A place where stories unfold

Deel 5: Uittreksel uit Kgotsafalang

Op die kar, op pad deur die Tradouw-pas, verduidelik Hannes aan Kinna se mense, dat hy, Baster en Wilhelm, op pad, met die vee, en toe weer trug, oor hierdie berge, in ‘n vlak grot, teen die hang van die berg, oorgeslaap het. Dis die grot waarvan Baster praat. Dis daar waar die pas op sy steilste is. Aan die een kant is die gapende afgrond, tot onder waar die riviertjie ‘n dun straaltjie, tussen die rotse deur kronkel. Die grot kan mens nie van onder af, van die pad se kant af, sien nie. Jy moet klim tot daar.

Hy vertel hoe hartstogtelik Wilhelm een nag laat, oor sy liefde vir Kinna begin te praat het. Hy vertel hoe Baster en hy, vir Wilhelm probeer ompraat het, om van Kinna te vergeet, en hoe woedend Wilhelm, laat nag, daar weg is.

Die grootmense luister stil na Lang Hannes. Vir die res van die reis, is elkeen maar met sy eie gedagtes besig. Dit is naby middag, toe hulle ‘n uitkyk punt nader, en ‘n perdekar by die uitkyk sien staan.

‘Wilhem!’ sê Lang Hannes vir die antie, en die oom.

Die heel tyd op die kar, bid hy  dat Kinna  asseblief maar nie moet los kom nie. As sy los gaan kom, dan is sy dadelik van die wa af, dit weet hy, en dan sal Wilhelm met haar moet baklei! Dis dan dat sy sal seerkry – sleg seerkry! Wat hy gevrees het, moes gebeur het, want hulle hoor êrens, ‘n skree, ‘n ent weg, aan die afgrond se kant. En daar in die stof, op die skerp na-banke, lê Kinna, met Wilhelm, wydsbeen bo-oor haar. Haar klere is van haar lyf af! Wilhelm is kaal bo-lyf! Hulle hoor hom skree:

‘Verstáán jy dan nie, man? Verstáánjy nie! Ek is Wilhélm! Jy is mýne!Donnerse meid!Hoor jy my!’

‘n Skoot gaan af. Wilhelm spring soos ‘n dier om, en gryp wild na sy kop. Hy soek om hom rond, om te sien wie is dan nog daar in die pas! Dan sien hy mense na hom toe aankom. Hy herken dadelik vir Lang Hannes. Kinna bly hy vasknyp tussen sy bene, want  sy’s vir geen oomblik stil nie. Haar voete is met dun draad vasgebind. Haar hande is met sterk tou vas gewoel, en daar’s vuil lappe in haar mond.

Voor hom sien Wilhelm in sy benewelde brein, ‘n vrou, met ‘n lang geweer, nader kom. Sy loop skuins weg van die ander twee. Skuins agter haar, sien hy Lang Hannes, en Oom Izak Barlow. Hy strek sy arm uit na Lang Hannes toe.

‘Jý! Jy’t vir my gelíég! Julle’t almal vir my gelieg!’ hyg hy.

Hy’s heeltemal van sy verstand af. Toe hy begin te lag, is dit die lag van ‘n mens met wie jy nie meer rede kan voer nie.

‘Jy wou haar vir jousélf hê – toe lieg julle vir my! Nou luister jy vir my: sy gaan sáám met my! Hoor jy my? Sy’s mýne! Mýne! Wilhelm sal haar hê! Sien julle hier agter my? Ons gaan hier slaap. Hier sal ons twee saam wees – vir altyd saam wees.’

Wilhelm draai weg, buk vinnig af om Kinna onder die arms te vat. Dis duidelik sy plan is om met haar en al, oor die afgrond, agter hom te val, die ewigheid in!  

Kinna begin wild te spartel. Haar liggaan ruk en swaai. Sy skop met altwee vasgebinde voete, en ruk wild met haar kop en bolyf. Die geluide wat uit haar toegebinde mond kom, is aards, is soos ‘n dier wat geslag gaan word.

Toe Wilhem weer ‘n keer orent kom, en opkyk, sien hy hoe Lang Hannes aangestorm kom. Hy gooi sy kop agteroor, en die berge weergalm van die lag van ‘n waansinnige. Toe klap nog ‘n skoot.  Die skoot tref Wilhelm hoog in die bors, ruk hom skoon van sy voete af, en slinger hom bo-op die klippe-rant van die bergpas. Vir ‘n paar sekondes weifel hy op die klippe-rand, voor eers sy bebloede bo-lyf, stadig, en toe sy bene, heeltemal, oor die klipmuurtjie gly, om sonder ‘n geluid na die dieptes daar onder te val.

Lang Hannes is met lang hale, by Kinna, raap haar in sy arms op, en hardloop van die klippe-rant af weg, met haar. Oom Izak staan versteen, vooroor gebuig, en kyk verskrik na sy vrou. Grootma Kora staan soos ‘n dood-moeë mens daar, die geweerloop na onder. Sy’t net die een kans gehad. Sy kyk na die plek waar Wilhelm oor die randjie verdwyn het, en maak haar oë toe. Na ‘n tydjie, kom sy regop, en draai om. Sy stap na Lang Hannes toe, waar hy by die kar staan.Hy’t vir Kinna op die kar gelaai.

Meteens is hulle omring deur ‘n klomp mense. Lang Hannes en Grootma Kora staan verskrik by die wa. Net Oom Izak stap nader, om met die mense te praat. Later blyk dit hulle is die bergbewoners. Hulle het die hele drama van die begin af, gesien ontvou. Hulle was op die punt om toe te slaan toe Oom Izak-hulle se kar op die toneel verskyn. Toe’t hulle trug gebly, in hulle skuilplekke tussen die rotse, want hulle’t gesien daar  sou net een mens die dood teëkom, daar op die pas. Hulle ken vir Izak Barlow. 

Oom Izak-hulle word aangeraai om die plek dadelik te verlaat – die mense van die berg sal self die plek skoonmaak. Die kar en perd vat hulle saam met hulle. Oom Izak kom praat saggies met Grootma Kora, en na ‘n rukkie gaan haal sy taamlik halfhartig, die geweer, net so in die streepsak toegedraai, van die kar af. Dit word aan die bergbewoners gegee, saam met ‘n sakkie patrone. So word daar ‘n ooreenkoms gesluit oor wat daar in die pas, binne minder as vyftien minute, gebeur het.

Die plek is leeg, en verlate toe die eerste transport-wa, omtrent so ‘n halfuur later, om die hoek gerammel kom. Die vele oë uit die rots-skuilplekke is tevrede geen vrae sal ooit gevra word, oor wat daar gebeur het nie. Hulle weet ook niemand sal ooit weet daar bly ‘n hele gemeenskap van Khoi-Boesmans en wegloop-slawe, in daai gebergtes nie.

Lang Hannes laat die vosperde hulle pote optel. Hy wil so gou moontlik daar wegkom.     Grootma Kora sit stil met haar kind, en hou haar styf vas. Sy’t ‘n kleed om Kinna gevou wat ‘n vrou, onder die groep vreemdelinge, aan haar uitgehou het. Dit is ‘n bonte kleed, met vreemde motiewe op, en duidelik uit ‘n ander kultuur uit. Maar dis iets wat sy sal hou, besluit sy, vir Kinna, om haar altyd te laat dink, aan die  dag in die pas. Die gebeure daai dag, bind die geslote kring van vier, nog hegter met mekaar – die Alexander-Oktouber verbintenis.                                                                    

                                                          ———————————–

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *