‘Ek sal nooit weer iets doen, wat ek wiet, is ‘ie reg ‘ie! My conscience ga’t vir my nog opvriet hieroo’.
Hulle staan nog so vir ‘n minuut, of so. Toe sit Adam sy hand agtertoe, en raak aan Joani se kop, hier agter teen sy nek. Die twee skoolmaats loop sonder ‘n woord verder. Joani, die slimste meisiekind wat Charleston High nog opgelewer het, weet nie of sy alles verstaan wat Adam daar gesê het nie. In sy stem was sy skaamte hoorbaar. Hy’t iets teen sy beterwete gedoen! Hy’t dit gedoen om Heather te beskerm. Dieselfde Heather vir wie sy haar menigmaal so moes skaam, oor sy die nuwe seun so verneder oor sy Afrikaanse taalgebruik. Hulle loop in stilte aan tot waar Joani weg draai. Adam stap aan, sonder om te groet. Net toe sy om die draai, huis toe loop, hoor sy Adam roep, ‘Bye, Joani’! Sy lig net haar hand bo haar kop. Sy kan nie gou genoeg in haar kamer kom nie. Adam was vandag op ‘n heel ander plek!
By Heather se huis, lig sy haar ma in oor Meneer Balie wat bedank het, en ook Joani en Adam se rolle.
‘Nee, Heather! Regtig? Is dit omdat hy jou nie in die gesig sal kan kyk nie? Of is daar ‘n ander rede?’
‘Mamma, Joani en Adam het gesien hy laai my af. Hulle’t my ook gesien huistoe stap. Toe weet hulle wat aan die gang is,’ vertel Heather in ‘n gedempte stem aan haar ma. ‘Ek het hom laatnag ‘n whattsapp boodskap gestuur om hom te waarsku. Dit was ook die laaste boodskap. Ek het sy nommer van my foon af gevee.’
In Joani se huis, is dit ’n heel ander geselskap. Sy kondig net aan dat die wiskunde-onderwyser dringend by sy bejaarde ouers moes uitkom, om hulle by te staan, want die Covid-pandemie begin toeneem in die stad. Die groot geselspunt vir haar, is nie Meneer Balie nie – dis Adam Daniels se aansteling as die middelman deur wie Meneer Balie sal werk om die wiskunde-video’s te versprei! Dis haar ding!
‘Vir drie jaar lank was ek die leerder met die hoogste punte in Wiskunde, Wetenskap, en Lewens-wetenskap. Hoekom word ek nou oor die hoof gesien om sulke belangrike take uit te voer?’ wil sy van haar ma weet.
Haar ma sien die kind is diep teleurgesteld, en toe sy hoor wat die take als behels, herinner sy Joani:
‘Joani, waarmee sou jy in any case, die goed ontvang het? Jy het nie eers ‘n phone nie!’
‘Mammie, Meneer Balie kon mý ten minste eers gevra het! As hy dan hoor wat my probleem is, kan ék Adam aanbeveel het. Dan sou ek beter gevoel het. Maar nee! Die skoolhoof roep Adam Daniels oor die interkom, en daarna kom hulle altwee ons meedeel watter reëlings getref gaan word. Hoekom word ék nie geken nie? Tél ek nie meer by Hoërskool Charleston nie?’
Joani se mamma verstaan maar alte goed waaroor dit eintlik gaan. Haar arme kind is al die jare die top leerder in die skool, en almal sien op na die skrander dogter. Daarby is haar gedrag voorbeeldig, en kom sy altyd met wonderlike planne op om leerders te inspireer om hoog te mik in hul skoolwerk. Sy’s ‘n leier by uitstek, en almal in die skool het die hoogste agting vir haar. Daarby is sy ‘n mooi dogter: pragtige gelaatstrekke; diep, donker oë; ‘n vollerige mond; iemand wie altyd ‘n vriendelike glimlaggie vir almal het. Sy’t ‘n pragtige jong-meisie lyf, en goed gevormde bene. In daardie dorp het geen jongman nog dit durf waag, om met haar aan te lê, of om haar ongemaklik te laat voel nie – tot daai Kaapnaar-klong haar kop gekom deurmekaar krap het!
Vir die eerste keer is haar kind bewus van ‘n mansmens. Aan die begin kon sy nie die klong verdra nie, maar na die uitbreek van die Covid-pandemie, het dit gelyk of hulle nader na mekaar ge-beweeg het. Die klong het daar gekom vir Afrikaans-lesse, en Joani weer, het Engelse lesse by hom gekry. Dit het gewerk vir hulle, want hulle’t gesê daar was ‘n verbetering in hulle punte. So dit sou seker maar aangaan tot die end van die jaar, het sy gedink. Wat Joani nog nie gesê het nie, was wat haar wiskunde-punte vir die derde-kwartaal was. Die klong het mos ‘n scheme gehad, waar hy Joani ook wou betrek, maar die kind was ligtig om ingetrek te word. Sy wou op haar eie aangaan, soos altyd, en hom wys! Dit was of sy in ‘n kompetisie met die klong was, want sy punte was ook taamlik hoog – net onderkant hare! Sy sou nogal gelyk het om te hoor hoe haar kind gedoen het, en ook hoe daai klong gedoen het! Vir hom om haar kind te klop in die punte, sou ‘n miracle wees, het sy gedink.
‘Ek vra nog altyd Joani, hoe gaan jy maak sonder ‘n phone? Hoekom vat jy nie my een nie? Ek gebruik hom maar mos min!’
‘Dankie, Mammie, maar Adam het gesê hy gaan ‘n plan maak’.
‘Oe!’ is almal wat Ma Margie kan uitkry. Joani draai om, en stap kamer toe. Ma Margie gaan ook maar kombuis toe: nou verstaan sy ook níks meer nie!
By Adam se huis het hy en sy oumie oudergewoonte langs die kombuistafel sit gesels oor haar dag, en oor sy dag. Hy’t die skielike vertrek van die wiskunde-onderwyser, in min woorde aan haar oorgedra. Oumi was meer bekommerd oor sy besoek aan die daghospitaal. Toe hy laat val dat hy die vorige dag, vir Joani gevra het, om saam met hom gaan, is Oumie gemaak-verstom.
‘Hene, Adam, hoeveel private nurste het jy dan? Wat het dan van die ander girlie geword? Sy’t dan so ‘n smart girl gelyk!’
Adam loer vinnig na sy oumie, en sien sy soek weer moeilikheid met die opmerking.
‘Ek het vir Joani gevra om saam’e my te gaan, Oumie, en sy’t ja gesê! Dié is’ie ees’te ja ooit, wat ek van haar kry, en ek ga’rit vát, Oumie! Ek ga’rit vát! Nou moet gou gat shower, Oumie. Ek moetie daai girl lat wag’ie. Daai kind se ja, draai maklik om in ‘n ‘Nie meer nie!’, as ek laat daar kom! Oumie wiet mos!’
Weer word daar lekker gelag. Dis duidelik Oumie geniet haar kleinkind net soos hy haar geniet.
By die daghositaal gaan sit Joani solank, terwyl Adam by die venstertjie gaan gesels. Toe hy omdraai om in die banke te kom sit, sien hy dadelik, twee rye agter Joani, twee van die manne wat hom aangeval het. Hulle altwee het kopverbande op. Die ouer man het ‘n kakebeen-skerm op, en sy gesig het nog blou kolle om die oë. Behalwe die kopverband, sit die jonger man duidelik skuins asof hy êrens op sy lyf pyn het, as hy regop sit. Adam sê niks aan Joani nie, alhoewel hy ongemaklik voel met sy rug na die manne toe.
Toe staan hy skielik op, en gaan agtertoe, en gaan sit in die bank voor die manne. Hy sê hy’s spyt oor alles, en die manne sê hulle ook. Hulle gesels nog bietjie hieroor en daaroor, skud later hand, en gaan heel vriendelik uit mekaar.
