Altesaam 86 inskrywings is ontvang vir die vier boekpryse, wat ten doel het om erkenning te gee aan Afrikaanse skrywers en hulle aan te spoor om gehalteskryfwerk in hul moedertaal te lewer.
“In ’n wankelende wêreld staan Afrikaanse boeke op goeie voete,” sê die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz. “Vanjaar se inskrywings het weer eens ’n leeservaring gebied wat stimuleer, uitdaag en ontroer.”
Drie lede van die Jakes Gerwel Stigting /Paulet House Stories is benoem in drie kategorieë.
KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)
KYKNET-RAPPORT HERMAN BINGE-PRYS: FILM
As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela)
JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERKE
bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze (Human & Rousseau)
Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)
Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.
Dianne Du Toit Albertze is ’n skrywer, toneelspeler en regisseur van Springbok in Namakwaland. Sy het aan die Universiteit Stellenbosch drama studeer, en het in 2018 haar honneursgraad in regie voltooi. Sy ontvang in 2017 die Beste Nuweling toekenningby die Toyota US Woordfees, 2018 die Kanna vir Beste opkomende kunstenaar, 2019 ’n Fleur du Cap nominasie vir Mees Belowende Student en in 2020 wen sy Beste Produksie by Suidoosterfees Nati-jong sterre. Bottelnek breek bek is haar debuutroman.