Suidoosterfees 2023 – hoe baie spesiaal. Daar is so baie dinge wat ek opgelet en ervaar, maar die spasie hier is te min om alles in detail weer te gee.
Twee besonderse oomblikke vir my was die moment toe ek, Lebo Mazibuko, Deidrè Jantjies, Crystal-Donna Roberts en Theolla Langenhoven saam op ‘n pic gepose het saam met ons mentors, Suzette Kotze – Myburgh en Angela Briggs. Ek het byna aan die skrie’ geraak – so groot was die oomblik. Om te dink, ons is almal graduates van die Jakes Gerwel Foundation. Ek hoop dat ons mentors dit ook so ervaar het, met dieselfde trots om hulle as guides te hê. Die glorie, sou ek dink, is dan net soveel hulle twee s’n as ons s’n.

JGF/NB Uitgewers Afrikaans mentor Suzette Kotze – Myburgh, Kwela skrywers Audrey en Lebo Mazibuko, Theolla Langenhoven (Kommadagga Slypskool 2020), JGF/NB Publishers English mentor Angela Briggs. Voor sit Tafelberg skrywers Deidrè Jantjies en Crystal-Donna Roberts (Fotograaf: Jeremeo Le Cordeur)
Ek en my sus het die Vrydagoggend met public transport getravel en ek was so hartseer toe ek besef ek gaan dit nie maak vir Betinna Wyngaard of Loit Sôls se gesprekke nie! Vir Bettina het ek nie met ‘n oog gewaar by die fees agterna nie – ek wou tog so graag, al was dit net vir ‘n pic – ons is mos oor ‘n picJ, maar ek het haar gemis – ek gaan jou eendag kry, Bettina en dan gaan ons kaarte skiet laat dit wit sit!

Bettina Wyngaard met Francois Loots en Jonathan Amid, Audrey het hierdie gesprek oor vreemde vrou in fiksie gemis.
En nou, drumroll please!, want toe is Elob so goed vir my – ek het die hele Vrydag agtermiddag en die hele Saterdag gespend in die geselskap van niemand anders as Kham – goab (wyse man) Loit Sôls!

Die onnavolgbaar in gesprek – Loit Sôls
Somtyds (hoe ironies vir ‘n skrywer), ontbreek woorde my – dit gebeur gewoonlik wanneer die oomblik byna te ongelooflik is om te vermenslik. Ek het hom gehoor, na hom geluister, geggiggel vir sy aansteeklike giggel – en dit wat hy kwytgeraak het, kom eggo nog elke dag sedertdien in my gaga (wese) – van kardinale belang vir my essensie was sy woorde: ons is mos mense van vrede, Suster – ek hou vas hieraan, Boeta Loit, vir altyd.

Die bure Audrey van Swellendam en Loit van Riversdale het uiteindelik ontmoet.
Dan was daar talle nuwe vriendskappe, herontmoetings met ou vriende (Paul Kammies – hartsmens), geselsies en grappe – waar Melt Myburgh is, lag ek altyd my “by die huis lag” – jy weet, nie daai sturvy stywe lip smaail nie – my byrie hys lag – want dis wat Melt in my uitbring.
Die kleur, die lig, die spontane cha-cha dans wat vir my dames decades ahead of me laat envy het – jinne! ek hettie daai ritme nieL
Michè Van Wyk, die meisietjend van die Noord – Kaap wat vir Ruth Jantjies so excellent geportray het! En die stuk wat sy agterna vir ons in haar soet Noord – Kaapse aksent gesny het van die donkie biltongJ – toemaar Michè, ek praat niks uit nie!
Kortom – soms word mens uitgeput van roetine – werk toe, huistoe, kos kook, wasgoed was – dis hier waar mens net so ‘n reminder nodig het van dit wat out there in the universe is, want birds of a feather, flock together tog? By die Suidoosterfees – waar dit weereens lekka’ was!
Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.
