A place where stories unfold

Deel 13 – Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n Jeugverhaal

Adam weet al, die Maandag op skool, gaan daar baie vrae oor die verband oor sy oog wees. So hy is voorbereid om baie verdraagsaam te wees. Dit sal mos nie baat om kwaad te raak as dieselfde vraag tientalle kere beantwoord moet word nie. Op so ‘n eerste dag van skool, is almal gewoonlik opgewonde. Meeste leerders is angstig, want dis die dag dat die meeste onnies hulle punte vir hulle gee, as hulle dit wil hê. Joani het gewag Heather moes iets sê oor die Wiskunde-punte, want sy het immers reeds geweet. Dog, Heather was tjoepstil, en het net Adam agterna gekyk, toe hy groet.

Met die aanvang van die wiskunde-periode staan die Graad 12 – leerders nog so op ‘n klompie, en luister na Adam se avontuur in die lokasie, toe die skoolhoof daar instap. Hy kondig plegtig aan dat Meneer Balie onverwags bedank het, met onmiddellike ingang. Die leerders word gevra om asseblief geduldig wees terwyl die skool ‘n gepaste plaasvervanger soek. Ongelukkig sien geeneen van die ander wiskunde-onderwysers kans vir Graad 12 onderrig nie. Die klas luister geskok na die nuus, en toe die skoolhoof uitstap, is daar behoorlik gegis oor wat kon gebeur het. Heather sit bleek in haar stoel, en kyk na Joani. Die kinders staan weer in klompies, en loop oor en weer na mekaar toe soos hulle die onverwagte nuus verwerk. Toe Joani sien Heather glip by die deur uit, gaan sy agterna, en kry haar bestie onder trane in die meisies-toilet. Toe Heather vir Joani sien, loop sy na Joani toe, en val in haar arms. Sy huil  onbedaarlik.

‘Dis my skuld – alles my skuld!’

Joani stoot haar dadelik van haar af weg, en skud haar aan die skouers.

‘Heather! Heather! Kyk na my! Stop dit nou! Jy stop dit nou dadelik! Moenie dat die kinders jou so sien nie!’

‘Maar jy verstaan nie! Jy weet nie!’

‘Nee, Heather. Ek en Adam weet! Ons het jou uit die motor sien klim, Saterdag-aand. Nee, niks meer trane nie! Ons is jou besties! Ruk jou reg! Was gou jou gesig, dan gaan ons in. Ons gesels net so saam oor hoe ons nou gaan maak, en wys dat ons net so geskok is soos al die ander. Was nou jou gesig; dan gaan ons in!’

Toe Joani en Heather gesels-gesels in die klas kom, is Adam aan die woord.

‘ … so dit kan wies sy ouers is nie lekker nie. Hulle’s altwee al oud en siekerig al, en hy wil natuurlik naby wies om hulle by te staan met die covid-ding, soes ek wat nou by my oumie is. So, ons moet maa’ die beste maak van die ding. Gelukkig is ons net vyf in die maths-klas. O’s kan iets uitwerk tussen o’s, tot ’n  nuwe iemand hie’ntoe kom.’

Joani is die hele tyd bewus dat Heather enige tyd ‘n ineenstorting kan kry.

‘O, julle!’ sê Joani skielik, en haal haar sakdoekie uit. ‘Ek het sommer trane in my oë! Hy was die beste! Ons gaan nie weer so ‘n Meneer kry nie!’

Met die sakdoekie teen haar oë gedruk, draai sy na Heather toe, en altwee meisies staan snik daar teen mekaar. Die klas is stil. Merci staan nader, en slaan haar arms om haar tjommas. Almal verstaan – die klas was lief vir die jong meneer, en Heather, veral, was gek na hom. So kan Heather haar behoorlik uitsnik sonder dat daar enigsins ‘n vinger gewys kan word, of ‘n frons op ‘n voorkop kan verskyn. So is al drie ook weer by die deur uit.

Skielik kom ‘n aankondiging oor die interkom, vir Adam Daniels om kantoor toe te kom. Hy berei hom voor om die verband om sy oog te verduidelik. Daar word egter net  vlugtig na die oog  verwys. Tot sy verbasing, wens die skoolhoof hom toe geluk, met sy uitstekende wiskunde-uitslae van vier-en-tagtig persent vir Junie-eksamen! Dit is verreweg die beste resultaat wat enige leerder van Charleston ooit in Wiskunde behaal  het, in enige eksamen. Adam is sprakeloos. Hy laat sy kop sak, en maak sy oë toe. ‘It worled! It worked!’ klop dit in sy kop. Toe hy opkyk, skuif die skoolhoof ‘n brief oor die lessenaar na hom toe – van Meneer Balie af. In die brief vra Meneer Balie of hy verantwoordelikheid sal neem om van die volgende week af, videos te ontvang, en om dit aan die vyf wiskunde-leerders in die klas te gee. Die videos sal elke week alle lesse wat hulle nog moet kry vir die kwartaal, bevat. Die lesse sal deur homself op video aangebied word, net soos hy dit in die klas sou gegee het. Die voordeel van die video is dat leerders dit oor en oor sal kan speel totdat hulle die bewerkinge goed onder die knie het. Hy dui ook in die brief aan dat hy voel dat Adam die aangewese persoon is om die leerders aanvullend by te staan, omdat hy so ‘n uitsonderlike insig in die vak toon.

Adam stem in om die verantwoordelikheid te neem ,maar hy vra net die skoolhoof moet self na die klas toe kom, om die inhoud van die brief, met die klas bespreek. Die skoolhoof stap toe saam met hom klas toe, en verduidelik daar aan die verskrikte klas die inhoud van die brief.  Die kinders begin spontaan hande klap. Joani loer onderlangs na Heather, en sien dat die trane weer baie vlak lê, maar dat sy darem saam met die ander hande klap. Vir Adam is die meneer se versoek ‘n maklike een, al is hy verbaas dat die meneer hom gekies het vir die taak. Al wat hy wil doen is om ‘n nuwe epos adres te kry – die middag nog.

Natuurlik gons dit in die pouse oor waarom Meneer Balie so skielik bedank het. Weer moet Adam, as hy in die geselskap is, verduidelik dat Meneer Balie se ouers reeds ouerig, en siekerig is, en dat hy naby hulle wil wees aangesien die covid-pandemie lyk of dit aan die toeneem is. Sy verduideliking is heel aanneemlik en verstaanbaar, en teen die middag is die storie van Meneer Balie se skielike bedanking, ou nuus.

Aan die einde van die skooldag, staan die Three Musketeers, oudergewoonte eers bymekaar. Toe Adam ‘n ent van hulle af, verby loop, roep Joani hom, en wys hy moet wag. Toe Merci groet, wink Joani hom nader. Heather staan kop onderstebo.

‘Heather wil iets vir jou sê, Adam.’

‘Sy hoef nie. Dis fine. Dis tussen ons, en sal so bly. Promise!’

‘Maar Adam, jy’t so baie gedoen vandag. Jy’t uit jou pad uit gegaan om …’

‘Wat ek gedoen het, het ek gedoen, Heather! Jy moet maa’ oor‘it kom! Jy’s ‘n big girl! Kom oor’it!’ en hy draai na Joani toe.

Joani kyk met groot oë na Adam. Toe praat Heather saggies.

‘Dis oukei, Joani. Ek verdien dit. Ek was al die tyd net horrible met hom. Vandag het hy gewys hy’s ‘n beter, en groter persoon, as ek’.

Toe draai sy na Adam toe.

‘Ek wil net sê ek is so dankbaaar vir wat jy vandag gedoen het. Ek sal jou ewig dankbaar wees. En, vergewe my dat ek so onbeskof was met jou, Adam, asseblief. Jy het dit nie verdien nie. Jy’s ‘n baie nice iemand. Ek weet dit nou.’

Heather en Adam kyk na mekaar. Adam stap nader na Heather toe, en sit sy arm om Heather. Hy fluister naby haar oor, ‘We got your back, bestie! Be strong!’. Toe staan hy trug, en kyk glimlaggend na Heather. Heather se gesig helder op, en sy staan nader na Joani toe, en sit haar arm om Joani se lyf.

‘Ek het nooit geweet ek het die beste besties in julle twee nie! Love you both!’

Adam swaai sy sak op sy rug, knik met die kop na Heather, en wag vir Joani om by hom aan te sluit. 

Hulle stap in stilte aan. Toe hulle so min of meer by Joani-se-plek, in die steil paadjie, kom, praat sy.

‘Mag ek nou ook dankie sê vir wat jy vandag gedoen het, Meneer Daniels? Of gaan ek ook ‘n afjak kry?’

‘Afjak?Miskien het julle gedink,ve’dag, ek try om Mister Balie se reputation te protect – iets wat ek’ie wil gedoen‘et’ie, Joani! As ek vir hom oek protect het, in’ie process, is dit maa’ net ‘n co-incidence. Ek dink’ie o’s moet actually nog’ie baie oo’rit praat’ie. Let it go! Let’s move on! Ek voel te guilty!’

Joani verstaan nie, en probeer hard dink waaroor Adam dan nou so skuldig voel.  Toe sy vra, gaan staan Adam in die paadjie, en kyk na haar.

‘Verstaan jy nie, Joani! Ek het ‘n groot iets verkee’t gemaak, ve’dag! Onthou djy, ek het daai man gevra, Day One al, hoeko’dra hy ‘n tie! Onthou djy? En wie’t so afgegaan tienaan my, oor ek dai gevra’rit? Heather! Wiet jy watte, Joani? Dai Heather het op my, you know, … ge-pie-pie, van toe ek hie’ by Charleston a’n geko’rit! None stop! Elke opportunity wat sy ge-kry’rit, was sy op my!  En die irony is: ve’dag moet ek haar stêrre vir haa’ afvie! Ek is disgusted met myselwers: ek het ‘n verkeer’e ding reg gepraat, net om jou bestie se gevriet te save; toe save ek daai teacher se gevriet oek! Hy’t ‘n verkeer’e ding gedoen, dai man, en hy loep weg m’n it! Is dai reg, Joani? Hy’t sy authority gebruik om ‘n jonge, stupid meisie-kind, in sy kamer in te lure, solat hy sy han’e op haar kan kry. Dai’s mos verkee’t, man! Maa’ hy loep weg, omlat o’s’ie die meisiekind oek wil sien afga’t, saam’e hom’ie! So, om haar te save, kom hy oek weg! Ek het ve’dag goete gesê, Joani, wat ek wiet, is totally against the grain of what is right and just. Ek voel net so guilty soes dai jong, Balie! En dai’s wat my so seermaak, Joani! Ek voel ek’it ve’dag, al’ie mammies wat hulle girl-children skool toe stuur, ge-betray, Joani, man! Ek het vir Oumie oek ge-betray, ve’dag, Joani man!’

Adam ruk sy kop weg, en draai om, sodat Joani nie sy gesig moet sien nie. Toe Adam so hartstogtelik praat, toe verstaan Joani! Sy stap tot agter hom, en leun saggies met haar kop agter teen sy nek, tot sy voel hy leun effens trug.                      

                                                      Deel 13 – Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal.

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *