‘Nou wanneer gaan julle nou weer skooltoe?’ wil Oumie op ‘n dag, in die Covid-tyd, weet.
‘Weet nie, Oumie. Die Departmint sal seker announce – oor die tv. Ek het gehoor van na Easter – maar daar’s nog nie ‘n datum by nie. Personally, dink ek‘ie o’s moet hastag wies met die covid-ding‘ie. Die virus lyk ‘n baie gevaarlike ding! As die Americans‘ie ee’s die ding kan contain’ie, hoe gat kleinere countries nog cope? Al wat ek sien, is dat o’s gaan min tyd het, voor die June-exams, as o’s eers weer daai tyd skool toe gaan. Maar Oumie moenie worry nie! Ek sal reg wees – of o’s nou ‘n paar dae voor die exams trug gaan, of wat – ek sal reg wees! En Joani-hulle oek – ook. Ek weet hulle study ook elke dag!’
‘That’s nice’, sê sy Oumie, en na ‘n kort stiltetjie vra sy, ‘En wie’s Joani-hulle?’
‘Dis meisies in my klas, Oumie. Hulle bly hier in die rondte. Die een se mammie ken vir Oumie – Ant Margie – Margie Williams. Sy’s in Oumie se kerk. Haar meisiekind is in my klas – wakker meisie!’
‘Het jy met die ma gepraat, of met die meisie-kind?’
‘Met hulle altwee, Oumie. Ek was daar by hulle in die huis in gewies – bietjie gaan gesels met Joani. Toe kry ek vir Heather daar. Maar Heather is gou weg. Kosmaak by die huis. Lekker gesels. Baie gelag. Die mammie is baie friendly – tea en biscuits!’
Adam sien sy oumie sit met ‘n snaakse glimlag daar. ‘Oumie! Waaraan dink Oumie? Sê vir my, Oumie!’
‘Typical Kaapnaar – lekker voorbarag!’ en sy sit lekker in haar stoel, en skud van die lag. ‘Hoekom gaan maak jy nie vir ons twee tee nie? Hoe laat is dit al? Of gaan jy miskien somewhere visit?
Adam gooi sy kop agteroor, en lag uit sy maag uit. Hy spring op, en gee twee treë oor die vloer na sy Oumie toe, en kry haar om die nek beet! Toe skater sy eers!
‘Nee, man, Oumie man!’ lag hy saam. ‘Ons is net skoolmaats! So whalla! Ek ken haar skaars!’
‘Los my! Jy choke my! Kaapse skollie wat hier kom visit!’’
Toe hy weer gaan sit, lê hy so vooroor, en praat met sy Oumie:
‘Sy’s nice, Oumie. Sy’s wakker oek! Ek is ‘n jaar ouer as haar, maar sy’s ver slimmere as my. ‘Is net die Afrikaans, wat my so bietjie uitsit, Oumie, anders maak ek hulle skrik! Ek’s quite on par saam’e hulle in die Maths en die Science in! Daar gat hulle my nie maklik beat ‘ie. Maar die teachers gooi net Afrikaans uit! Yo! Net Afrikaans! Ek kom maar in die middags huistoe, dan check ek my English texbooks. Ek het ‘n paar van my textbooks saamgebring. Dit help my major. Otherwise … ek’s daar, Oumie, ek’s daar! Plus, Joani gat mos nou vir my help m’n ‘ie Afrikaans!’
Toe spring hy op, en stap kombuis toe. Nie lank nie, toe hoor Oumie daar sing die ketel. Ai, die kind, darem. Hy het net begin uit sy dop uit kruip, noudat die skool aangegaan het, en sy sien hoe hy huistoe kom smiddae, eet, rond sit, en dan ‘n bietjie rus. Daarna is dit net die boeke, net die boeke, tot aand-ete toe. Saans, na hy ge-eet het, is dit weerso. Net bietjie nuus kyk, dan gaan hy weer kamer toe. Daar’s menige tye dat sy die koffie vir hom inneem, net om dit weer net so koud kombuis toe te bring, later. Hy’t skoon van die koffie vergeet! Wat sy oplet, is hy sit eers ‘n tydjie voor die rekenaar, voor hy aan die boeke vat. Sy wil hom nog vra vir wat doen hy dit, as hy sy werk moet leer!
Adam ervaar Joani heel anders as die ander kinders in die klas. Hy’t eers gedink sy bly in die groot huise, aan die anderkant van die township. Later het hy gesien sy loop na skool in dieselfde rigting as hy: uitbreiding toe; lokasie toe. Hy moet altyd mooi luister as sy iets sê in die klas. Niks is uit plek uit nie! Hy’t vir haar ge-approach. Nou gaan sy hom help met die Afrikaans. Hy’t net vas gestaan, en haar gevra! Sy kan mos maar net nee sê!
So sit Adam weer, op ‘n lekker, sonnige winters-oggend, in die jaart, toe Oumie van die kombuisdeur af, na hom roep. Langs haar staan Joani! Hy spring op, en loop nader, en sê dankie vir Oumie met die waai van sy hand.
‘Haai! groet hy en staan kyk na haar, heel oorbluf.
‘Hello, Adam,’ groet sy trug, baie gemakliker as hy, ‘en jy sit lekker hier! Ek moet agter jou aan loop!’
‘Ek het nie geweet jy soek my nie! Ek kon mos maar …’, en hy trek ‘n vyf-en-twintig-liter verf-drommetjie nader vir haar om te sit.
‘Ek was in die dorp, toe word ek by die werk gesê, ek sou van komende Vrydag af, die middagskof tot toemaak tyd toe, werk, en dan van Saterdag af, die oggendskof, tot twee-uur toe. So, komende Vrydag-middag is nou uit; so ook die Saterdag-oggend. Dit is hoekom ek hier om gekom het. Jammer! Ek wou jou graag help.
Adam besef hier gaan hy groot verloor. Tog klink hy nie desperaaat toe hy praat nie.
‘Wat van die ander dae, Joani? Daar’s mos Maandae tot Donderdae ook! Daar moet darem seker, at least, drie ure wees vir een dag, en drie ure vir ‘n noggedag, tussen daai dae. Daai’s natuurlik as jou schedule nie te vol is nie! Kan jy kykna dit?’
Joani sit dink so ‘n rukkie, en kyk toe weer na hom.
‘Ek sien jy’s besig met Macbeth! Ek is nog nie eers daar nie! Ek moet nog van einde eerste kwartaal af begin lees, tot by dié kwartaal se werk, om op datum te kom. En dan beteken dit nie ek verstaan alles wat ek gelees het nie!’
‘Okay, okay! Nó problem! Hier’s die deal! Ek het al Macbeth gedoen in Home Language, Grade Ten! So, ek lees nou maar net om te refresh! Die’s waa’ ek in kom vi’ jou, Joani! O’s twee discuss die plot,die hele plot, sodat jy die hele play kan verstaan, oraait? Dan kom o’s na die voorkant van die boek toe, en begin van die witchesaf, tot by die eerste kwartaal se werk. Dan lees jy tot jy op datum is – nét die tweede kwartaal se werk. Dan discuss ons dáái, soos ons dit verstaan teen die background van die hele plot. Hoe’s daai?’
Joani sit kyk hom aandagtig. Sy dink aan iets. Hy is weer gou reg, net in geval sy ‘n aan ‘n probleem sit dink.
‘Kyk hier, nuh, ek bring ‘n laptop, dan kyk ons ‘n video van Macbeth, en nog bo-op daai: os’ luister na ‘n university professor se in-depth analysis van die play! So sal daar genoeg tyd is vir die Afrikaans! Wat sê die meisie?’
Adam sien hoe Joani se gesig dadelik verander. Haar kyk alleen, maak hom sê:
‘Sorry! Ekskuus tog! Wat sê Joani? Kan dit werk so?’
‘Ja, kom ons kyk: Dinsdag- en Donderdag-oggende. Ons gaan altwee tale in drie ure inpas. Wat van tien-uur tot een-uur? Te lank?’
‘Glad’ie! Glad’ie! Ek val in! Ek sal my ander goete organize. Jy’s ‘n star, Joani! Ek gaan kwai leer die Afrikaans, en jy sal Macbeth rêrag enjoy! Very human! Very tragic!’
Joani luister ge-amuseerd na Adam se taal. Hoe kry ‘n mens so iemand reg? Maar sy dink: waar hy vandaan kom, praat almal so. Waar hy nou is, praat die mense nie so nie. So, hy sal maar net moet leer om soos die mense rondom hom te praat. En sy sal hom leer – deur baie met hom te praat. Die laaste besluit tussen die twee is: een oggend by hom; eenoggend by haar.
Hy wil hom net gou vir ‘n minuut verskoon om by sy oumie te gaan hoor, watter dag sal haar pas, toe Joani hom keer.
‘Nee! Moenie gaan nie. Ek gaan! Ek gaan mos nou loop! Ek wil sommer met jou oumie ook gesels – sonder jou. As jy my nou sal verskoon, en net hier bly sit, sal ek gou gaan. Ek sal binne by jou oumie wees vir ‘n tydjie. As ons klaar gepraat het, sal ek jou kom roep. Dan kan jy saam met my stap tot voor, waar die taxi’s ry. Verskoon my gou, asseblief!’
En daar stap sy toe vinnig agterdeur toe. ‘n Oorblufte Adam word net so gelos – op sy drommetjie, by die stukkende tafeltjie, onder die vyeboom. Hy sit so, en maak of hy verder lees, maar baie dingetjies gaan deur sy kop.
‘Vir wat wil sy met Oumie praat? Sy ken skaars vir Oumie! Wie’s nouvoorbarag? Hy kan mos self vir Oumie vra om hier te werk? Dis mos niks! Oumie sal mos nie neesê nie! Wil sy miskien ander goete met Oumie praat? Watse goete? Sy mos uit die orde uit, die meisie-kind!’
Hy sit ‘n goeie vyftien minute so, voor Joani en Oumie in die deur verskyn. Die skugter Joani van vroeër, staan nou amper stralend langs Oumie.
‘Kom!’ roep Oumie, ‘kom stap so ‘n entjie saam met haar!’
‘Natuurlik, Oumie!’ en hy’s op, en by hulle. By die voordeur kry Oumie nog ‘n drukkie ook. Adam kyk als dié, verwonderd aan. Hulle stap in stilte by die hekkie uit, en ver in die straat af, vra Joani saggies:
‘Iets verkeerd?’
‘Nee, ek weet maar net nie wat nou daar in die huis gebeur het nie. Ek …’
‘Ek wou self jou ouma sê hoekom ek daar is, en wat ons beplan rondom die leerdery. Sy het by my gehoor wat ons daar by haar huis gaan doen, op Dinsdag-oggende, en wat ons by my huis gaan doen, Donderdag-oggende. Sy moes dit van my hoor. Ek wou hê sy moes my ken; my ma ken, en wie ons is. Wel, nou weet sy! Jammer, maar dit was vir my belangrik om dit so te doen, Adam. Ek wil nie hê mense moet praat nie! Vroumense verstaan hierdie dinge anders as mans!’
Hy kan niks daarop sê nie. Hy voel skielik net cheated. Dit lyk vir hom of Joani oorvat, en of sy hom rond lei. ‘n Taxi, uit die dorp uit, hou ‘n ent voor hulle, aan die ander kant van die pad, stil, en Heather klim uit.
‘Wag, daar’s Heather! Laat ek haar gou inhaal! Ek moet nog regmaak met haar! Sien jou, Donderdag-oggend, nê!’
Toe sy omkyk, om te groet, bly sy net so bly staan, want daar is iets op Adam gesig, wat sy nog nie voorheen daar gesien het nie. Sy dink dis iets afkeurends. Adam kom tot voor haar, en haar stip in die oë gekyk.
‘Wat maak jý, Joani Williams? Is die ‘n game vir jou? Ons kan mos saamna Oumie toe gegaan het!’
Sy is eers verskrik, maar ruk haar gou reg:
‘Wat is daar van my verduideliking wat jy nie verstaan het nie, Adam? Plein gesê: ek wil nie hê jou Oumie, en ander mense, moet dink ek is cheap, en hardloop agter jou aan nie! Ek ismos nie die een watinwantedis vir hulp met skoolwerk nie!’
Dis uit voor sy dit kan keer! Sy staan kyk met groot oë na hom, haar skouers effens opgetrek. Dis gladnie wat sy wou sê nie!
‘Inwanted? Excuse me, for being inwanted!’ is sy onmiddellike reaksie, heelwat kalmer. ‘Ek’s sorry dat jy dit so sien! Ek het regtag gedink jou help wat jy offer, is omdat jy dit doen, uit friendship uit. Maar as jy dink ek is inwanted vir jou friendship, en vir jou help, dan moet jy dit maar hou! Jy insult vir my – in my gesig, Joani! Ek het meer maturity van jou expect! As dit sois, sal jy nie vir my Donderdag-oggend by jou huis sien nie! Thanks for nothing, Joani Williams! Have a nice life!’
Toe draai Adam om, stap weg, en laat Joani net daar staan. Na ‘n paar sekondes swaai sy ook om, en stap huis toe, arms oor haar bors gevou, kop in die grond.
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.