Joani kan feitlik elke woord in die stil wagkamer hoor. Sy was eers verskrik, en bang. Sy’t begin ontspan toe sy hoor daar vredes-woorde. Adam kom sit weer by haar, en praat niks nie. Joani wonder of hy gewoond is aan sulke goed. Sy’t so iets geken toe sy maar nog ‘n dogtertjie was – en dit was aaklig! So sit hulle in stilte, terwyl die een naam na die ander geroep word.
Die twee manne, agter, se name, word na mekaar, voor Adam s’n, geroep. Hulle kom met skoon verbande uit. Elkeen gee Adam ‘n polite smile, en ‘n waai van die hand, en stap deur toe. ‘n Rukkie daarna word Adam se naam geroep. Joani bly sit. Hy kom uit met ‘n kleiner verband – net bokant die oog.
‘Adam’, vra Joani met ‘n sagte stemmetjie, toe hulle oor die veldjie stap, ‘so, dis twee van die mans? Is dit soos jou lewe is, Adam?’
Adam weet dadelik die antwoord is vir haar belangrik.
‘Nee, Joani,’ antwoord hy sag en bedaard. ‘My liewe is gla’tie soe nie! Daai twee manne het my ge-attack uit die bloute yt! Toe defend ek myselwers! Dai’s soes ‘n man is, Joani!’
Joani voel glad nie goed nie. Een van die mans is eintlik ‘n grootman, met kinders op skool. Adam het die man stukkend geslaan! Die ander een ken sy as ‘n leegleêr. Hy vra by almal geld; altyd reg om iets van jou af te bedel. Hy’s ook potblou geslaan; ook met ‘n stukkende kop, en hy loop swaar. Toe sy dit met Adam ophaal, voel Adam hy word aangeval.
‘Joani, jy praat net van daai mense! Wat van my? Kyk hoe lyk ekke! Ek loep af in die pad! ‘n Klompie mense spring op my! Hulle slat my blou! Hulle slat my kop stukkend! Wat moe’n ek maak, Joani? Sê vir my? Ek is ‘n self-respecting, jonge man! Wat moe’n ek maak? Wegha’loep, soos ‘n coward, of moe’n ek man vat?’
Joani antwoord nie hierop nie. Terwyl hy nog praat, besef Joani sy’s onredelik met Adam. Maar miskien omdat dit hý is.’
‘Is jy nou upset met my, Joani?
‘Nee, ek verstaan nou. Jy’t die reg gehad om jou te verdedig. Ek gril maar net! Kom, ek het lanklaas jou oumie gesien.’
‘Kan ek jou hand vat, Joani?’
‘Kom ons los dit maar Adam. Asseblief? Dinge is nie nou so honderd persent tussen ons nie.’
Adam haal sy skouers op, en die twee stap in stilte verder. Nou verstaan hy níks meer nie!
Toe die twee later alleen onder die vyeboom sit, verduidelik Adam sy plan aan Joani – sy gaan ‘n foon kry, waarvoor sy net ‘n simkaart moet koop in haar naam. Sy kry dan, net soos die ander, die lesse van hom. Hy sal bly wees as hulle twee eers sáám deur die lesse kan werk, om seker te maak hulle’s is op dieselfde bladsy. Dan gee hulle twee die lesse aan die klas, van die video’s af. Die leerders het mos die videos. Hulle kan alleen deur die lesse werk by hulle huise. As hulle steeds hulp nodig het, vra hulle maar net in die klas. Vir Joani klink dit goed genoeg. Sy voel heel verlig dinge het so uitgedraai! Sy’t die middag so tekere gegaan oor Adam die lesse ontvang, en nie sý nie. Hier trek hy haar nou in. Haar ma gaan bly wees!
‘Hoe was jou Wiskunde-punt vir September, Adam? Sal jy my kan help as ek vashaak?’
‘Daarom werk ons twee eers saam aan die lesse vóór ons na die klas toe gaan! No prob!’
‘Jou Wískunde-punt … vir Septémber?
‘O, dit? 87 persent, overall, met ‘n laere merk vir Paper 2,’ kom dit saaklik van Adam af.
Adam sien hoe Joani effens verstyf. Dan is sy merke maybe hoërere as haa’ne! Dis duidelik sy’t’ie dit expect’ie! Hy ken vir Joani. Toe kom dit:
‘En jy hou dit stil, Meneer Daniels! Lekker agterbaks, nê? So, dis hoekom Meneer Balie vir jou gekies het!’
‘Maak’it dan so saak, Joani? Ek weet oek’ie jou merke nie! Nou sê vir my wat is jou merke vir Maths. Sê vir my, assebief?’
Joani kyk daar in die garage in. Sy sien die plek is netjies skoon. Die ghellie staan nou omgedraai langs die kant. Adam hoor net ‘n sagte, ‘82.7 persent’.
‘Maar dis kwai, Joani! Dai’s mos’ie bad’tie! Ek is net lucky …’
Haar kyk laat Adam in die middel van die sin stil bly, en opstaan. Hy kom voor haar staan.
‘Joani, my plan het gewe’k! Ek is net so surprise soes djy, … soos jy! Kan jy nie on’hou nie – ek het jou ge-invite om saam‘e my die plan op te sit? Djy’t ge-decline! But … my invite staan nog – vir die finals! Ons twee tesaam’e, kan’ie grootste kraak maak wat Charleston nog ooit gesien’it, in’ie finals, Joani! O’s vriet daai papers op – ek’n djy!’
Toe die olifant uit die jaart verwyder is, maak hulle aanstaltes om binne toe te gaan, na Oumie toe.
‘Joani, moenie lat simpel Maths-merke tussen o’s kom’ie asseblief, nuh?’ vraAdam, toe hulle later die middag na haar huis toe stap.
‘Nee, vir wat! Nou’s jy die een wat simpel is’, en sy loer na hom.
Hulle loop in stilte aan, tot een swaaiende hand, ‘n ander hand effens raak. ‘n Vinger van die jongman vind die vinger van die jong meisie, sonder dat hy dit so beplan het, en so loop hulle ‘n entjie, totdat die hele hand van die een, in die hele hand van die ander rus. Die oomblik is oorverdowend! Twee koppe sing elkeen sy eie aria! Magies draai, en sweetjies slaan liggies bo die wenkbroue uit. Dis nie nodig vir woorde nie. Die stilte tussen hulle praat saggies in hulle ore, want daar gebeur iets wat al lankal in hulle koppe gesluimer het, maar beide te bang was om dit te erken. In sulke tye vat mens se diepste gevoel oor. Daar is ‘n soeke uit die diepte van elkeen se hart, na die ander se hart, en ‘n band word gevorm, wat mense, die liefde, noem. Eers is dit net ‘n kennisname van die nuwe gevoel tussen verliefdes. Mettertyd groei dit, soos daaraan gewerk word. Dit verdiep. Dit setel, en raak so deel van die wese van elkeen. Joani se hart klop honderd myl per uur, want sy’s intens bewus van die oomblik. Sy’s onbewus van die mense wat so op en af verby hulle stap. Is dit nie waarteen sy so geveg het nie? Nog nooit in haar lewe het hierdie ding by haar opgekom nie – hand aan hand, met ‘n mansmens, in die straat af!
Ant Margie Williams staan in haar voorhuis, en kyk so af in die straat, en net toe sy die gordyntjie wil toetrek, sien sy haar kind om die draai aangestap kom, en dit lyk vir haar, haar kind trek die jongetjies-kind saam met haar. Sy’s naar op die maag, en sak met haar knie op die kussing van die rusbank neer. Kan dit wees? Joani? Hand aan hand met Adam? Is hy dan nie meer vyand nie? Kan vyand dan so gou in vrind verander? Hoe’t sy dan die tekens so mis gekyk? Sy’s dan die ma!
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.