‘Adam Daniels! Praat met my!’
Adam skrik hom regop. ‘Yo, Joani! Wat’s djy soe op my? Djy skree skoons!’
‘Hoekom was jy nie by die skool nie, man? Meneer sê jy’t nie goed gedoen nie! Se voet! Dis nie waar nie! Ons twee het ál die vraestelle opge-eet, Adam! Jý moes daar gestaan het – nie ék nie!’
Wat vir enige matriekleerder die hoogste eer moet wees, word skielik vir Joani ‘n treurige dag. Sy kyk na Adam wie kop onderstebo daar staan, en trane begin opwel in haar oë. Sy skud haar kop, stadig heen en weer.
‘Adam, Adam, Adam! Ek wou so graag hê dit moes jý wees. Ek het by jóú geleer, en nou’t jy mý voor gedruk. Jy hét, man! Ek wéét jy het! So moenie lieg nie, asseblief!’
Sy keer nie die trane nie. Adam kom na haar toe, en wil sy arms om haar sit, maar sy draai weg van hom af. Hy weet toe hy kan nie vir haar lieg nie. Joani staan stil eenkant en droog die trane uit haar oë. Sy praat in ‘n huilstemmetjie met hom.
‘Jy maak ‘n gek van my, Adam! Al die onderwysers gaan bespiegel oor wat gebeur het! Weet jy, in die laaste tyd het ek begin dink … Jy’t my koelbloedig bedrieg! Jy kom nie weer naby my nie! Nooit weer nie!’ en sy draai weg na die agterdeur toe.
Joani se hewige reaksie vang Adam heel onkant. Hy’t sorvuldig beplan vir hierdie dag. Maar nou het hy nie woorde nie. Hy’t uitgewerk Joani sou baie later – weke; maande; of jare later, eers uitvind, maar sy hét nie – sy’t onmíddellik besef wat hier gebeur het!
Toe Joani by Oumie in die kombuis staan, met Oumie se hand op die meisiekind se arm, staan Adam nog net so, by die tafeltjie. Joani se heftigheid het hom heel onverwags gevang. Sy wou hê hý moes die eer kry? Wat het van die óú Joani geword? Hy’t op die óú Joani staat gemaak, maar die óú een bestaan dan nou nie meer nie! Wat het gebeur? Hy moet dadelik na haar toe gaan, besluit hy. As sy die vriendin van hom is, wat hy in sy hart voel sy is, moet hy haar in sy vertroue neem, hoekom hy Buffelsfontein toe gekom het, en hoekom hy nie voor die kameras mag verskyn nie. Al verduidelik hy dit net gedeeltelik. Hy moet haar ook probeer oortuig dat sy die eer terdeë verdien. Dit is mos soos hy altyd gedink het: as hý dit nie kry nie, moet sý dit kry. En nou hét sy dit gekry.
Hy stap verleë agterdeur toe, en kom binne net toe Joani groet om te loop.
‘Joani! Bly nog hie’, asseblief,Joani. Ek wil saam’e jou praat. Dan sal jy verstaan. Kom saam’e, asseblief!’ en hy lei Joani na die tafeltjie toe. Oumie is heel uit die veld geslaan. Alweer haaks?
Vir die eerste keer in twee-en-‘n half jaar, praat Adam met iemand oor hoekom hy daar in Buffelsfontein is, en hoekom hy nie aan, veral die pers, bloot gestel wil word nie. Joani kyk hom met ongeloof, aan, soos hy oor sy lewe in die Kaap praat. Daar kom ‘n groot deernis in haar op. Sy raak bang op plekke. Haar hande kom op na haar gesig toe, toe sy hoor hoe hy die dood in ‘n brandende huis vry gespring het. Sy raak teer oor hoe hy in die nag moes vlug, trug huistoe, en besorgd oor hoe bang hy is, iemand van die Kaap , sal hom herken, hier. Sy luister. Sy begin verstaan hoekom sy nooit in der ewigheid met ander mense oor Adam mag praat nie. Dit kan Adam se lewe kos! Sy sit bewe liggies daar, en kyk Adam met ongeloof aan, toe hy trug sit, teen die boompie aan.
Maar Joani,’ en Adam leun vorentoe, ‘kan ek praat oor’ie finals? Moet’ie glo ek sal soema net so dai merke gekry het, wat djý gekry het nie! Oh, no! Ek wiet lan’ voor’ie exams al, dit ga’t wies, touch and go, tussen o’s twee! Djy’t soe vin’ag opgetel, en djy was soe vin’ag op speed m’n my, lat ek in’ie aané in, in my kooi, amaze gelê het, oor djy soe vin’ag optel! Daa’s nieman’ in’ie wêreld in, wat die honour meer’e deserve, as djý nie, Joani! Nieman’tie! Dis jóú program wat die skool ‘n 100% pass gegie’rit, Joani! Wie se har’e we’k is dan dai 100%, Joani? Die skool syne? Dis jóú constant motivation; jóú belief, en jou outreach na die kinners om jou, wat jou dai honours gebring’et! Djy’t history laat maak hie’ by Charleston, Joani! Take the honours, and, walk proud with it! Die skool skul’ vi’ jou big time, Joani Williams! Soema big time!’ en hy kyk dringend na Joani, maar Joani luister net. Sy kyk nie na Adam nie.
Hulle sit nog ‘n rukkie binne by sy oumie, tot hy sien sy’s oukei, en sy lag weer lekker vir Oumie se jokies. Sy groet weer oudergewoonte Oumie hartlik met ‘n drukkie by, voor hulle by die deur uit is.
Toe hulle na Joani se huis toe stap, loer Joani telkens na die jongman langs haar, en ‘n gevoel van diepe besorgdheid kom oor haar. Kan ‘n mens, so jonk, deur so baie dinge gaan? Toe hulle vingers liggies aan mekaar raak, is dit haar hand wat syne vasvat. Sy voel onverklaarbar nader aan Adam, amper beskermend! Sy’t Adam se lewe in haar hande, weet sy.
So stap hulle, met min woorde tussen hulle. Die stilte tussen hulle is gelaai met woelende emosies in elkeen van hulle – vuurwerke wat hoog in die lug ontplof, in ‘n duisend verskilende kleure, dan nóg een, en nóg een; singende klopse troepe wat uitbundig hulle danspassies uitvoer op die maat van die ghoema. Ghoema, ghoema, ghoemaaaa! – lewendige klop-klop musiek; en tussen alles dit deur, is daar ‘n jonge liefde wat ontwaak uit sy sluimering. So stap hulle tot voor Joani se deur.
‘Jou geheim is veilig by my, Adam! Jy kan my vertrou – met alles!’ sê sy, en stap vinnig deur toe, en is weg.
Onmiddellik, toe die deur toe gaan, ontplof die huis in uitroepe van ‘Joa- ni! Joa- ni! Joa- ni! Veels geluk, Joani!’ uit ‘n tiental kele! Dit lag en skree; daar’s omhelsings; hande word geskud, en drukkies word gegee. Die klasmaats sit wag al meer as ‘n uur op haar. Dis deur haar dat almal matriek deur is! Musiek begin te klop, en daar’s uitroepe van ‘Charleston! Charleston!’ in Ant Margie se huis.
Adam stap vinnig weg, en om die draai. Daar’s ander woelinge in sy kop. Dis oor Joani se woorde, toe sy in gaan: dis amper woord vir woord Shaafika se belofte aan hom oor hulle twee se geheim! Hoekom word hy dan nou, in hierdie intieme oomblik tussen hom en Joani, herinner aan Shaafika se belofte aan hom? Joani het nou soos Shaafika geklink ook – glad nie senuweeagtig of skaam nie. Hy’t die gevoel gekry op pad na haar huis toe, in die swaar stilte tussen hulle, Joani het in ‘n paar uur verander van ‘n skugter meisietjie wat trug-hou en trug-hou, in een wat bereid is om te wys wat sy voel.
*
‘Hoeko’ het djy nie apply universiteities toe nie, Joani?’ gesels Adam met Joani een oggend, toe hy en Joani in Oumie se jaart sit.
Die twee is heel gemaklik met mekaar, die geselskap vlot, en Joani is deesdae meer uit haar dop gekruip, as tevore. Miskien is dit omdat sy nie meer voel soos ‘n skooldogter nie. Miskien is dit oor iets anders.
‘Djy moet university toe gat, wiet djy? Ieman’ m’n daai klaste grades moet’ie hie’ in Buffeltjiesfontein ron’loep’ie! Djy loep soema by ienage university in, as jy wil. Wil djy nog altyd social worker wies?’ vra hy met ‘n skalkse laggie na haar toe. Joani besluit maar om ‘Buffeltjiesfontein’ te ignoreer.
In die gesels, verduidelik Adam aan Joani dat daar verskeie ander rigtings is waarin sy kan studeer. Haar prestasies in die wetenskap-vakke laat haar kwalifiseer om ook in ingenieurswese te studeer, en vele ander. Hy laat Joani vir die res van die middag verskeie studie -rigtings deurwerk, en die soort werke wat daarmee gepaard gaan, deur lees, terwyl hy by die huis is. Joani gebruik haar smart-foon wat sy deur die studie-tydperk gebruik het, en lê die heel oggend tot na middag-ete, in haar kamer.
Toe hulle net na twaalf, weer bymekaar is, by Oumie se huis, is haar besluit om in akturieële wetenskap te studeer. Adam is stil bly, en wens haar geluk met ‘n puik keuse. Hy stel haar gerus sy’t die aanleg vir die vak. Dadelik is Adam op.
‘Dan try o’s soema nou vi’ die Kaapse university! Jou first-choice university, U-Dabs, Joani, offer unfortunately, nie daai nie!’
Baie later, net na drie-uur, die middag eers, tel iemand die foon by die Kaapse universiteit op. Dit was ‘n baie kort gesprek! Daar is groot opgewondenheid aan die anderkant! Hulle weet van Joani, en het gewonder na watter universteit toe, sy is. Joani word gevra om dieselfde dag nog, of die volgende oggend vroeg daar te wees. Adam belowe dat sy eers twee dae later daar sal kan wees, weens vervoer-probleme, en afstand van Kaapstad af. Maar sy is beskikbaar elke dag om enige detail met die universiteit te bespreek. Terwyl hy praat, is sy oë op Joani.
Laat-middag in Ant Margie se huis, is die mammie eers skepties, maar toe sy hoor die universiteit wag vir haar kind, is dit net ’n kwessie van hoe? en wanneer? hoeveel? en dit. Daar is ‘n honderd vrae, en dit lyk of Adam vir elke vraag ‘n antwoord het. Hulle sit tot laat-middag en planne maak. Die laaste plan is hoe om laatnag in George te kom, om ‘n nag-taxi Kaap toe te kry. Alle reëlings word aan Adam oorgelaat.
Vroeg op die derde oggend, staan daar twee vrouens, alleen op die grote Middel kampus, voor die deur van Registrasie, van Universiteit van Kaapstad. Daar’s nog geen siel nie. Hulle bewe liggies teen mekaar.
‘Foun vir Adam, ons is hier!’ fluister Ant Margie.
‘Nie nou nie, Mammie! Hy’t gesê as die mense eers ‘n rukkkie binne is!’ fluister Joani trug. “Hier’s nog niemant‘ie!’
—————————————————————Deel 16 – Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.