A place where stories unfold

Deel 13: Kgotsafalang

Kgotsafalang se bondeltjie, wat hy in die hokkie bêre, lê eenkant, van die klere ook uitgehaal. Hy gryp gou alles bymekaar, en swaai die bondel agter oor sy skouer. Haastig stap hy trug, en kry sommige van die werkers op pad om gereedskap te kom haal. Hy lei hulle trug, en verbaas staan almal om die plek waar Davies se tent gestaan het. Kgotsfalang neem ‘n kruiwa, en stap aan. Oor sy skouer sê hy hulle moet vat wat hulle wil hê, en padgee. Hulle gaan nie betaling kry nie: die man is weg.

Binne tien minute is die staanplek van Davies verlate, en die meeste van sy bruikbare gereedskap nie meer daar rond nie. Selfs die plate van die hokkie was op die koppe gesit en mee aangeloop. Party van die werkers sak op die kleim toe, en begin woes te delf. Voor hulle gestop word, kry hulle hopelik ‘n klippie of twee. Die kan hulle bysit by die paar wat hulle deur die jare so onder hulle groot-tone vasgeknyp het, en mee weg gestap het. Maar vandat daai Kgotsafalang daar begin het, was hulle soos valke dopgehou.

Kgotsafalang is trug kampong toe. Sy kruiwa het hy binne in die kampong staan gemaak, uitgetrek, en op sy bed gaan lê, en bepeins wat hy die oggend beleef het. Hy dink aan Davies se woorde, om nie hier oud te word nie. Hy hoef eintlik nie meer so lank hier te bly nie. Hy weet net nie hoe Davies hier uit is nie. Diegene wat hom soek, sal hom maklik op die pad hier buite kry, selfs al is hy op ‘n wa hier uit. Of miskien is hulle maar net agter die kleim aan.

Die rede waarom hy hiernatoe gekom het, het met die tyd vervaag. Aan die begin het hy rond gevra. Maar niemand kon so ‘n naam onthou nie, nie eers mans wat al twintig jaar daar werk nie. Toe besluit Kgotsafalang om met sy mense te praat oor die dinge wat Davies hom geleer het.

Saans om die vuurherd in die middel van die vloer praat Kgotsafalang met die werkers oor wat op die delwerye besig is om te gebeur. Soos hy vertel, beaam menige werker dat nuwe base by hulle oorgeneem het. Daar was iets aan’t gebeur. Kgotsfalang verduidelik van De Beers Maatskappy wat die kleims opkoop, en as ‘n maatskappy wil bestuur.

Vir die eerste keer verstaan die werkers, wat hulle elke dag op die delwerye afsloof, hulle is die regmatige eienaars van die land waarin hulle bly. Die grond waarop die  diamant-kleims staan, behoort eintlik aan hulle – in elk geval nie aan die mense wat van oor die see hier gekom het nie! Hulle is verreweg meer in getal as al die uitlanders saam. Niemand mag in hulle land kom diamante soek, of goud soek nie. Alles was nie vir die werkers nuut nie. Hulle weet dis hulle land, díe. Tot laat saans word daar so gepraat, en die oond lewendig gehou. Elke aand groei die getalle, sodat daar reeds ‘n skaar om die vuurherd staan, as Kgotsafalang begin.

‘Wie weet iets van demokrasie?’, sal hy vra, voor hy versigtig begin verduidelik waar die konsep in werking is, en hoe gewone mense van ‘n land baat by die konsep. Die mense kies hulle leiers uit eie geledere uit. Wette word gemaak deur die mense se menings te vra. Dan is daar die stemreg. Die meeste lande se mense oor agtien jaar oud, het stemreg – almal, mans en vrouens. Jy stem vir wie jy as leier wil hê; jy stem teen ‘n voorgestelde wet, of jy stem vir die voorgestelde wet. Stemreg is die een konsep wat die werkers baie interesseer, en hulle praat lank daaroor. Kgotsafalang verduidelik prakties hoe daar te werk gegaan moet word, as daar ‘n nuwe leierskap in die kampong gekies moet word, Vir die meeste is die konsep aanneemlik, maar vir baie Is die tradisionele manier, van oudstes as leiers, die manier wat werk vir die mense. Kgotsafalang vermy debatte, en dra net sy inligting oor aan die wat belang stel – veral die jongeres. En dis die jongeres wat gretiglik meer wil weet. Hulle wil verstaan hoekom ander mense hulle land regeer: die witmense het vir hulself stemreg gegee, maar die swartmense uitgesluit. Hieroor word daar tot laat gesels, tot net Kgtsafalang en ‘n paar dosyn werkers nog om die vuurherd, sit.

In die kampong, en om die vuurherd, was daar mans uit Zoeloeland; mans uit die ooste van die land, die Xhosas; die Sothos, en ook baie ander groepe, in kleiner getalle. Tesame is hulle meer in getal as hulle base van die kleims. Hule rekn daar’s tien keer meer swart werkers op die delwerye as wit base. Dit het Kgotsafalang uitgevind sonder om daaroor in die klomp uit te vra. Sy vertrouelinge, rondom hom, het hom lank reeds hierdie inligting gegee.

Menseregte is ‘n ander konsep wat almal interesseer. Almal het regte! Mense word beskerm deur verskillende wette. Daar is selfs wette, in ‘n demokrasie, wat jou beskerm teen te min betaling! Hieroor word daar baie gesels, en lekker gespot met mekaar se betaling per week.

Op die laaste aand, nadat net hy en sy Sotho-vertrouelinge nog daar staan, kom iemand vra Kgotsfalang moet by die leierskap, agter in die kampong, aanmeld.  Kgotsfalang dring daarop aan om alleen te gaan, maar die Sotho-werkers val agter hom in, toe hy in die gang af stap, tot agter in die kampong. Tot sy verbasing sien Kgotsafalang daar’s ook ‘n vuurherd, maar aansienlik meer geriewe as vir die werkers. Die leierskap sit in ‘n kring om die vuurherd, en wys vir hom ‘n stoel aan -’n regte stoel! Sy volgelinge val agter hom in, om die stoel.

‘Jy kom na ons toe met jou impi, Kgotsafalang! Kom jy dan om te veg?’ kom die eerste opmerking, vinnig en skerp.

Die spreker is ‘n ouerige man met dik karosse om sy skouers, en duidelik die leier.

‘Ek groet die groot leiers hier. Ek kom in vrede’, en hy draai skuins in sy stoel, en knik met sy kop na sy volgelinge.

Hulle draai stil om, en verdwyn in die donkerte, na buite die vuurherd lig. Kgotsafalang sien tien oudstes voor hom, in ‘n halwe kring. Hy sit half voor hulle. Hy gaan ondervra word.

‘Jy is baie bedrywig met jou vergaderings. Jy praat baie. Jy maak die mans hier onrustig. Jy leer hulle goed. Jy laat hulle dink hulle kan die myn regeer; die land regeer! Jy kom sit goed in hulle koppe wat jy nie kan gee nie! Jy bring moeilikheid hier op die myn! Ons wil nie moeilikheid hê nie, hoor jy!’

Kgotsafalang praat met groot eerbied, soos hy as kind geleer was, in y kultuur:

‘Ek hoor wat die groot leier sê, en ek verstaan. Ek bring nie moeilikheid hier nie. Ek praat niks wat verkeerd is nie. Is daar een iets wat ek verkeerd gepraat het?’

‘Kyk hier, die mynbase wil nie moeilikheid hier op die myne hê nie. Die werkers moet rustig bly!’

Hierop bly Kgotsafalang stil. ‘Eers word die leiers omgekoop’, was Davis se woorde, en hier sien hy dit!

‘Jy moet ophou met jou vergaderings! Doen net jou werk! Ons beveel jou!’

Kgotsafalang voel ‘n krieweling in sy ruggraat. Dog hy sit stil. Toe praat die leier weer,

‘Jy’t mos hier gekom om te werk, het jy nie?’

Kgotsafalang sien die opening:

‘Nee, ek het nie! Ek het my vader gekom soek hierso! Sy naam is Tshepane! Ken julle hom?’

Daar’s ‘n beroering onder die leiers voor hom. Maar sy oë is op die leier. Hy’t die vraag aan die leier gestel. Hy sien die koppe draai na ‘n ouerige man, in ‘n Basoetoe-kombers toegedraai, met ‘n warm wolmus op. Die ou man, kyk net voor hom, maar hy voel die skielike koue om die vuur, en die koue kom na hom toe aan gewaai.

+ posts

Alex Marshall hails from Heidelberg in the Western Cape. He was a teacher at Trafalgar High School in District Six, whereafter he taught English at Masibambane High School in Kraaifontein. He was an activist for South African sports; has a great interest in history, and holds a master’s degree in Philosophy from UCT. Alex is passionate about reflecting on his community in his writing.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *