A place where stories unfold

Deel 7: Uittreksel uit Joani-hulle – ‘n jeugverhaal       

‘Nou moet julle twee meer tyd gee vir julle skoolwerk, nuh? Lymie-Boy sê vir my daar’s ‘n exam om die draai. Kyk nou eerste na dai, nuh? Hoor julle twee?’ kom die opdrag eendag aan die twee jong manne.

Hulle begin meer tyd insit elke middag, en is minder op die hoek. Baie middae wys hulle net gesig daar, en na ‘n halfuur, is hulle al weer weg. Dis in hierdie tyd dat Christie-Boy se ma een dag daar verby loop, en vra of enige van die klomp daar, ‘n seun van hulle ouderdom, met die naam Christie-Boy, ken. Natuurlik ken nie een van die groot kinders daar so iemand nie. Christie-Boy wie? Sy stap teleurgesteld verder in Main Road op.

Die nuus kom by Christie-Boy uit, en ontstel hom innerlik. Vir wat kom sy ma nou na hom soek – na al die jare? Hy maak reg om eksamen te skryf. Hy wil goed doen, want ‘n goeie punt in Graad 11, verseker dat jy halfpad deur Graad 12 is. Hy gaan stil deur die dag, en bring die middag alleen in sy kamer deur, terwyl Lymie-Boy vir ‘n uur of so, hoek toe is. Moet hy huis toe gaan, en vir sy ma sê, sy moenie na hom soek nie; hy is beter af daar waar hy nou is; sy kan die huis vir haarself hê– vir haar, en die mans, wat sy snags daarnatoe bring? Op die ou end besluit hy om net daar by Uncle Boeta te bly.

Hy sien haar wel een oggend. Sy staan op die hoek waar meeste leerders van Albertus Louw High, opstap, skool toe. Hy draai weg, en stap stadig in ‘n systraat af, weg van die skool af. Hy hoor nie eers Shaafika, een van sy klasmaats, en ‘n hoek-vriendin, kom agter hom aan nie. Sy’t hom gesien omdraai, en kom vinnig agterna gestap.

‘Christie-Boy! Chrisie-Boy, kan ek met jou praat? It’s none of my business, I know, ok? But give me a hearing, please!’ vra sy ernstig.

‘Wat is dit, Shaafika? As jy weet dis none of your business, vir wat wil jy dan daaroor praat?’

‘Ek het die vrou op die hoek gesien – dis dieselfde vrou wat laas week vir jou kom soek het daar by ons. Is daai jou ma? Huh? Sy’s jou ma, nu? Ek kon nie die vrou se gesig vergeet nie; die disappointment op haar gesig nie, yo, toe ons vir haar sê, ons ken nie so ‘n iemand, met so ‘n naam nie. Haar gesig het heeltemaal geval, en sy’t baie bang gelyk. Daar staan sy weer op die hoek, en sy wag – miskien kom haar kind daar verby. Maar sy gaan jou nie sien nie, Christie-Boy, en daai pyn binne-in haar, gaan grotere wees vandag!’

Shaafika is ‘n kind uit ‘n goeie huis. Alleen-kind! Kry alles wat sy wil hê – behalwe liefde. Daarom staan Shaafika tot laat op die hoek voor sy huistoe gaan – net om die draai.

‘Shaafika, jy’s ‘n nice iemand, you know, maar jy praat van goete wat jy niks van weet nie! Jy weet niks van my af nie. Jy praat van pyn! Weet jy hoe lyk pyn? Kyk in my gesig in, Shaafika – hier’s pyn!

‘Ek het nogal altyd gewonner wat is daai pyn in jou oë as jy soe alleen staan, Christie-Boy. Nou verstaan ekke. Maar jy kan die pyn vat, Christie! Jy’s sterk! Jy’s ‘n sterke iemand! Maar daai vrou wat daar op die hoek staan wag, is nie sterk nie! Whatever sy vir jou gedoen het, Christie-Boy, dit vriet haar op. Sy soek vir jou, want sy wil reg maak!’

‘Sy’t my ge-abandon, Shaafika! Boeta Ses het vir my ingevat! Hy’t vir my ‘n regte dak gegee. Julle, my skoolvrinne van die hoek, het my gehelp om die pyn te manage. Moet ek trug gaan? Shaafika? Moet ek weer na die pyn toe gat?’

‘Nee, Christie-Boy, nee! Ek sê nie daai nie! Ek sê net: gaan na haar toe. Praat saam’et haar, en dan  loop ons aan, skool toe. Dan het sy at least peace in haar hart. Gee haar net daai!’

Die enigste meisie-kind onder die lot, op die hoek, het Christie-Boy na aan trane. Hy draai sy kop weg van haar af.

Shaafika praat sag met Christie-Boy, ’Ek verstaan jou pyn! Maa’, daar gat niks van jou af nie! Niks’ie! Jy bly die sterkere ene!’

‘Die tyd is nog nie reg nie. Ek sal, maar nie nou nie. Ek sal gaan as ek reg is. Promise!’

‘Promise vir jouselwes, nie vir my nie!’

‘Ek sal gaan as ek reg is. Ek promise myself dit’, sê Christie-Boy, en wil verder afstap met die systraatjie.

‘Ek sal met haar gaan praat!’ sê Shaafika skielik. ‘Eksal haar sê ek onthou haar van die hoek, van nou die anderdag. Ek sal vra of sy nog altyd vir die seun, Christie-Boy, soek. Miskien praat sy met my. Ek sal jou vanmiddag ‘n briefing gee oor die conversation.’

Voor Christie-Boy haar kan waarsku om niks oor hom te sê nie, het sy reeds omgedraai, en stap sy vinnig in die systraatjie op na die Main Road toe, om oor na die hoek te stap, waar sy die vrou nog laas gesien het.

Sy kom na Christie-Boy toe gedurende pouse die volgende dag.

‘Ek het met haar gepraat. Ek het haar gegroet, en vir haar gesê ek onthou vir haar van die anderdag toe sy kom vra het, of ons so ‘n iemand daar rond gesien het.’

Christie-Boy luister na Shaafika, maar sy kop is weggedraai, en hy kyk ver oor die geroeste dakke na die Kaap toe.

‘Ek vra toe vir haar of dit haar kind is, en of sy die kind gekry het. Toe raak sy saggies aan die huil. Sy’t met haar een hand haar mond toegehou. Sy’t haar kop heen en weer geskud. Weet jy waaraan het ek toe gedink? Ek het gedink die vrou huil soos iemand wat nou net gehoor’t haar kind is dood. Dit was ‘n heel anderste soort huil wat sy gehuil het!’

Christie sit luister heeltyd, maar hy wys niks, en sê niks. Dis of hy nie ge-interesserd is in wat Shaafika sê nie.

‘Toe vra ek vir haar of die kind by onse skool is, en in watter graad die kind is. Ek sal help soek,’ vertel Shaafika, en bly stil. Toe eers draai Christie na haar toe, en buig oor na haar toe.

‘En wat sê die vrou  tóé, Shaafika?’

Shaafika bly stil, en kyk weg.

‘Shaafika? Ja, so gedink! Sy wiet’ie! Sy wiet’ie eers in watter skool, en in watter grade, ek in is’ie! Jy kan maar sê!’

Christie se stem is sag, maar Shaafika kan sien hy hou hom in.

‘Sy was natuurlik onder by die GET-skool, en het daar gaan vra. Nou’s sy te skaam om by die high school te kom vra of haar kind daar skool loop. Hoe doen sy dit? Sy sal haarself in die oë sit! Watse soort ma kom soek haar kind by ‘n skool, dan wiet sy nie ee’s in watter grade die kind is‘ie?’

Hy’s vir ‘n rukkie stil, en Shaafika wonder of sy die regte ding gedoen het. Toe hy weer praat, is sy stemtoon heel anders.

‘Shaafika, jy is ‘n goeie iemand. Dankie vir jou concern oor my. Dankie! Maar Shaafika, die’s ‘n iets wat ek en my ma moet uitsort. Laat haar soek! Ek kan vir jou dié sê: ek sal nie weer met ‘n ander pad op loop skool toe nie! As sy môre-oggend op daai hoek staan, en sy roep vir my, sal ek na haar toe gat! Ek sal saam’e haar praat. As ons klaar gepraat het, sal sy verstaanhoeko’ ek nie saam met haar by daai huis wil bly nie.’

Shaafika is so verbaas oor wat Christie-Boy sê, dat sy hom aan die arm gryp. ‘Oh, wow, Christie-Boy!’

Sy het, vandat sy hom leer ken het, hom stilweg bewonder. Hy is anders as die lawaai-klomp op die hoek. Sy weet eintlik niks van hom af nie, maar dit maak nie saak nie – sy hou van hom – sommer baie.

‘Maar jy promise om vir jou skaars te hou, en nooitweer met haar oor my te praat nie, oukei? Hou jou uit die ding uit. As jy in haar vas in loop, is dit net ‘n korte chat, en dan’s jy weg. Ek weet wat ek wil hê. Ek is nie ‘n kind nie. Ek’s amper sewentien. Ek trust jou, Shaafika!’

Hy staan naby Shaafika, en kyk in haar oë. Daar’s skielik ‘n oomblk waarin elkeen besef hulle’t nou net ‘n diepe saak van die hart van die een, oopgemaak. Toe buk hy skielik vorentoe, en pik haar liggies op die mond, seker om dankie te sê. Shaafika is skoon oorbluf oor die skielike soen, en  kyk vinnig om haar.

 Toe kyk sy hom vol in die oë, en sê met ‘n sagte stemmetjie, ‘Jy kan vir my trust, Christie-Boy, m’n alles!’ 

Sy  swaai om, en stap kop onderstebo van hom af weg, na haar vriendinne toe. En so word ‘n sakie van die hart, tussen twee jong mense, op ‘n baie ongewone manier, bevestig.

                                   

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *