A place where stories unfold

Deel 2: Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal

Eerste week, Februarie 2020.

 Dis die dag toe die skoolrooster vir die eerste keer in werking kom. Toe die Graad 12 leerders in die klas kom vir die administrasie-periode, sit Meneer Jerome Balie, die nuwe wiskunde-onnie reeds in die klas en wag. Die seuns borrel by die klas in, met sommige van die meisies laggend en gillend tussen hulle. Dan verskyn Tora in die deur, met Angelo Pretorius op sy rug. Hulle sit vas in die deur, en staan en beur daar. Tora se kop is laag soos hy sukkel met die vrag op sy rug, terwyl die vrag hom piets met ‘n Port Jackson-takkie. Angelo gly af en stoot sy perd by die deur in. Toe eers sien hulle daar’s ‘n onderwyser in die klas. Hulle sluip druipstert in die gang af, bank toe. Toe hulle almal hulle plekke in geneem het, staan Meneer Balie op, en kom staan voor sy tafel, arms gevou. Hy kyk na die klas. Dis doodstil. Die klas kyk na hom. Hy kyk na elkeen afsonderlik vir so ‘n paar sekondes – hy kyk die hele klas deur; al twee-en-dertig van hulle. Die oë loer na hom, en as dit lyk sy oë swaai hulle kant toe, dan sak die koppe. Nie Heather nie. Sy wag vir daai oë!

Maar eintlik is die klas ook besig om vir Meneer Balie op te weeg. Voor hulle by die tafel sien hulle ‘n jong onderwyser. Hy’s seker nie ouer as 25 nie; op die meeste 28. Hy’s netjies. Kompleet met das en netjiese hemp. Hy dra nie ‘n jeans nie. Die meisies wat voor sit, sien hy dra duur tan-kleur skoene. Snaaks, nie een van die mans-onnies trek so aan nie. Hulle dra almal jeans met hemde sonder das. Sy hare is netjies na die kant toe gekam. Smart draad. Sy gesig is oop; lyk na iemand wat makik lag. Hulle sien die lagplooitjies langs sy oë. Wakker oë. Sterk skouers ook.  Seker rugby gespeel op Universiteit. Gesonde kleur; lekker bruin-gebrande, sterk arms. Hierdie man gaan streng wees. Hierdie man gaan nie nonsens vat nie. Hierdie man gaan nie speel in die klas nie. Miskien buitekant speel, maar nie in die klas nie.  Wonder wat sy buite-muurse belangstelling is.

Joanie en Heather sit in die middel van die klas, by enkel lessenaars, langs mekaar. Mercy sit reg agter Joani. Olwethu sit voor teen die anderkantse muur. Agter haar sit Sylvia; dan volg die seuns tot agter in die hoek. Dis waar Tora, en die manne, sit. Voor agter die deur, sit Adam. Dan ‘n paar meisies agter hom. Dan in die middel rye, voor en agter Joanie en Heather, sit die klas versprei met meisies aan die voorkant en die seuns agtertoe. Min of meer soos hulle verlede jaar in Graad 11, in die ander klas, gesit het. Joani loer so skrams na Heather toe, en wonder vir wat sit Heather so penregop.  Kyk hom, ja, dink sy! Hy kyk dan ôns so deur!

Toe kyk Heather skuins na Joani toe, en skuif haar stoel agtertoe. Joani stoot haar stoel ook agtertoe. Die twee meisies staan gelyk op, en die res van die klas volg tot almal doodstil voor hulle stoele staan. Die onderwyser het ‘n goeie prent van hoe sy kinders vir 2020 lyk. Die kinders het ‘n ander prentjie – hulle klas-onnie is netjieser as die ander mans-onnies; hy lyk streng; lyk na iemand wat weet wat hy wil hê. Hy wil dissipline hê. Hy gaan nie ‘n slapgat-onnie wees nie. Hy sit nie agter die tafel nie; hy staan vóór die tafel – daar’s niks tussen hom en sy klas nie.  Alles dit word waargeneem – in net twee minute van stilte.

‘Goeie môre, klas!’

Lekker mansstem. Sy arms is nou langs sy sye, en hy’t ‘n treetjie nader na hulle toe gekom.

‘More, Meneer Balie!’ dreun dit in die klas.

‘Sit asseblief,’ nooi hy hulle uit. Hy stap nader, en staan nou ‘n tree voor die eerste leerder.

Hy kyk oor die klas heen. Hy lyk in beheer van die klas.

‘Ons het baie papierwerk om te doen vandag; naamlyste, met adresse en kontaknommers ook. Dit moet akkuraat gegee word, met alternatiewe waar nodig.  Ek moet volgens die inventaris van verlede jaar vasstel wie handboeke ingehandig het, en wie nie, want voor die einde van die dag moet julle handboeke kry. Daarvoor sal ek hande nodig hê, want die boeke is almal nog in die biblioteek. Voor ons daarby kom, moet ons darem mekaar eers leer ken, of hoe?’

Daar’s ‘n geskuifel in die klas soos die leerders agtertoe sit in hulle banke.

 ‘Hierdie jaar is ek jul klas-onderwyser; ons gaan die hele jaar saam wees. Dis ‘n belangrike jaar vir julle, en vir my. Meneer Baartman, het om ‘n bevorderingspos in die stad aansoek gedoen. Hy het dit gekry, en is sak n pak stad toe – in die vakansie al.  Nou sit julle opgeskeep met mý ‘n groentjie wat darem al vir twee jaar vantevore vir Graad 11’s klas gegee het. Maar ek is nie bang nie. Ek is goed gekwalifiseerd, en ek sien uit na die uitdaging. Ek het eers geskrik, maar nou’s ek bly, want ek het verlede jaar gesien julle koppe werk anders; julle is nie bang om nuwe dinge aan te pak nie. Ek hou daarvan, want ek dink soos julle dink. Eintlik wil ek julle gelukwens met die prestasie wat julle as klas behaal het. Ek het na die uitslae van verlede jaar gekyk, en gesien hierdie klas is die enigste klas wat ‘n honderd persent slaagmerk in die eindeksamen behaal het. Ek weet hoe dit gekom het. Veels geluk, daarmee!’

Terwyl Meneer Balie praat, stap hy so tussen die rye deur; staan in die middel, en praat agtertoe; draai dwars, en stap na die oorkantse muur toe. Al pratend. Die koppe volg hom orals waar hy loop. Hulle luister na elke woord.

Toe hy weer voor staan, kyk hy oor hulle uit, en sê:

‘Ek wil nou graag by julle hoor: wat julle as indiwidue, of as klas, van my, as jul onderwyser, wil hê hierdie jaar. Kom ons gesels met mekaar. Sê vir my hoe julle koppe werk. Waarvan hou julle in ‘n onderwyser, en wat skakel julle af. Moenie dat ek vir twee of drie maande loop en wonder, voor ek weet wat in julle koppe aangaan nie. Kom ons praat net oor wat julle van jul klas-onderwyser wil hê. Ons moet so vroeg moontlik met mekaar leer ken, is dit nie?’ sê hy met ‘n glimlaggie.

Heather kyk na Joani. Joani loer na Heather. Van die kante af, en van agter af, word daar gewag.

‘My naam is Thurston Sampson, Meneer. Ek is bly Meneer is hier by ons’, kom Tora se stem van agter af. ‘Welkom hier by ons, Meneer Balie.’

‘Dankie, Thurston,’ antwoord Meneer Balie. ‘Hoekom is jy so bly?’

Daar gaan onmiddellik ‘n gegiggel op van agter af, want Tora sou die opvolg vraag nie verwag het nie. Hy het nie. Hy kyk Meneer Balie aan met ‘n uitdrukking wat sê: ‘Nou vir wat vra die man my so ‘n vraag?’ Toe sê hy vinnig: ‘Want ek like vir Meneer!’

‘n Groot gelag gaan op, want dis seker die maklikste manier om uit die vraag uit te kom. Meneer Balie moedig die klas nog aan, want die ys is nou gebreek. Een na die ander praat die leerders oor hul verwagting van ‘n klas-onderwyser: hy moet hulle nie in die middel van die jaar los en verdwyn nie; hy moet hule ondersteun ten alle tye in dit wat hulle onderneem; hy moet oor hulle wees soos ‘n vader oor sy kinders (groot gelag: ‘Daddy, Daddy!’); hulle sal met hom oorleg pleeg in alle projekte wat hulle aanpak om die werk ligter te maak vir almal.

Toe Heather haar stuiwer ingooi: ‘Hy moet lief wees vir ons!’, toe dawer dit! Meneer Balie slaan sy hande saam, en wys met groot oë, en kop-skuddend, die lawaai is te hard. Hy lyk heel verbaas, en kyk rond om die oorsaak van die grap te vind. Heather hang skeef na Joani toe oor, soos sy lag. Granville kom van agter af, klop Heather op die skouer, en haas hom weer agtertoe. So kom ‘n hele paar kinders aan die woord, en sê kortliks wat hulle van hul klasonderwyser verwag. Die klas raak stiller toe hulle sien Adam steek sy hand op. Dis snaaks dat hy iets wil sê. Hy sit altyd net daar.

Mister Balie, ek is Adam Daniels. Ek is bly Mister Balie vra ons dit. Ek wil net vir Mister Balie vra hoekom dra Mister Balie ‘n tie skool toe, asseblief.’

Die klas sit verwonderd. Watse vraag is dit? Jerome Balie is vir ‘n oomblik van stryk af oor die ongewone vraag, maar hy besef dadelik dis nie sommer so ‘n vraag nie; dis eintlik ‘n gelaaidevraag. Die klas is weer doodstil. Hulle kyk na Meneer Balie. Hulle wag. Meneer Balie kies sy woorde baie, baie versigtig.

‘Die onderwys-wêreld is ‘n professionele wereld.  Ek staan in die onderwys as ‘n professionele mens.  Ek het onderwys gekies as professie omdat ek dit as my roeping beskou. My werk het te doene met jong mense wat baie kwesbaar is vir invloede op hierdie stadium van hulle lewe.   Ek wil ‘n rolmodel wees vir die jongmense met wie ek werk, en ander in die skool. Ek is oortuig daarvan dat as ek ‘n goeie rolmodel vir my leerders wil wees, dan moet ek in alle opsigte van my lewe voorbeeldig wees – in die skool, in my werk, en hoe ek met julle werk. Ek moet ook as voorbeeldig gesien word daar waar ek in die openbaar met ander mense omgaan. Ek respekteer my werk. Ek respekteer vir julle. Ek wil julle nie net leer hoe om wiskundige prossese te leer, en toe te pas nie; ek wil julle leer om voorbeeldige jongmense te wees wat eendag julle plekke kan inneem in die samelewing – maak nie saak in watter hoedanigheid nie. Julle moet ‘n stewige bydrae tot die opheffing van ons sukkelende gemeenskappe kan maak’, sê hy toe met erns.

‘Om netjies aan te trek na my werk toe, en myself netjies voor my klasse te presenteer, is ‘n besluit wat elke persoon seker maar self moet uitwerk. Vir my is dit een van die basiese dinge wat ‘n goeie voorbeeld skep vir jong mense met wie ek daagliks werk. Dit help om ‘n goeie leer-atmosfeer te skep, want ék voel goed; ek is vol vertroue; ek is altyd goed voorberei vir my klasse, en ek ken my vakgebied. My leerders, so vertrou ek, sal mettertyd daardie vertroue, en die entoesiasme wat ek uitstraal, áánvoel, en positief daarop reageer.

‘Ek sien dit só: hoe ek aantrek, bevestig my professionele benadering tot my werk;dit straal uit wie ek is; dit affekteer my verhouding met julle; dit help om orde en beheer oor die klas te hou, en dit help om ‘n suksesvolle klaskamer-atmosfeer te behou. Laastens wil ek, as rolmodel vir julle, julle respekteer as jongmense wat opkyk na my, vir leiding, in alles, ook hoe om as professionele mens jou te gedra.’

Die onderwyser staan terug, en kyk na Adam.

‘Beantwoord dit jou vraag?’

Adam luister die heel tyd aandagtig na die nuwe wiskunde-onnie. Hy verstaan geheel en al die strekking van die onderwyser se antwoord, alhoewel hy nie al die woorde ken nie. Hy sit agteroor in sy bank met sy hande saamgevou op die bank.

‘Ja, dankie, Mister Balie. Die rede hoekom ek die vraag vra, is om ek gewonder het of Meneer se tie  nie net ‘n show is nie …’

‘Haai, nee Adam!’ val Heather hom in die rede, ‘moet tog nie so onbeskof wees nie! ‘n Mens …’

Sy kom nie verder nie. Die hele agterste deel van die klas is op hulle voete, en skree haar dood.  Meneer Balie het sy hande vol om die klas tot bedaring te bring. Hy’t geskrik vir die heftigheid waarmee die klas reageer.

Iemand van agter af, sê, ‘Praat saam met haar, Meneer! Sy’s ombeskof!’

Toe hulle eindelik weer  sit en stil is, praat Meneer Balie weer. 

‘Ek neem glad nie aanstoot nie, dame’, sê Meneer Balie, en kyk na Heather.

‘Heather Moses!’ kom dit vinnig van Heather af.  Joani kyk op haar bank. Van die meisies laat hulle koppe vooroor op die bank sak, en loer na mekaar.

Dadelik is daar ‘n gemor onder die seuns. Meneer Balie hoor die woorde, ‘die díng;  ‘uitgeláát; ‘voorbárag; ‘in haar bek kláp’, en besluit om die besprekingspunt kort te knip.

‘Jammer vir die onderbreking, Adam. Jy wou sê?’

‘Ek is sorry as ek ombeskof geklink het, Mister Balie. Miskien moes ek dit anderste-om gesit het. Ek wil net aangelas het: mens kry so baie fakes op die skool, wat met ties rondloop. Maar toe Meneer so praat, toe’s ek actually bly ek het gevra. Dankie, Meneer.’

Daar is ‘n ligte beroering agter in die klas soos van die seuns met mekaar praat. Meneer Balie wonder of dit oor hom is, en of dit oor Adam is. Miskien is dit oor Heather Hurling.

‘Ek sien nou regtig uit daarna om met julle te werk. Dankie vir die vrae. Ek weet darem nou bietjie wat julle van my wil hê. Julle kan maar self besluit of ek fake, en of ek die real deal is,’ voeg hy laggend by.

Die klas lag lekker hieroor. Joani loer so onderlangs na Adam se kant toe. Adam sit staar net na iets op sy bank; hy deel nie in die klas se uitgelatenheid nie. Heather sal moet hom verskoning vra – aan hom, en aan die klas. En so word die grondslag vir die Klas van 2020 gelê.

Die namiddag-klasse begin rukkerig, maar hier einde-Februarie is alles in rat, want die seuns is ook nou by die reëlings betrokke, en die atletiek se kleure-kompetisie is agter die rug. Hulle sorg dat daar brood, konfyt, tee en koffie, melk en suiker is vir elke dag. Hulle kry ‘n plek waar hulle dit veilig kan bêre deur die skooldag. Die skool is gou weer namiddae so besig soos in skooltye bedags. Net die nuwe leerders moet eers ingelyf word. Klasse reel self onder onder mekaar wie gaan help met wat. Baie kinders kom net om die tydjie te geniet, want die onderwysers het brode en jam beskikbaar gemaak. Na die kort pousetjie is daar aansienlik minder kinders in die klas. Dan gaan die lesse eintlik beter vir die wat agterbly.

Die Palie was hoogs tevrede met die ywerigheid van die leerders, want hy’t die vorige jaar gesien die punte-skedules begin al beter lyk, veral in die wetenskap-vakke in die verskillende grade. Dit het hom baie bly gemaak. Maar toe kom die haakplekke: eers het die onnies begin kla oor hul klasse wat nie soggens skoon is nie, en toe later oor kinders wat net kom om te eet by die skool. Die groot probleem wat hulle het, volgens hulle, was dat die juniors nou nie wil aandag gee in die klas nie, want daar’s vanmiddag nog klasse oor dieselfde werk. Toe begin sommige onnies weier om by te dra vir kos koop. Hulle plaas druk op die Palie om in te gryp.

‘n Vergadering word toe belê. ‘n Paar Graad 12’s word ook genooi, deels omdat die program hulle idee is, en deels omdat daar nog nie ‘n leerling-raad gekies is nie. Die onnies het een na die ander hulle besware ge-opper, en ‘n stewige saak opgebou waarom die na-skool program nie wenslik vir Graad agt, nege en tien, is nie. Graad agt, die nuwelinge by die skool, moet glad nie eers toegelaat word om te begin nie. Joanie en Heather het die program heftig verdedig, en daarop gewys dat die program nuwe lewe in die skool gebring het. Mercy het verwys na die groot verbetering in die Graad 11 klas van verlede jaar, en daarop gewys dat die helfte nie in graad twaalf sou gewees het, as dit nie vir die middag-klasse was nie. Onnies gee toe. Hulle pik op die junior klasse, en graad tien. Op die meeste punte moes die Graad twaalfs die onnies gelyk gee: dis moeilik om die groot klasse van juniors in toom te hou.

Toe staan Adam op en vra of hy net iets kan sê. Joani-hulle is verbaas, en draai na hom toe, toe hy staan om te praat. Hy’t dieselfde dag eers kom vra om ook op die afvaardiging te wees.

Mr Horne en die staff, ek wil net vir Mr Horne die se: van laasjaar af, het die meisies wat hier sit, en die ander kinders in my klas vir my so opgetel met die way wat hulle my gewys het, hoe om analytically te dink; hoe eerste die concepts to verstaan, en dan probleme te solve, scientifically, dat my skoolwerk, soos Meneer seker gesien het, met leaps en met bounds ge-improve het. Ek praat van wat met myself gebeur het deur middag-klasse to attend, die klasse wat van onse klas se kinders self ge-facilitate her. Almal in onse klas, sal dieselle sewat ek nou hier se.

Sy stem is rustig. Hy praat met baie hand-gebare, en met gevoelvolle gesigsuitdrukkings. 

‘Ek wil vir Meneer en die staff vra, om die middag-klasse vir die juniors voluit te support. Voluit! Weet Mr Horne, weet die staff, hoekom die kinders so baie likes van die klasse in die  middags? Daar, in daai klasse kan hulle aanhou vrá , en vrá; hulle kan argue, en aangaan met mekaar, tót hulle tevrede is! Hulle likes die middag-klasse, Meneer, want hier kan hulle ook participate in die lesson in. Daa’s niks wat hulle trug hou nie. Ek sal sê die beste ding vir die teachers wat kla is: try om Meneer- en Juffrou-hulle se style van teach te change! Meneer en Jufrou-hulle willie change nie! Meneer-hulle wil hê die kínders vannie skool moet change, en dai gattie gebeurie!’

Joani kyk op haar hande: die klong se taal! Hene! Hy praat met die hoof van die skool! Heather loer na die gesigte in die kamer. Adam hou aan praat. Almal luister.

‘Die kinders van vandag leer van die tv af, Meneer! Hulle leer van hulle founeaf! Hulle speel complicated games op die play-stations, en hulle score hoeg! Hier’s kinders in die junior grades wat mense se computers regmaak! Hier’s kinders wat hulle eie solar panels by hulle sink-hokkies opsit om hulle eie electricity te generate! Leer die junior-klasses van die begin van high school af sommer, om te explore, en om problems te solve, en hulle sal self agter ‘n tyd, ‘n maths-mind, ‘n problem-solving mind develop. Máá’, maak eerste hulle minds reg! Dán kom die meneer, en die juffrou, met die maths en die science!

‘Al die kinders, hier, Mister Horne, het foune. Daa’s maths en science worksheets op dai foune! Daa’s history videos op dai foune! Daa’s áls op dai foune! Maar wat is die skool se policy? No phones allowed on the school premises! Die skool vat ‘n hele library met knowledge, net so uit die kinders se sakke uit, met dai policy. En tog, Mr Horne, daar staan die computer-lab met sestig computers daarin, toegesluit- sestig white elephants op die skool. Ek gaan díe jaar uit die skool uit, Meneer, maar onse klas was nie een keer, in laas jaar in, in dai computer lab gewies ‘ie. Nie een keer nie! Ek wil net vir Meneer en die staff vra: Gee die juniors ‘n fair chance om te leer, soos ons nie geleer het ‘ie. Maak oep die labs vir die kinders! Maak learning nice en enjoyable vir die kinders! Dan sal Mr Horne sien, watse results kom uit Charleston High uit. Dis al wat ek wil sê. Dankie, Mister Horne.’

Dit is doodstil in die personeelkamer. Niemand daar, ken regtig die seun, Adam, nie. Van die onderwysers weet waarmee, en met wie, hy deurmekaar is buite die skool, dog niemand het hom ooit daaroor aangepreek nie. Hulle sit platgeslaan, en skuldig daar – van Palie af, tot Meneer Balie wat kort eers daar begin het.

‘Dankie vir jou inset, Daniels.’ Dis Meneer Horne. ‘Dankie vir jul insette ook, dogters’, en hy draai na hulle toe. Heather glimlag floutjies. Joani se gesig is rooi. 

‘Is daar van die personeel wat nog ‘n bydrae wil maak?‘

Hy kyk rond. Niemand wil praat nie. Die jong mans-onnies, en sommige van die juffrouens, sal dit nie waag om te praat nie. Hulle bly hier in die township rond. Húlle ken Adam. Hulle sien hom op plekke wat die skool nie van moet weet nie. En hy sien vir húlle– op dieselfde plekke.

Die leerders wil nie na Meneer Balie kyk nie. Heather bid in haar hart, ‘Praat vir ons, Mister Balie! Praat vir ons, asseblief!’ Hy móétiets sê, want dis die toets vir hom. Hy slaag hier vandag – of hy dop in die oë van sy klas. Fake! Hulle kyk op toe hulle sy stem hoor.

‘Meneer Horne, dankie dat u vra. Ek het die eerste dag van skool, die opsomming van die skool se 2019 – uitslae van al die eksamens ge-ontleed. Dis duidelik dat daar iets gebeur het van Junie-maand af. As Meneer kyk na die uitslae van Graad tien tot twaalf, van Maart-eksamen tot November-eksamen, sal Meneer ‘n duidlike opwaartse kurwe sien – in byna al die vakke. Ons het hier met ‘n dinamiese klomp jongmense te doen wat die skool op ‘n heel ander vlak gaan plaas as ons hulle net die kans wil gee. Ek steun hulle program, Meneer, nie omdat ek hul klas-onderwyser is nie, maar omdat ek gesien het hoe hulle die skool aangesteek het met hul entoesiasme. Dankie, Meneer.’

Meneer Horne bedank die leerders, en belowe om terugvoering te gee sodra daar ‘n finale besluit is.  Toe hulle buitekant kom, sit die res van die klas op die grasperk onder die wilgerboom waar hulle altyd pouses sit. Daar word verslag gedoen. Mercy is opgewonde, en kan haar beswaarlik inhou.

‘I’m telling you, there was drama in there! Joani spoke first! She made our case politely, but firmly. She pleaded that the program be kept in place for juniors, and Grade 10. Heather too. She promised the seniors would take responsibility for order in the afternoons, and that the classes would be cleaned for the next morning. When it was my turn to speak, I pointed out the success of the program last year when all of us actually made it through – all thanks to the program. But, all to no avail. Teachers of the junior classes were adamant the afternoon classes for juniors were unnecessary; rather more of a disruption to classroom discipline during the day. Just when we thought the battle for our junior afternoon class program was lost, (en sy draai na Adam toe) then Adam spoke, and what a speech he made! Wow! I looked at the teachers while he spoke. I saw the expressions of the most ardent speakers against the program. They looked utterly defeated. I’m sure Adam’s speech saved the day, and yes, the program for us!’

‘Wat het hy gesê? Vertel!’, wil die seuns gretig weet. Hulle weet daar’s niks liefde tussen Adam en die meeste van die jong personeellede nie.

‘Dis nie al nie,’ sê Heather. ‘Meneer Balie het ook gepraat. Hy het vir ons gepraat; ten gunste van ons program’.

Daar is ‘n gejuig onder die kinders; hulle klas-onnie het opgekom vir hulle!

‘So moet ‘n klas-onnie mos wees. Kwaai Mister B, kwaai! Kwaai Heather, kwaai’, sê iemand onder groot gelag.

Mercy kyk na Heather en Joani om te praat. Toe sê Joani: ‘Adam het ons program gered vandag! Van die personeel was reg om die juniors se klasse te stop – tot Adam begin te praat het. Hy was met een woord briljant! Hy het vandag dinge gesê daar binne waaraan ek, vir een, nog nie eens gedink het nie. Terwyl hy gepraat het, het ek eers regtig besef watter impak ons middagklas-program op die skool kán hê.’

‘Vir my ook’, sê Heather, ‘Ek het vandag eers besef dat die skool ver agter is by ander skole sover dit betref leermetodes, en gebruik van die labs vir die leer van die junior grade, en die seniors ook. Ons is in die laaste jaar op skool, het ek met skok besef toe Adam dit uitwys, en ons was nóóit in daardie labs, vir een enkele computer-les nie!’

‘Dis waar, ja’, sê iemand. ‘Disgraceful. Ons kry net ‘n halwe education. Die wit skole se kinders, het amper almal computers in hulle huise, plus hulle spend ure in die labs vir research, en hier sit ons met foune, en ons het meeste van die tyd nie eers data nie,’ sê hy. ‘Lekke Adam, lekke, brother!’

‘Viva, Adam! Viva!’ word daar gejuig.

‘Viva, Meneer Balie! Viva!’, probeer Heather, maar die gespot is onmiddellik, en sy word uitgedreun met gelag en gespot wat sy, net soos die ander, hartlik geniet.

Eers toe Meneer Horne hier vlak by hulle praat, kom hulle tot bedaring, en kom eerbiedig nader.

‘Dogters en seuns’, begin hy, en hy praat sagter as gewoonlik – amper vertroulik, ‘wat julle vir die skool gedoen het sedert verlede jaar, is ongelooflik. Ek wil nie hê die skool moet ooit weer terug gaan na wat dit was nie. Nooit weer nie!’

‘Now, why did you not speak up, Sir? Why did you not defend our program? vra Mercy. ‘I was so afraid.’

‘Both sides have to have their say, Mercy. I was about to ask for last inputs when Daniels, here, spoke. He made the decision for me. You children have inspired me, and quite a few of my staff, believe me. Charleston High will open a new chapter in its history this year – all thanks to you all, and to today. The final decision is that the junior program stays.’

Net voor nog ‘n koor viva’s sal opgaan, sê Meneer Horne:

‘Geen middag-klasse vir Graad agts nie! Hulle word ge-monitor tot Junie-maand! Graad nege en tien word ook gemonitor – deur julle, en deur twee leerkragte. Dis die uitslag. Almal tevrede met die besluit?’ Hulle knik. ‘Nou goed, dis al. Niks meer toyi-toyi nie , asseblief. Ons almal wen.’

Almal is tevrede. Meneer stap weg, en die klomp maak ‘n skrum met Joanie en Heather aan die woord.

‘Dankie vir almal se ondersteuning. Onthou: hierdie is ons legacy aan Charleston High. Ons moet dit verdedig. Ons moet dink aan ‘n manier hoe ons die juniors gaan hanteer. Hulle moet deel wees van die solution.

Joani voeg by: ‘Ons betrek hulle van nou af in als wat betref die namiddag-program.  Ons doen niks meer in hulle naam nie. Regso?’  ‘n Koor ‘Oukei’s’ gaan op. Toe kry Heather haar kans.

‘Klas, ek is naar oor my gedrag nou die dag. Ek het geen reg gehad om Adam so lelik in die rede te val in die klas nie. Hy’t die volste reg gehad om te sê wat hy wou sê. Ek vra vir Adam om verskoning. Groot askies, Adam. Ek vra ook die klas om verskoning.’

‘Ag, ons verstaan jou, ‘Madam’, sê Tora. ‘Jy’s nie altyd oraait nie!’

Lag-lag, en met groot gespot oor en weer, gaan hulle uitmekaar uit. Dis tyd vir huistoe gaan. Die klas begin opbreek in hul eie groepies, en begin huistoe stap. Heather, Joani en Mercy stap, soos gewoonlik, smiddae saam huistoe.

‘Daai klong, Adam,’ sê Joani, toe hulle so ‘n ent gestap het, ‘ ken ek nie eintlik nie. Na vandag ken ek hom nog minder. Ek is bly hy is vandag bietjie nader na die seuns toe getrek. Maar hy maak my bang, sê sy. ‘Kyk daar!’

Hulle kyk waar Joani wys, en sien vir Adam wat met sy rugsak oor sy linkerskouer, hande in die sakke, huistoe stap. 

‘Hy loop alleen!’                                                         

                                                             ————————————————-

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *