Toe Adam eendag, kort na hy in die dorp aangekom het, en nog by die huis was, uitvra na die skool op die kop, het Oumie se hart vinnig geklop.
‘Wil jy hê Oumie moet saam met jou gaan vir ander jaar, 2019? Ons kan gáán!’
Oumie word toe aangeraai om eers na een van die skoolraad se mense te gaan – Tommy Green bly die naaste aan haar. Sy wil nie eers nie, want Tommy Green is die tavernbaas. Wat sal die kerkmense sê as hulle vir haar voor sy deur sien? Dog, Tommy Green was heel behulpsaam. Jare gelede het hierdie einste ouvroutjie se man vir hom, toe hy nog baie jonk was, die bou-ambag geleer. Sy was altyd goed vir hulle werksmense, as hulle soggens vroeg in die jaart kom, om die lorrie te kom laai. Hy skuld haar. ‘n Paar weke nadat hy Oumie die guns gedoen het, kom besoek Tommy Green onverwags vir Oumie.
‘Mevrou Pietersen, ek het iemand nodig om bietjie te help in my kantoor met algemene werk. Sal dit oukei wees as die seun, in die middae, so van twee-uur af by my kan kom werk. Ek het iemand nodig wat ek kan vertrou; wat kan boekhou van aankope en verkope, en wat my kantoortjie bietjie kan organize.’
Oumie kyk na Adam, want sy’t dit nie verwag nie. Dis ‘n tavern. Haar kleinkind kan mos nie in ‘n tavern gaan werk nie! Wat sal die kerk-susters sê? Dis nie ‘n goeie plek nie! Wat as die kind verval? Sy kyk op toe sy hoor Adam praat.
‘Oumie, ek mine’ nie om vir Mr Green te gaan help nie. Ek ken bietjie van boekhou; actually quite a bit. As Mr Green vir my kan wys hoe Mr Green nou in die office werk, en wat Mr Green wil change, kan ek maybe help. Dis oukei, Oumie. Ek sien kans!’
Oumie kyk op na haar kleinkind. Hy lyk so vol vertroue soos hy na haar kyk. Wat Oumie nie weet nie, is dat Adam wil maar net Tommy Green sy pond vleis trug gee, anders sal Oumie altyd in die skuld bly by die man. Dit is hoe die lewe werk. Dis soos hy, wat Adam is, die lewe verstaan. Hy het in die man se gesig gesien, op dag een al, die man is ‘n shark, en hy wat Adam is, ken goed van sharks! Nou gaan hy by hom werk – in die kantoor.
Dis naweke dat hy so laat in kom, wat vir Oumie so kwel. Hy kan mos nie so aangaan nie! Hy wil dan anderjaar, 2019, weer skool toe gaan, om klaar te maak! Van Vrydag-middag af tot Saterdag-nag, tot Sondag in die môre-ure, sien sy hom amper nooit nie. Sy hoor hom net saans laat, tot snags laat, inkom. Dan kom hy in haar kamerdeur staan, en luister na haar asemhaling. Hy sal dan saggies prewel, ‘Night, Oumie!’ en dan die deur weer saggies aantrek. Hy weet die meeste van die tyd nie eers of sy wakker is nie! Dis daai werk wat hy het by die tavern! Hy doen die aankope, en hy hou boek van die verkope vir die tavernbaas. Sondagmiddae maak hy geld op. Maandag vat die die baas dit bank toe.
Adam se werkery het vir die eerste twee weke vir haar ‘n micro-wave in die huis laat kry. So’t hy gesorg dat sy Oumie alles in die huis kry, net om haar lewe gemaklik te maak. Oumie was taamlik verhoog dat daar by haar huis ook ‘n wit skottel langs die muur uitgehang het! Niemand in die straat het ‘n TV, soos sy, met al die kanale op nie. Haar TV het! Sy kan áls kyk – van nuus af, tot soapies. Jy kry haar nie weg voor die TV weeks-aande tussen ses en half-nege nie. Dis haar soapie-tyd. Sy’t nou die dag amper kon huil toe daai ander klong wragtag met haar gunsteling jongman se meisie trou! Die jong het nou die arme kind sô sleg gemaak by die meisie, en die meisie sô teen die arme kind opgemaak, dat die meisie op die ou end niks met die arme kind te doene wou hê nie. Toe vat die ander klong haar!
Sy’t hom eenkeer gevra maar hoekom spaar hy nie sy geld nie. Toe hy haar vra of sy dan nie hou van dit wat hy vir haar koop nie, het sy maar stilgebly, want hy wou dit mos nou vir sy Oumie koop. En sy was mos dankbaar daarvoor! Nou ja, toe!
Baie aande laat, lê dink Adam aan sy lewe in die Kaap. Hy’t lankal ‘n besluit geneem om nooit vir sy oumie, of vir enigiemand, hier, van sy vorige lewe in die Kaap te vertel nie.
Daar, in die Kaap, was hy Christie-Boy Daniels – nie Adam Daniels nie.
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.