In Ant Margie se huis, verduidelik Adam vir Ant Margie hoe die probleem van die foon oorkom gaan word. Hy sal sorg vir die data. Toe verras Joani vir Adam:
‘Ma Margie, ek en Adam gaan van nou af saam studeer vir die eind-eksamen. Net soos in die verlede gaan ons soms hier werk, en ander tye daar by sy oumie. Net soos Ma Margie altyd hier sal wees, so sal sy oumie ook daar by haar huis wees. Ons het besluit dis die beste.’
Adam is stomgeslaan, en kyk die heel tyd na Joani terwyl sy praat. Voorbarag! dink hy. Hulle’t nooit so ‘n decision gemaak’ie! Sy skul’ hom dan nog ‘n an’woo’d op sy invite! Dai’s nou net wee’ haa’ way om’ie plan te laat lyk, of sý die ieman’ is wat’ie hele ding uitgedink’it. Dai’s nou Joani vir jou! Maa’, sy’s oek slim! As dit van haar kante af kom, sal haar mammie ‘rit maklikere aanvat!’
Ant Margie luister stil. Dis wat sy van die begin af wil gehad het! Mar die meisiekind was te stram. Dit sal ook beteken dat die twee, elke dag in mekaar se geselskap gaan wees – dis nou buiten die skool se bymekaar wees. As dit nou al by handjie-handjie is, waar gaan dit eindig? Sy besluit toe, sy sal daai Ouma moet gaan sien! Dis net reg. Hulle is die ouers!
Terwyl Joani-hulle daar binne sit, en Adam haar verduidelik hoe die foon werk, maak Ant Margie gou ‘n paar toebroodjies. Joani staan later op, en gaan binnetoe om te help. Sy bly langer as gewoonlik weg, en Adam kan die gedempte stemme in die kombuis hoor. Dis ‘n argument! Het die antie gesien? Het Joani te lank gedraai daar by hom? Joani bring die skinkbord alleen in. Hy sien op Joani se gesig hy sal maar net ‘n decent tydjie daar moet bly, en dan maar spat, om dit malikerere te maak vir haa’.
Toe dit tyd is om te loop, steek hy sy kop by die kombuis in om te groet, maar die antie is nie daar nie – seker in die jaart. Hy kom trug, en Joani sê sy sal haar ma sê. By die deur draai Adam na Joani toe, en vra of alles oukei is. Joani kyk hom lank in die oë voor sy sê:
‘Wat vanmiddag hier tussen ons gebeur het, op pad huis toe, het geen betekenis nie, hoor jy, Adam Daniels! Niks! En dit sal ook nie weer gebeur nie!’
Adam staan net so ‘n treetjie nader tot by haar.
‘Kan gla’tie dink aan ienage iets terrible, wat op die pad gebeur het’ie! Forget about’t, Joani!’
Laat-middag, toe Adam weer by die huis kom, sê Oumie dit lyk darem of dinge nou lekker is tussen hom en Joani. En vir die eerste keer in ‘n lang tyd, haal Adam weer die naam van Shaafika op.
‘Oumie, die laaste keer toe ek so oor ‘n meisie-vrind gevoel het, was met Shaafika. Wiet Oumie, daai girlie, Shaafika, nuh, daai girlie is nou die complete opposite van díe girlie, hier. Oh, my word, Oumie! Ek praatie van mooi nie! Mooi tel ‘ie so baie nie. Dis net daa’s iets groot tussen Shaafika en my. O’s twee share mos ‘n secret! Saam’e alles wat ek al deur gemaak het, Oumie, trust ek vi’ haar die mieste! Regtag! Ek trust vi’ haa’ m’n my liewe, Oumie!’
‘Wat se secret is dit?’ vra Oumie dadelik.
Adam kraai van die lag, en lê oor na sy oumie toe op die bank. ‘Hene, Oumie!’
Oumie skud liggies soos sy lag. Sy’t stil na die klong geluister, en stel baie belang in die ander meisie.
‘ ’n Secret is ‘n secret, Oumie! Net o’s twie wiet wat is’it! ‘Is baie personal, en sy’t dai uitgevinne van my! Toe sê sy, sy sal’ie sê nie! Nou’s dit o’se secret. Sometimes mis ek nogal vi’ haar.’
‘En Joani? Wat van Joani?
Adam maak hom reg om op te staan, toe Oumie daai vraag vra. Hy wil niks van vanmiddag vir Oumie sê nie.
‘Ag, Oumie, sy’s nice. Miskien sal ek eendag oor haar oek voel, soes ek oor Shaafika voel. Miskíén.’
Die Maandag-middag kom Adam by die huis, gooi sy boeksak op sy bed, sit sy laptop neer, en kom kombuis toe om Oumie te groet. Oumie groet hom, maar draai haar wang vir hom. Hy vra nie dadelik nie, maar gaan solank stort, maar weet Oumie het iets op die hart, en dis nie ‘n lekker iets nie. Later, toe hy aangetrek is, kom hy binnetoe, en sien sommer Oumie wag vir hom.
‘En jy loop toe sommer lekker ‘n handjies-vashou, in die straat, met Joani, nê? Dan kom praat jy hier, dieselle middag nogal, van ‘n Shaafika’?
Adam bly stil. Hy wil meer hoor. Iemand was by sy Oumie gewies! Iemand het vir Joani en vir hom gesien loep’n handjies vashou, en hom by Oumie kom piemp.
‘Oumie, Oumie wiet tog ek en Joani is skoolvrinne! O’s ko’ bai’ bymekaar se huise, as die óúers daar is – nooit as daar niemand anderste in’ie huis in, is’ie. Dai’s o’s se eie rule. O’s het gister oor iets lekker gepraat hie’ by my. Lyk vi’my, o’s twietjies ve’staan mekaa’, nou eerste lekke’! O’s twie gat soema’ lekker in die final exam in! O’s is super-confident, Oumie! En toe o’s hystoe loep, toe’s dit mos natural, Oumie, lat toe o’se vingertjies net raak a’mekaa’, dat o’s soema die vingertjies net daa’ los! O’s is groot kinders, Oumie! Wat’s ve’kee’d m’n dai?’
‘Die kind se ma was hier – sê jy raak darem nou te erg!’
Adam skrik eers. Hy’t dit nie verwag nie. Toe voel dit vir hom hy wil lag. Oumie draai weg van hom af, want sy wil nie hê hy moet haar gesig sien nie.
‘Sorry, Oumie! Sorry. Ek gat soema’ nou tot daa’, om te explain vir Antie Margie!’
‘O, dis nou al Antie Margie! Nou vir wat kom Antie Margie hier kla? Ek het haar sommer goed laat verstaan my kleinkind hét ‘n meisie, dankie! Sy’s in die Kaap! En haar naam is Shaafika!’
Die lag stol in Adam se keel.
‘Toe’s sy tjoepstil! Tjoepstil! En daar loop die vrou ook sommer! Ek wil nog tee maak vir jou Antie Margie …’
‘Oumie!’ en dit klink of Adam wil huil, ‘het Oumie regtag dai gesê, Oumie?’
‘Was dit dan verkeerd om te sê van Shaafika? Die vrou kom dan hier in met ’n skel-gesig. Ek het haar laat verstaan, jý’t gesê, háár kind kom nie náby Shaafika nie!’
Dadelik is Adam op sy knieë voor sy Oumie se stoel, maar toe hy die lag in sy Oumie se oë sien, bars hy uit van die lag, en sy oumie ook. Hy lê met sy kop op sy oumie se skoot, en lag hom klaar, uit pure verligting.
‘Ek wil jou maar net waarsku, my kind. Hierdie is ‘n klein gemeenskappie. Hier praat die mense sommer ‘n dooie ding lewendig! Pasop wat jy doen, en wat deur ander mense gesien word. Hulle las gou stertjies aan! Môre is die storie nie net, julle’t hand-aan-hand gestap nie, maar julle’t uit die rivier uit gekom, hand-aan-hand! Wat jy met Shaakika kan doen in die openbaar in die Kaap, kan jy nie hier in dié plek doen nie! Jy sal sien as jy eendag met Joani oor ernstige sake praat, hoe maak sy toe – soos ‘n see-skulp: schloep!’
En Adam verstaan. Hy besluit om nie die middag na Ant Margie se huis toe te gaan nie. Hy gaan in ‘n storm instap, en dinge net erger maak.
Die klasse in Maths en alle ander vakke, vorder fluks op Charleston. Die skool is aan die gang, al die grade is besig met voorbereidings. Joani en Adam werk goed saam, terwyl Michael vir Vraestel Twee gebruik word. Dan sit Joani en Adam stil, terwyl hy tutor. Almal kry die lesse betyds. Adam het ‘n projektor by die kantoor gebedel, en met sy skootrekenaar word alle lesse op die muur geprojekteer, en leerders bespreek elke bewerking deeglik, voor hulle twee, of drie vrae, self moet aanpak. Dan staan die drie tutors eers bymekaar, en maak seker al drie verstaan die bewerking dieselfde, voor hulle bietjie rond beweeg tussen hulle klasmaats. Vir die huis, kry elkeen vrae uit vorige vrastelle wat hulle moet deurwerk vir huiswerk. Hulle kry ook die web-link om self die vraestelle af te laai, asook die antwoordstelle. Die lekkerste van die klasse, is wanneer elkeen ‘n vraag kry om aan die res van die klas, te verduidelik. Dis hier waar die ware verstaan van die bewerking, behoorlik getoets, en geleer word. Voor klassse begin, word probleme wat daar steeds mag wees, eers weer bekyk. Terwyl Joani dan in hierdie tyd by Heather sit, gesels die ander oor aspekte van vorige vraestelle.
Smiddae is Joani en Adam saam. Dan is dit ‘n heel ander storie. Dan werk hulle volgens die plan wat Adam sulke hoë punte in die September-eksamen besorg het. Hulle fokus is Wiskunde en Fisiese Wetenskap. Hulle werk is heel intens, en Joani is verstom oor Adam se werks-etiek, en sy breër kennis van die vakke. Hy dryf haar, sonder om een keer ‘n grappie te maak terwyl die sessie aan die gang is. Hy verduidelik bewerkings aan haar, wat sy nooit op haar eie sou kon reg kry nie. Sy’s heel verwonderd oor hierdie Adam. Sy werk is goed uiteengesit, en sy kan sien hy’t baie ure bestee om alles so agter mekaar te kry. Daar’s nie baie geselsery voor hulle begin nie. Die werk is op die tafeltjie, en die drommetjies staan reg. ‘n Lang kragkabel hang by sy venster uit, en lê op die grond, oor na die tafeltjie toe. Hy wys haar hoe om bepaalde lesse op Youtube te soek. Dan sit hulle stil en luister. Telkemale word by sekere gedeeltes stil gestaan, of na toe trug gegaan, vir bespreking. Joani kom saans uitgeput by haar huis. Haar ma verstaan, want Joani het vir haar ma gesê, Adam se motto is, ‘No pain; no gain!
En so het hulle twee, en die klasse van Charleston se Graad 12’s, die eind-eksamen van 2020 tegemoet gegaan
Joani en Adam is die dag toe die uitslae by die skool is, nêrens op skoolgronde te sien nie.
Joani is by haar werk laat haal, want die pers het op die skool toegesak om onderhoude te voer met die matriekleerder wie sewe onderskeidings behaal het, met die hoogste punte in die provinsie in Wiskunde en Fisika. Joani is heel verward toe sy en haar ma, daar aankom, en die klomp mense met die kameras, in die saal, sien. Sy kyk naarstiglik rond, maar Adam sien sy nêrens nie. Haar senuwees hang aan draadtjies toe die tv -stasie se personeel met haar en die skoolhoof, ‘n onderhoud voer. Later sit sy by ‘n tafel met die hoof en haar mammie, weerskante van haar, met kameras, en die joernaliste voor hulle. Daarna is dit na die skool se ingang toe. In die hele geharwar en gesels met verskillende koerantmense, en poseer met haar ma, en die skoolhoof, vir honderde foto’s, kry Joani nie nooit kans om na Adam te verneem nie. Toe die onderhoude klaar is, en die onderwysers in wie se vakke die onderskeidings behaal is, aan die gesels is met die koerantmense, vra sy oor Adam. Die hoof deel haar mee dat Adam goed gedoen het, maar nie een van Wiskunde en Fisika, oor vyf-en-sewentig persent behaal het nie. Hy’t darem in Afrikaans sestig persent behaal.
Joani is nie eers huistoe nie! Sy’t van haar ma af weg gedraai, en is reguit na Adam se huis toe, net so met haar skoolklere aan. Toe sy by Oumie inkom, skrik Oumie vir Joani se gesig. Sy’t nog nooit Joani so gesien nie. Oumie wys vir haar waar hy besig is, in die jaart. Sy kom nog aangestap na hom toe, toe praat sy al.
‘Adam Daniels! Wat het jy gemaak?’ en toe Adam omdraai, skree sy op hom: ‘Praat met my, man! En moenie vir my lieg nie!’
Deel 15 – Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal.
Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.
2 thoughts on “Deel 15 – Uittreksel uit Joani-hulle, ‘n jeugverhaal”
I’m truthfully impressed with the writer’s writing style and skills.
So easy to follow , written with passion and insight.
Readers across the board( adults and youth ) will be able to identity with the trend of incidents between the two main characters of this chapter .
Joani-hulle is a really good story. On the homepage, if you click on Alex Marshall’s name, you will be able to read all his stories and poems.
Thank you so much for your interest.