‘n Blok verder van Joani se huis, in die lokasie, kom Heather die Saterdag-aand ook net by die huis. Die ma se oë volg haar dogter toe sy kamer toe stap, na sy gegroet het. Die kind het vir twee dae nie gaan werk nie, want sy moes die Meneer met punte-optel, gaan help – by sy woonstel in die dorp! Sy’s al vroeg die Vrydag by die huis uit; net gesê sy sou laaterig terug wees. Vanoggend was dit weer so. Sy sou sommer daar iets kry vir ontbyt, en sy sou weer laterig by die huis wees, want die werk moes klaar vir Maandag. Ma Moses het glad nie daarvan gehou nie. Watter ma sou daarvan hou dat haar dogter, wat al kliphard jongmeisie was, tot laat, by ‘n jong man in sy woonstel alleen bly – al was die jongman ‘n onderwyser? Dit het net nie reg geklink nie. Selfs haar jonger dogter in Graad Ses het gevra of die Meneer dan haar titter se burgh was! Haar ma moes haar streng aanspreek om nie sulke dinge te praat nie – veral nie buitekant die huis nie.
Toe Heather klaar gestort het, neem sy haar kos kamer toe, alhoewel sy goed weet haar ma hou nie van ‘n etery in die kamer nie.
‘Gaan jy nie ‘n bietjie binne kom sit nie, Heather?’ probeer die ma gesels maak.
‘Ag, Mammie, ek was heeldag besig! Ek is regtig moeg,’ kom dit uit die uit.
‘Maar sy sit darem met haar foun, Mammie!’ rapporteer Myrna, Heather se jonger suster, na ‘n rukkie. ‘En sy’t ook nie haar kos ge-eet nie, Mammie!’.
Die twee susters deel ‘n kamer in die skakelhuis in Sampsonstraat. Myrna slaap op die boonste bed van die stack-bed, en Heather dwars onder. Ma-Moses sit binne, en luister hoe die kinders met mekaar stry.
‘n Rukkie na Heather, kom Pa, Solly Moses, in, groet sommer toe hy die voordeur oopmaak.
‘Naand! Naand, Ma! Hoe sit jy dan so alleen hier? Waar’s die kinders dan?’
Hy gee sy vrou ‘n soenjie op die voorkop, en stap met die winkel-sakkies goed, kombuis toe.
Een vir een verskyn die dogters van Oom Solly Moses in die voorkamer. Heather lig haar hand op in ‘n groet, en gaan by die voorkamer-tafel sit. Myrna gaan gee haar pa ‘n drukkie.
‘Heather, jy’s so skaars! Ek sien jou nou eers weer reg, na Donderdag, weet jy! Gister-oggend toe ek loop, toe slaap jy nog, en gistraand het jy baie laat gekom. Vandag het ek jou nie in die winkel gesien nie. Die meisies sê jy’t nie ingekom nie. Toe koop ek maar die paar stukkies goed, net ingeval. Waar’s jy dan so besig?’
‘Vra haar, Daddy!’ antwoord Myrna dadelik, voor Ma Moses haar ‘n kyk kan gee. Heather sit verskrik langs die tafel.
Daarvandaan, weet Ma Moses, en haar dogter, Heather, gaan dinge baie, baie verkeerd loop. Die pa wil dadelik weet waarvan Myrna praat. Heather spring eers hiernatoe, en toe daarnatoe, maar dit help niks. Toe sy uiteindelik begin praat, is sy ‘n bol senuwees.
‘Daddy, ek help maar net my wiskunde-onderwyser met sy punte-bylae. Die vakansie is verby, en punte moet die eerste dag van skool, ingehandig word. Hy’t my gevra om hom te help.’
Pa Moses het in afwagting na sy dogter gekyk toe sy begin vertel het, maar sy’s nog nie eers klaar gepraat nie, toe’s sy kop al van haar af weg gedraai. Ma Moses weet, haar man hou glad nie waarvan hy hoor nie. Pa Moses se eerste vraag is hoekom sy vrou hom nie vertel het nie. Sy kon nie, verduidelik sy vrou, want hy’s beide oggende lank voor Heather opstaan, reeds weg. Heather wou nie eers eet nie, hoor die pa. Sy sou sommer daar in die flat vir haar brekfis kry, het sy gesê, en woeps, was sy weg. Die pa hoor toe ook Heather het so pas daar ingekom.
‘Dis dan nou oor tien! Heather, wat gaan aan? Waar was jy tot nou toe? Wie anders was daar nog in die flat saam met julle? Was julle alleen daar?’
Stukkie vir stukkie vertel Heather, so tussen die snikke deur, hoe sy gevra was om te help met punte-optel. Sy moes na sy woonstel te kom. Pa Moses is diep geskok, en diep teleurgesteld. Toe Heather die naam van die onderwyser sê, kyk Pa Moses oor na sy vrou. Sy trek net haar skouers op – ken nie die man nie.
‘Vertel vir my wie die man is, Heather, en van wanneer af kom jy al in sy flat. En moenie vir jou pa leuens vertel nie, asseblief! As ek nie tevrede is jy praat die waarheid nie, is ek Maandag by die skool. Ek gaan eers die prinsipaal sien; dan wil ek hierdie meneer sien! Dan wil ek julle altwee sien, saam met die prinsipaal! Vertel vir ons, jou ouers, wie die meneer is wat nie self sy werk kan klaar maak nie! Vertel vir ons alles wat in daai flat gebeur het, toe julle daar was. Ons luister! Myrna, sussietjie, gaan asseblief kamer toe, en maak die deur toe! ’
Heather het nooit gedink sy sou haar in so ‘n situasie bevind nie. Sy’s naar op die maag. Sy sit bewe op die stoel, en begin stamelend vertel van Meneer Balie, en wat sy in sy woontel maak. Heather vertel dat Meneer Balie vyf klasse het, en die meeste het twee vraestelle. Sy kan nie verduidelik hoe hy sy werk in Maart, en in die verlede klaar gekry het, sonder hulp nie. Toe vra haar pa haar prontuit:
‘Sê vir jou pa: het die man aan jou gevat? Kyk na my, Heather!’ en haar pa verhef sy stem effens.
Heather is ‘n warboel van angs en vrees, en kyk na haar ma. Toe begin sy weer saggies snik. Ma Moses staan op, en stap na Heather toe. Syt sit haar arm om Heather, en vra vir haar of hulle seks gehad het. Heather skud haar kop heftig, so al snikkend. Op die vraag of hulle gevry het, knik haar kop ja. Of hulle gesoen het, en of die meneer aan haar borste gevat het, antwoord sy kopskuddend, ja. Of hy tussen haar bene gevat het, skud sy weereens heftig haar kop vir ‘nee’. Mevrou Moses kyk na haar man, en knik om te wys sy’s seker Heather praat die waarheid. Toe praat die oom met Heather.
‘Heather, jy’s my oudste kind. Weet jy hoe trots is ons op jou, my kind? Jy’s die eerste een in die gesin wat matriek haal. Al die kinders in die familie kyk op na jou. Van almal se kinders, is jy die enigste een wat so ver kom. Ek is maar laag uit. Jy weet dit. My pa, en my broers en my susters, is almal laag uit. Dis waarvoor ek en jou ma so werk. Julle moet van niks te kort skiet nie. Ek het my voorgeneem, saam met jou ma, toe jy as ‘n babatjie daar lê, dat die kindjie wat daar lê, alles sal kry wat haar hart begeer – alles! Toe Myrna kom, het ons dieselfde belofte gemaak. Ons sal onse vingers bloei werk vir onse meisie-kinders! Jy’t ons nog nooit teleurgestel nie, Heather! Nie deur al die jare nie! En jy’t alles gekry wat jy voor gevra het, Heather! Ek brek by die werk met my kind! Net die witmense se kinders gaan tot by matriek – en mý kind ook, sê ek vir hulle! My kind skryf ook Graad 12, dié jaar, se êk vir hulle. Dan kyk hulle so vir my! Hoe kan jy dan nou, my kind? Hoe kan jy? Jy’s mos nie stupid nie, man! Jy’s smart! Wat moet ek sê as dit uitkom my kind lê by haar onderwyser in sy flat?
Heather begin weer bitterlik begin te huil, met haar kop op haar arms.
‘Huil gaan jou niks baat nie! Waar’s jou foun! Bel daai man, en sê hy moet hier kom! Nou! Maak nie saak waar hy is nie! Sê hy moet hier kom! Ek en jou ma wil hom nóú hier hê. Waar’s jou foun?
Heather kom regop, en kyk met groot oë na haar pa, en snik aaneen. Tussen die trane deur, pleit sy met haar oë haar pa moet dit nie doen nie. Haar pa dring aan hy wil die man nou sien. Die ma raak bekommerd, want haar man kan geweldadig raak, en dan’s hy onkeerbaar.
‘Ek wíl hom sien; ek gáán hom sien – hiér, vanaand nog, of by die skool! Jy’s mý kind! Jy’s ‘n skóólkind! Sy fokken moer! Hy moet kóm! Fóún hom! Ek wil in sy gevriet kyk! Sê vir hom hy moet nóú kom. Jy het mos sy nommer! Ek wéét jy’t sy nommer. Hulle soortes werk so!’
Heather kyk hulpeloos na haar ma, haal die selfoon uit haar sak, soek die nommer, en skakel. Sy begin weer huil toe die foon lui, en toe die stem aan die anderkant antwoord. Dit neem ‘n rukkie voor sy haar boodskap behoorlik aan Meneer Balie kan oordra. Sy antwoord met ‘n sagte ‘ja’, en toe weer ‘n ‘Ja, Meneer’, en gee haar adres oor die foon. Toe lê sy al huilend met haar kop teen haar ma.
‘My pa en my ma, ek is spyt!’ snik sy teen haar ma ‘Vergewe my, asseblief, my pa! Ek is so skaam!’
Haar ma tel haar op, en druk haar in haar pa se rigting. Sy gaan al snikkend na haar pa toe, en staan voor hom waar hy op die dubbelbank sit. Heather is sy oogappel; sy spogdogter. Sy’t maklik deur haar grade gegaan op skool, en in die huis het hulle lank voor Graad 12 al, begin te praat, oor geld spaar, as sy verder wou gaan leer. Sy’s ‘n pragtige kind, met ‘n oop geaardheid, baie behulpsaam met alles, en kom maklik met mense oor die weg. Sy’t vrywilliglik aangebied om as casual by die supermark te gaan werk om te help met sommige van die huis se uitgawes. Die pa het nooit gedink aan ‘n dag soos wat hulle daardie aand belewe het nie. Heather het die soort geaardheid gehad, sy sou sommer self aankondig as sy die dag in ‘n jongetjie belang gestel het.
Solly Moses sien sy dogter het berou, en is opreg skaam, soos sy daar voor hom staan. Hy vat haar aan die hand, en trek haar langs hom op die bank neer. Toe sy langs hom sit, sit hy sy arm om haar. Die gebaar van haar pa, is weer te veel vir Heather, en sy begin bitterlik te huil, met haar gesig teen sy bors. So sit die familie in die voorkamer – soos mense wat ‘n familie-lid verloor het. Oom Solly se kos staan op daardie stadium nog net so op die stouf.
‘Daar’s ‘n kar buitekant, Mamma’ sê die oom meteens. ‘Sit die lig buite aan, asseblief! Laat die man inkom! ’
Toe Meneer Balie in die voorkamertjie in kom, en Heather in haar pa se arms sien, sak sy hart in sy skoene. Hy’t gebid en gehoop, teen hoop, dat dit nie so iets moes wees nie. Op pad na die huis toe, het hy gebid dat sy onderwys-loopbaan nie daardie aand in daardie huis moes eindig nie.
‘So, jy’s Meneer Balie, Heather se onderwyser,’ is Oom Solly se eerste opmerking toe die man voor hom kom staan.
Hy staan nie op nie. Hy bly sit, met sy dogter in sy arms. Voor hom staan ‘n jong man – netjies, aantreklik, met ‘n oop gesig. Sy oë lyk bang, en sy vingers beweeg senuweagtig langs sy sye. Hy kry ‘n sagte ‘Naand, Meneer, naand Mevrou’, uit.
‘Sien jy hier in my arms, Meneer Balie? Sy’s my oudste dogter. Ons is baie trots op haar. Sy’s die enigste een wat so ver op skool gevorder het. Ons wil hê sy moet nog verder gaan, sodat sy uit hierdie lokasie moet uitkom. Ons wil hê onse kinders moet ‘n beter lewe as ons hê. Ons werk hard daarvoor, Meneer Balie. Maar vanaand, toe ek van die werk af kom, het my kind my hart baie, baie seer gemaak. Sy’t my alles vertel, Meneer Balie. Julle twee was alleen daar in jou flat. Jy, Meneer Balie, is ‘n onderwyser. My kind is in jou hande by die skool. Jy moet my kind beskerm. Jy moet my kind die regte pad wys, en haar lei. Maar wat maak jy, Meneer Balie? Jy vat advantage van my kind! Jy vat my kind sommer vir kak, man, Meneer Balie, man! Is dit om ons nie ryk mense is, met karre nie? Ons bly sommer net hier in die lokasie. Nou wie’s jy, dan? Watse onderwyser is jy, huh? Praat met my, man! Nou staan jy daar! Grootman onder die kinders; kind voor ‘n grootman! ‘Is mos wat jy is, of hoe? Huh? Is dit reg wat jy gedoen het, Meneer Balie, om ons so seer te maak?’
Meneeer Balie voel skielik ‘n diepe berou oor hom kom, toe hy so na die man luister. Hy kon sien toe hy in die huis in stap, dat hy met gewone werkersklas-mense te doene het. Hy besef net daar waar hy staan, hy’t die fout van sy lewe gemaak. Tog kry hy woorde uit. Waar dit vandaan kom, weet hy nie.
‘Meneer Moses, en Mevrou, ek staan hier voor u in die skande, en ek erken skuld. Ek vra u om my te vergewe, asseblief. Ek het my posisie misbruik. Ek het my hande op u dogter gesit, terwyl ek van beter moes geweet het. U het my vertrou. Vergewe my, asseblief! Heather, vergewe my, asseblief!’
Terwyl hy besig is om te bieg, gebeur daar ‘n ding voor sy oë, wat hom so diep tref, dat hy met ‘n knop in sy keel staan kyk. Oom Solly sit sy voorkop op sy kind se kop neer, en begin self saggies te snik. Die ma staan nader, en gaan langs die rusbank, aan haar man kant, staan, met haar hand op sy skouer.
‘Dit was nooit so beplan nie, Meneer Moses, en Mevrou! Dit het sommer net so gebeur. Glo my, asseblief, ek het nie omgang met Heather gehad nie. Glo my, asseblief! Ek sou ook nie! Ek het haar gesoen. Ek het aan haar borste gevat, en … en aan haar lyf. Ek het my kop verloor. O, asseblief! Ek is so skaam! Ek besef nou, ek het u baie, baie seer gemaak!’
Meneer Balie wil vorentoe staan, en aan Oom Solly se skouer vat, maar hy bly vasgenael daar staan. Die trane loop vryelik oor sy wange.
Heather en haar pa is aan die huil, en die ma staan hulpeloos daar. Oom Solly lig skielik sy kop op, en hy kyk met openlike walg na die onderwyser. Toe brul die oom sy frustrasie op Meneer Balie uit.
‘Hei, Balie, man! Wat staan jy nog hier, huh? Fok uit my huis uit, man! Jy maak my huis vuil, jou fokken hond! Voetsek hier uit, man!’
Meneer Balie gee een verskrikte kyk, eers na Oom Solly, en toe na Mevrou Moses. Toe stap hy vinnig by die huis uit. En in die huis, sit die oom nog lank so, met sy twee meisie-kinders in sy arms, en sy vrou langs hom op die leuning van die rusbank. Haar koel hand lê so teen sy nek.
——–Deel 12 -Joani-hulle——-
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.