Deel 8:  Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal.                                            

Dat Christie-Boy meer en meer van Boeta Ses se werk oorneem, kom hy eers nie agter nie. Hy besoek self die huise, met sy gewapende lyfwag; hy doen ook self die betalings aan die dwelmbase, in plaas van Boeta Ses; hy besoek self die nagklubs om betalings daar te doen, en by die huise betaal hy self die protection-geld aan die gangster-base. Dit dring nooit tot hom deur dat hy deur die onderwêreld, met wie hy sake doen, al is dit Boeta Ses se sake, as ‘n gangster beskou word nie. As jy business wil doen met Boeta Ses en sy netwerk, dan doen jy dit deur Christie-Boy. Christie-Boy bring jou in die netwerk in, of Christie-Boy blacklist jou. Boeta Ses beweeg op die agtergrond. So raak Christie-Boy die gesig van Boeta Ses se netwerk. So begin hy bekend raak onder die mense wie hulle werk in die donker doen, en wie niemand vertrou nie; hulle vir wie lewens niks beteken nie; en wie net die mag van geweld, en geld, verstaan. Deur hulle, floreer Boeta Ses se besigheid.

Skielik, eendag, is daar onverwagse probleme – eers by een huis, en toe by die ander huise. Hulle daag verniet by twee huise op – die huisbase is nie daar nie. By ‘n derde is daar gaste in die huis, maar ook nie huisbase nie! Toe hulle in die motor klim, hoor skree hulle iemand uit die huis uit,

‘Dies nou o’se huis! Fok off! Julle kom’ie weer hie’nie!’

‘Get down! Get down! Go, go, go!’ skree die groot wit Russiese lyfwag, en gryp van die voorste sitplek af, na agtertoe, en trek Christie-Boy met geweld op die vloer plat. Toe klap die skote agter hulle. Eers toe hulle op ‘n twee-baan pad uit die township uit is, praat hulle.

‘This is bad! This is war! I don’t like it!’ mompel die lyfwag. Billy, die bestuurder, is doodstil geskrik.

Christie-Boy se verslag aan Boeta Ses maak die grootman se gesig blou van woede.

‘Skollies!’ stap hy in die huis rond. ‘Skollies’! Hulle mors met Ses! Hulle mors met my business! Ons almal se business!

In ‘n vergadering, die volgende aand, in ‘n kantoor van  die nagklub wat maandeliks deur Christie-Boy besoek word, en waar hy goed bekend is onder vertrouelinge van die nagklub-baas, word die verslag weer gegee. Die netwerk se base is almal daar. Konsensus: die plekke moet teruggevat word – so gou moontlik. Later in dieselfde week, word die war-room meeting gehou. Tot Christie-Boy se groot verbasing word daar in die middel van die vergadering twee polisie-manne tot die vergadering toegelaat. Hulle dra gewone klere, maar die base spreek hulle aan as brigadier díe, en brigadier daai. Daar kom ‘n beklemming om Christie-Boy se hart. Waar hy grootword op die strate, is polisie-mense die laaste mense met wie jy vriende moet wees, never mind, moet saam-sit om ‘n war-tafel. Die war-tafel beteken daar gaan geskiet word. Daar gaan mense doodgemaak word. Vir dae lank gaan die Kaap omgekrap word. Somtyds word onskuldige mense ook doodgeskiet – verkeerde plek, op die verkeerde tyd.  Die oorlog op die Kaapse Vlakte, soos die koerante dit noem, kan aanhou tot die plek weer mak gemaak is, en die besigheid weer rustig kan voortgaan. Eers moet daar uitgevind word wie verantwoordelik is vir die oorname van die breek-huise. Christie-Boy lê die nag bedruk in sy bed.

 Die oorlog op die Kaapse Vlakte word toe sommer ‘n paar dae na die beplannings-vergadering, skielik ‘n vroëe werklikheid – maar net by Boeta Ses se huis! In die na-nag word hy saggies wakker geskud. Billy! Christie skrik hom koud! Dit wemel van figure in die donker van die gangetjie aan die kant van Boeta Ses se huis!  

‘Trek aan! Trek aan!’ sis Billy deur sy tande. ‘Maak gou!

Terwyl Christie-Boy vinnig aantrek, kyk hy oor in die donker waar Lymie-Boy ook aantrek. Hy gryp sy boeksak, en toe Billy weer deur die gordyntjie loer, prop hy sy besigheidsboekies, werks-wallet met al die kaarte in, al die sleutels van die bank-safe, in die sy-sakkie van die skoolsak. 

Hy’s net klaar, toe val die eerste petrolbomme teen die huis se voordeur, en voorkamervenster. Hulle sien die helder vlamme van bo af. Nog petrolbomme breek die sitkamer se ruit onder, sodat die vlamme dadelik uitslaan.

‘Buya! Buya! Word wakker! Word wakker!’ skree Lymie-Boy toe hulle deur die huis nael.

Absolute chaos volg. Die voorkant van die huis staan in ligte laaie. Die drie figure vlug vinnig ondertoe, en hardloop agtertoe deur die kombuis. Daar’s niemand in die jaart nie.. Toe die skote begin klap, spring hulle vinnig oor muur, en nael deur die klein jaartjie van die bure, tot by die anderkantse muur. Daar gooi hulle hulle lywe weer oor die muur, nael deur nog ‘n jaart, en val in ‘n gangetjie, twee huise weg van hulle eie huis af. Orals gaan die ligte in die huise aan. Dit skree en roep. Mense hardloop uit hulle huise uit, tot in die straat. Dan hoor hulle die stengeweer van Boeta Ses: rat-ta-tat, rat-ta-tat. Hulle drie hardloop uit tot in die straat, hulle hoodies laag oor hulle gesigte. In die lig van die vlamme uit die onderkant van die straat, sien Christie-Boy die nattigheid op Lymie-Boy se gesig. Mense hardloop oor en weer. Dit skree. Dan klap die skote weer. Aan-een, aan-een. Billy vat vir Christie-Boy aan die arm, en draai hom weg van die toneel van die brand.

‘Kom o’s waai! Moet’ie haloep’ie! Whatever julle doen, o’s loep net! Moet’ie in mense se gvriete kyk’ie! O’s loep net stadig aan!’

‘En so stap hulle weg van Boeta Ses se brandende huis, waarin hulle ‘n paar minute gelede nog lê  slaap het.

Lymie-Boy, gat na jou  family toe, nuh! Jy gat safe wees daarsoe!’

Lymie-boy kyk nog een keer na die rooi lig wat die groot brand in die naglig maak. Toe kom hy vinnig na Christie-Boy toe, en gryp hom in ‘n broederlike druk styf teen hom vas. Regs, links; weer regs, en weer links, groet die jongmanne mekaar. 

‘My broer! Gat maa’ hystoe, man! Mmm? ’ sê hy in ‘n huil-stem.

Dan swaai hy om, en stap vinnig van hulle af weg. ‘n Paar tree verder draai hy om, en roep trug, ‘Thank you, Billy’. Billy lig sy vuis op in ‘n power salute. Hulle sien hom vinnig af draf Lower Main Road toe, en in ‘n systraat verdwyn. Hy’s oukei. Hy ken almal daar. Die grootman en die jongman gryp mekaar daar in die straat, en hou mekaar ’n rukkie vas. Hulle twee’t baie dinge saam deur gemaak. Billy praat dringend by Christi-Boy se oor. Sy laaste woorde is, ‘Wies djy net safe, nuh!’, en hy stap vinnig in die straat af, sy hande diep in sy jacketsakke, en sy kraag opgedraai. 

*

Waarnatoe nou? dink Christie-Boy. Hy dink aan Billy se haastige woorde aan hom.

‘Christie-Boy, jy’s in groot, groot kak! Hulle soek vir jou, en vir Boeta Ses! Jy’s die kingpin in’ie business! Hulle gattie rus voor hulle nie die hart van’ie business uitgeruk het’ie! Jy’s part van’ie hart! Dai daa’, is’ie vrinne mense nie, Christie-Boy! Dai’sie very same mense saam’e wie djy en Boeta Ses om’ie war-table gesit’et! Hulle soek die busines vir hulle selwers! Luister vir my! Raak weg uit die Kaap uit! Raak net weg! Ek line vannag nog! Ek ko’nooit weer trug hie’ntoe nie! Gat weg, ou klong! Jy’s smart! Doen iets saam’et jou liewe! Whatever jy doen – moetie hie’ bly nie!’

Christie-Boy weet hy kan berg toe stap, al met die agterstrate langs, en in ‘n park naby die berg gaan slaap tussen die bergies. Maar dan, die bergies sien alles; hulle hoor alles. Hulle is die polisie se beste informante. Vriende? Nee, hy het nie meer vriende nie. Na ‘n rukkie besef hy sy enigste veilige plek, waar niemand hom leed sal aandoen nie, is sy ma se huis!  

‘Ek is nie safe nie! Ek is nie safe nie!’ klop dit in sy ore. ‘Ek moet by my ma se huis kom!’

Toe nael hy eers weg van die Main Road af, af Lower Main Road toe, tot ver onder,en draai êrens regs in die rigting van sy ma se huis. Hy stap eers tot by die kant, en kyk langs die huis af. Haar motor is langs die huis! So, sy’s by die huis. Haar kamervenster is donker. Hy klop liggies aan die kamervenster. Toe hy ‘n geskuifel binne hoor, fluister hy net hard genoeg vir haar om te hoor:

‘Dis ek, Christie-Boy, Mammie! Moetie die lig aansit’ie, Mammie! Moetie-die-lig-aansit-‘ie!’ pleit hy dringend. ‘Maak agter oop, asseblief! Agter!’

Hy hoor hoe sy sy naam uitroep, en hy sê weer, ‘Maak agter oop, Mammie!’

Die agter-deur gaan binne sekondes oop, en Christie staan in sy ma se kombuis, na twee jaar en nege maande!

‘Christie-Boy, my kind! My boy!’, snik Dianne Daniels. Sy spring vorentoe, en gryp haar kind na haar toe.

Christie-Boy verstyf, en stoot sy ma weg.

‘Ek kan nie hier bly nie, Mammie!’, sê hy ernstig, en kyk sy ma dringend en bang aan. ‘Ek is in die moe’ligeid – groot moe’ligeid. Die underworld soek vir my. Ek is nie safe in die Kaap in nie, Mammie! Ek moet wegkom hiersa, Mammie! Hulle sal vir my soek! Hulle sal vir my dood maak!’ praat hy aan-een, en kyk dringend en bang, na sy ma. Dianne raak koud tot in haar sloffies.

‘Oukei, oukei!’ Moenie worry nie! Laat ek dink…’ en sy loop ‘n klein sirkeltjie. ‘By Mammie! Jy moet by jou ouma gaan bly! Dis ver van die Kaap af. Klein plekkie. Ek sal more in die dag in, plan maak vir ‘n lekke kar af daar’n toe. Kom sit hier by my. Luister mooi vir my: die’s wat o’s doen …’

En vir die res van die nag vertel Christie-Boy vir sy ma van sy lewe by Boeta Ses. Sy ma raak saam met hom bang. Sy le haar plan aan hom uit, en so in die gesels, word Christie-Boy ge-inisieer in die lewe op ‘n plattelandse dorpie. Hy voel hoe hy al rustiger raak, soos sy ma met hom praat. Toe hy later die duvet oor sy skouers trek, saam in sy ma se bed, dink hy aan haar ernstige woorde:

‘Kry dit in jou kop in, my kind: van vannag af, is jy nie meer Christie-Boy nie! Jy gebruik jou tweede naam: Adam! Jy’s Adam Daniels. Verstaan djy? Wat is jou naam?’

‘Adam Daniels.’

——————————————————             [Einde Uittreksel 8]

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *