek val ook in die ry. Sonder boek of papier. Toe ek voor Breyten te staan kom, hou ek my oop palm na hom uit. In die gees van die speelsheid in sy gedigte. Hy kyk vraend op en ek sê my volle naam. Dit vat twee sekondes. “Merel!” sê hy verras, vat my vier voorvingers vas en teken op die hiel van my hand.
Annari van der Merwe vertel ook oor haar ontmoeting met André Brink (haar studieleier), haar studies en notas van Breytenbach se werk en hoe haar MA-verhandeling later as ’n PhD-proefskrif voorgelê is, met as titel “Paradoks as poësie”.
Ek was gefassineer deur die onbegryplike in Breyten se werk, die vreemdheid, die eksotiese verwysingswêreld, die buitensporigheid en veral die ongewone gebruik van Afrikaans. Ek wou agter die kap van Breyten se byl kom.
Annari van der Merwe
Van der Merwe brei verder uit oor Breytenback se arrestasie in 1975, haar reis na Europa op ’n Italiaanse passasiersboot, haar en Yolande se liefde vir insekte en inheemse plante, Breytenbach se skryfwerk, kuns, menslikheid en hul vriendskap.
Ek het die essensie van sy Zen-houding my eie gemaak: om in die hier en die nou te lewe; om elke verskynsel as ’n blommetjie in die liggaam van Boeddha te beskou – alles ewe belangrik en alles met bewussyn deurtrek; om te weet dat niks ooit finaal is nie maar ’n ewige kringloop. Ook die lewe en die dood. Yin en yang – lig en donker, goed en kwaad, lewe en dood, verhewe en platvloers – die een bestaan in terme van die ander, nie as teenoorgesteldes en teenstrydighede nie.
Annari van der Merwe
Lees Annari van der Merwe se hele artikel op LitNet: