Danie Marais is ’n digter, vryskutjoernalis, taalpraktisyn, musiekskrywer en omroeper. Hy is in Kimberley gebore, het nege jaar in Noord-Duitsland gebly en woon die afgelope tien jaar in Stellenbosch saam met sy vrou, Carine, en hul twee kinders, Lea en Sam.
Ek en jy bestaan nie is Danie Marais se langverwagte vierde bundel waaraan hy gewerk het tydens sy verblyf in Paulet Huis gedurende die Brussel tot Karoo-residensie in 2023.
Soos in sy vorige bundels bevat Ek en jy bestaan nie gedigte wat openhartige, intieme gesprekke met die leser aanknoop. Hierdie keer gaan dit egter nie oor persoonlike verhoudings en morsige liefde nie, maar oor die ongemakke van ras en klas, en die maniere waarop die verlede die hede beïnvloed binne die eie huis en gemoed in ’n era van toenemende politieke ongeduld, paranoia en polarisering.
Deesdae voel ek in my derms op nagte soos dié
hoe luuks en sag die tuin om my lê hoe uitspattig
ons middelklastuinmeubels in die maanskyn skynheilig
kringetjie hou langs die blinkswart altaar
van die Weberwaaruit die rook van dooie diere
Uitreksel uit die bundel
naweke krul maar die offers
geen gode meer behaag nie
Dis ’n bundel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly in die voorstede van Stellenbosch waar ’n koue burgeroorlog stil in die boomryke strate woed.
Ons is saam met almal opgewonde om die bekendstelling van sy digbundel op 20 Junie 2024 by die V&A Waterfront se Exclusive Books te vier. Onthou om op Exclusive Books se webwerf te RSVP.
Indien jy die boekbekendstelling misloop, moet nie bekommered wees nie. Danie Marais sal ook later vanjaar by al wat ’n fees is wees.