A place where stories unfold

Deel 17: Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal

Toe die eerste motors begin inry, klop Ant Margie en Joani se harte wild. Dis tyd. Die amptenare daag net voor sewe op, en sluit oop. Niemand praat met die twee vrouens van Buffelsfontein nie. Daar word net vlugtig in hulle rigting geloer, met die kop geknik, en binnetoe gestap – arms vol lêers. Joani het reeds, onmiddellik met hul aankoms, met Adam gesels. Sy stuur gou-gou ‘n boodskap dat die kantore oop gegaan het, en dat daar reeds ‘n paar studente in ‘n ry begin staan. Adam raai hulle aan om ook in die lyn in te val, al was hulle eerste daar.

Die twee vrouens het net vir vyf minute in die ry gestaan, toe ‘n amptenaar vinnig uit kom, in die ry af kyk, en  angstig vra na Joani Williams. Dadelik is daar ‘n geruis van stemme onder die studente – dis die meisie wat hulle in die Kaapse koerante van gelees het, en foto’s van gesien het! Ja! Dis sy! Joanie-hulle word vinnig ingeneem, en sit gemaak in ‘n klein kantoortjie, vol bokse met lêers. Joani lê haar dokumentssie voor, en so gaan die formaliteite voort. Adam word op hoogte gehou soos dinge in die kantoortjie gebeur, ten spyte dat Ant Margie al ‘n keer of wat met ‘n streng gesig na Joani kyk.

Toe die amptenaar klaar op die komper gewerk is, begin die groot gesels. Ja, daar is plek vir haar in die aktuariële wetenskap groep, volgens haar uitslae. Dis eintlik net ‘n klein groepie wat vir daardie klas toegelaat word. Joani sal ‘n toelatingstoets moet aflê, op ‘n latere datum, The National Benchmark Test. Die datum vir die eksamen sal later aan haar bekend gemaak word. Op navraag word verduidelik dat dit ‘n toets is, om vas te stel of sy die aanleg vir die vak het. Die toets word in Engels afgelê. Daar sal voorlopig enkel-akkommodasie gereël word, ‘n hanetreetjie van die kampus af. Een beurs is onmiddellik beskikbaar; ‘n tweede beurs sal voor aansoek gedoen word, as sy die aanlegtoets slaag. Dis ook ‘n formaliteit. Die toets bestaan uit Engels begrip van ‘n teks; wiskundige bewerkinge,; algemene kennis; en statistiek. Joani sit luister, skytbang, maar skep moed dat sy met Adam daaraan kan gaan werk. Die toets sal seker oor ‘n maand afgelê word. Universiteit open eers die laaste week in Februarie.

Die twee vrouens is daar uit, heel tevrede, en opgewonde oor die verloop van sake. Hulle vind ‘n kafeteria daar naby, en koop tee en toebroodjies, teen buitensporige pryse, volgens hulle.  Oumie het ‘n paar rand in Joani se hand gestop, laas toe sy daar was. Na middag-ete se kant word Joani rusteloos, en wil graag die hoofkampus gaan verken, maar weet nie hoe om daar te kom nie. Toe hulle weer buite rond staan, let Ant Margie gou op die stroom studente wat onder ‘n duikweg uitkom, wat lyk of dit onder die hoofweg deur gaan anderkant toe, na die imposante geboue toe, wat lyk of dit die hoofkampus is. Die vroue kry maklik hulle weg, en stap geselsend saam met ander studente hoofkampus toe. Die uitsig oor die stad, bo van die trappe af, is asemrowend! Die vroue staan eenkant toe, en hulle oë volg vir ‘n lang tyd die geboue, daar onder, die bome en die strate, so ver soos hulle kon sien – Kaapstad! Agter hulle verrys die Jameson-gebou, pragtig en magtig, met die Romeinse pilare voor die hoof-ingang, en hoër op, en agter die geboue, troon die majestieuese Tafelberg uit. Dis vir Joani te veel. Sy lê teen haar ma aan ‘Gaan ek dit maak, Mamma?’

‘Natuurlik, my kind! Jy’t jou al die jare afgesloof vir hierdie dag.’

‘Kom ons vat ‘n selfie van ons voor die gebou met die pilare, waar die studente so lekker sit rus, Mamma. Dan stuur ons dit vir Adam! Hy’t my hier gekry, Mamma! Kom, staan hier!’

In sy kamer, ‘n paar honderd kilometer van die kampus af, kry Adam die foto, spring op, en gaan soek vir Oumie. Die twee staan nog so en praat, toe kry hulle ‘n tweede foto, met die panoramo van die stad agter die twee vroue. Asemrowend!

‘In my anner liewe, Oumie, was dié my aim gewies – om eendag by U-Dabs of UCT, te swot, in die Law. My vrinne van die hoek, die ouense, en Shaafika oek, is a’mal daar, scheme ek. Hulle swot a’mal different goete. Shaafika swot oek law, sieke twiere jaa’, nou al! Kyk waa’ sit ekke!’ en hy bly stil, en staar nog na die foto’s, lank nadat Oumie al weg is, kombuis toe.

‘n Skielike teneergedruktheid kom oor Adam. Hý kan ook daar gewees het! Hy moes al die vorige jaar daar gewees het! Sy lewe gaan al agtertoe, al agtertoe! Kyk waar staan Joani! Sy was nou die dag nog hier, op vaal Buffelsfontein. Nou staan sy met die wêreld aan haar voete! Gaan hy ooit in sy lewe die eer hê? Hy’t een foutjie gemaak! Net een foutjie! Hy was toe amper vyftien. Toe hy sewentien was, het sy lewe reeds onder hom uitgehardloop, en hy’t dit nie eens agter gekom nie! Gaan hy nou vir die res van sy lewe hier in die tronk, op Buffelsfontein, sit, en sien hoe die  wêreld by hom verby gaan?

So kry Oumie hom staan staar na die foto’s, met die hartseerste uitdrukking wat sy nog op haar kleinkind se gesig gesien het. Sy gaan stadig nader, en raak aan sy arm. Adam draai vinnig na Oumie toe, en bêre sy gesig teen Oumie se skouer. Oumie skrik vir die snikke, en raak sommer ook hartseer. ‘Adam?’ Sy gryp hom om die nek, en draai hom na haar toe. Toe huil Adam openlik. Hy hou aan sy oumie vas, en hy huil. Sy lewe is besig om stil te staan! Hy’s in ‘n hopelose situasie!

Oumie verstaan nie, maar sy hou hom net styf vas. Al wat sy weet is, hy is diep ongelukkig oor iets. Kan dit wees oor dit Joani is wat daar staan, en nie hy nie? Hy’s mos nie so ‘n kind nie! Sy staan so met hom, en vryf sy rug, tot hy hom uitgehuil het. 

Dis toe dat Adam besluit om alles vir sy oumie te vertel. Hy’s lief vir haar. Hy bly hier in haar huis, en sy weet niks van hom af nie. Sy sal alles doen vir hom. Hy moet haar nou in sy vertroue neem, net soos hy vir Joani in sy vertroue geneem het.

Toe hulle binne sit, luister Oumie die heel tyd stil na Adam, en nie een keer vra sy iets nie. Net ‘n groot ongelukkigheid teenoor haar dogter, kom oor haar. Die heel tyd, terwyl hy praat, hou Adam sy hand op Oumie se hand. Hy hou niks trug nie. Hy vertel alles. Toe hy trug leun, en sy gesig weg van Oumie af draai, vat Oumie hom aan die skouer, en draai hom na haar toe.

‘Dis nie jou skuld nie, weet jy? Jy was net ’n kind wat misbruik was. Jy weet dit mos, Adam Daniels!’

‘Oumie, my naam is eintlik Christopher. Christopher Adam Daniels. Ek is Christie-Boy – in’ie Kaap in!’

‘Nee, my kind. Jy’s Adam! Ek hou van Adam – jou oupa se naam! Weet jy watse bliksem was jou oupa hier op hierdie plek, Buffelsfontein? Oeee! Jy moet laat ek jou vertel!’

Hulle sit styf teen mekaar, en Oumie vertel vir Adam van sy oupa Adam, en trek so Adam se gedagtes heel van die weemoed, en teneergedruktheid af. Sy en Adam lag by tye so, dat sy eers ‘n bietjie water moet kry. Hulle twee kyk altwee na die portret teen die muur, terwyl sy vertel. Teen die tyd dat sy klaar vertel het, is Adam weer in sy bui waar hy stil beplan hoe hy sy lewe in ‘n ander rigting kan stuur – net hier van Buffelsfontein af!   Hy weet hy sal by UNISA kan inkom – maklik ook, met sy taamlike hoë punte. Hy soen sy oumie op die voorkop, en sê dankie. Toe stap hy na sy kamer toe, kry sy skootrekenaar uit, en soek UNISA se webtuiste. Hy weet presies wat hy wil hê, en hy gaan dit kry. Eerste ding: aansoek doen!

In die kombuis, staan Oumie en uitkyk oor die jaart. Sy wil huil oor haar kleinkind wat so deur sy ma verwaarloos was, dat hy van haar af weg geloop het. Sy’t mos nie Dianne so groot gemaak nie! En kyk watse pragtige mens is die kind nie! Hy’t soveel vreugde in haar lewe gebring, van hy so onverwags, in die nag, hier uit gekom het. Sy geniet sy dinge so met Joani! As daai ou vyeboompie eendag aan die praat raak, sal sy lyk om ook te hoor wat hy als vertel. Die ou lendelam tafeltjie ook. Moenie praat van die twee verfdrommetjies nie! Dan kry die grootvrou weer so bietjie seer. Sy wonder of Adam al agter gekom het: as hy baie uitbundig en uitgelate iets vertel, is Shaafika se naam altyd êrens by. Nou weer, in sy teneergedruktheid, bring hy weer Shaafika op. Seker maar hoe die jong mense van vandag se harte werk, dink sy.

*

In Kaapstad kuier Dianne Daniels by ‘n spog restaurant, met haar Duitse kêrel, Ben Fischer, met wie sy al meer as vier jaar bevriend is. Soos sy, is hy in sy laat dertigs, en ‘n sakeman in Kaapstad.

Dis ‘n spesiale aand. Hulle moet ‘n finale besluit neem oor hulle toekoms – in Suid Afrika aanbly, of hulle in Duitsland gaan vestig, en gereeld die besigheid in Kaapstad besoek, waar dit deur goed-opgeleide sakemanne bestuur word. Dianne is stil opgewonde. Sy droom van Europese stede besoek, en in die bekendste stede, wat sy net op die tv sien, rond te stap: Berlyn; Parys; Amsterdam; Istanbul: Praag; Beijing: Madrid, Rome; Londen! Oeee!

Adam is die groot punt in hul gesprek. Ben weet alles van haar seun af. Die private speurders wat aangestel is om die polisie-verslae, en forensiese uitslae, te gaan navors, sal oor drie dae hul verslag voorlê. Daar was met twee afsonderlike regfirmas oorleg gepleeg om vas te stel of Adam Daniels enigsins medepligtig gehou kan word wat daardie nag by Boeta Ses se huis gebeur het. Waaroor hulle altwee langs die tafel saam stem, is dat Adam nooit veilig in Kaapstad sal wees nie. Hy sal ook nooit honderd persent veilig in enige plek in die land ooit weer, wees nie. Iemand kan hom herken, en dan sal sy dae getel wees. So, hy sal net veiliger wees in die buiteland. In die klein nagtelike ure, daar in die restaurant, word dit dan ook so besluit, en hulle vertrek baie tevrede na Ben se huis toe, aan die anderkant van die middestad.

Sy moet nie vergeet nie: daar is iets wat sy moet doen. Haar vroulike intuïsie sê vir haar sy’s reg. Sy moet net haar tydsberekening reg kry, en die meisie kry! Sy moet daar êrens, naby die hoek, bly, waar Dianne, die eerste keer kom vra het na Christie-Boy. Dianne het die tweede keer, deur haar trane, in die meisie se oë gekyk, en die huil ook in die meisie se oë gesien. Toe weet sy: die meisiekind kén vir Christie-Boy! Nou wil sy die meisie gaan kry, en met haar gesels, as alles verloop soos sy hoop en bid. Sy gaan baie, baie versigtig gesels! Miskien kry Christie-Boy die verrassing van sy lewe, daar in Buffelsfontein, as sy en Ben met die goeie nuus, na hom toe gaan!  

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *