A place where stories unfold

Vrouedag Toespraak: Wie is jy?

Goeiemore Dames, Good morning Ladies,  Molweni  Zimbokodo.

Ek en my sus gesels die ander aand oor die stand van sake in die samelewing huidiglik.

Dis moord en doodslag net waar jy kyk. Dit lyk almal is kwaad. Almal is in een of ander fase van aggressie, soos die vrou wat die ander dag byna my enkels af gery het met haar trollie in Checkers.

Daardie selfde aand blaai ek randomly deur google en val vas op Noël Jones, ‘n Amerikaanse prediker – besig met sy Sondagdiens wat live uitgesaai word.  En hy praat presies dieselfde ding – oor kontinente heen.

En tussendeur al hierdie agressie, raak ons al verder van mekaar verwyder.

Ek wil weet wie jy is. Maar wil ek jou regtig ken?

Jy is my suster, my vriendin, my moeder, my dogter.  Jy is die vergestalting van ons almal se ouers en voorouers en hulle ouers, maar ek minag jou eerder sodra jy net bietjie meer shine vang as ek of ek verlekker my in jou sorge.

Jy is my suster wie se angskrete my in die middernagtelike ure uit my diep slaap wek, want jou man is besig om vir jou  ń straat ver weg halfdood te slaan en ek hoor en sien dit, ook die vrees,  hart en siel skade  in jou seuntjie  se stem soos wat hy saamgil, die skade wat repiterend oor geslagte sal voortduur tensy hy die lyn trek en sê – ek is nié uit hierdie grondstof geskep ek begin ‘n nuwe generasie vol positiwiteit – maar ek draai my om en sê dis nie my besigheid en sit my rustige slaap voort.

Wanneer daardie seun dan hierdie monsteragtige gedrag van sy pa imiteer, verklaar ek neus in die lug, maar dis mos te wagte, al het hierdie kind sóveel potensiaal getoon om hierdie trans – generatiewe trauma te oorbrug deur iets van sy lewe te maak, en wat het ék gedoen om hom te help?

Jy is my dogter, verslaaf aan tik en in plaas daarvan dat ek daadwerklike pogings aanwend om tot hulp te kom, loop ek neus in die lug verby.

Jy is die moeder van ń seun – of dogter wie se diepste geheim hy of haar seksualiteit is, wat hul verberg uit vrees vir die oordeel van ander, en dan gaan trou hy en verwek kinders of nog erger, hy neem sy eie lewe.  Ek lag daaroor. Want dis sonde. En ek gaan vir my kinders sê om nie by joune te speel nie want netnou smeer dit af aan myne.

Jy is die moeder van ń kind wat jou verag omdat jy haar kleintyd by haar ouma moes los om vir haar te gaan werk, want die pa het óf koers gekies of sit diep weggebêre in ń gevangenis en in plaas daarvan om jou te assisteer met haar grootword, beskinder ek jou eerder.

Jy is die vrou wat haar letterlik blinde man hand aan hand begelei na jul werksplek, jou lyftaal  spreek van net liefde soos jul straat af loop, en tog het ek die lelik in my om eerder te dink julle twee is darem maar ń ou lekker grappie om die werksdag mee te begin.

Jy is die dogter van mense van aansien, maar jy is disleksies en ek het die onaangenaamheid in my om te sê, kyk, julle  hou jou só smart maar kyk hoe onnosel  en  dom is jul dogter.

Jy is die ma van ń tienerdogter wat nou op dertien  jaar oud ń baba moet hê en ek skud my kop eerder in veroordeling in plaas daarvan dat ek jou en haar probeer help dat sy ten minste haar skoolloopbaan kan red vir ń beter lewe vir haar en haar kind.

Jy is die vrou wat in vandag se dae nog steeds met hopies fyn hout op jou kop vasgemaak uit die bos uit gesukkel kom, want jy het nie die weelde van elektrisitteit nie, maar in plaas daarvan om vir jou ń vrag hout te koop en laat aflaai, ry ek soos wind verby jou want jy pas wragtag nou nie in my milieu nie.

Jy is die vrou wat van Zimbabwe af ń nuwe lewe vir jou kinders kom soek het en jy hitch hike elke Donderdag vanaf Somerset Wes tot by jou bestemming honderde kilometers weg om te gaan hare doen, maar jy is amakwere – kwere, dus hoef ek aan jou situasie absoluit niks te doen nie, want wat soek jy hier? Jy behoort nie eers hier nie.

Jy is die moeder van ń tiener dogter wie se werklose stiefpa haar met voortdurend begerende ogies dophou, maar jy let dit nie op nie en jy slaan haar eerder potblou wanneer sy vir jou vertel, want hoe kán sy sulke leuens versprei en ek, ek wat die waarheid ken wat die dogter van praat, ek bepaal my eenkant toe, want dis nie my business en ek kan nie nog ander mense se moeilikheid my ook mee oplas nie, ek het te veel van my eie. So ek smoor dit dood en vermy die dogter se ogies wat vir my vraend en vol smeking my hulp aankyk.

Ek wil jou sien goed doen in die lewe maar nie beter as ek want dan verdwyn ek in jou skadu.

Jy sit met jou maniese depressie en ek verklaar jou mal.

Jy is só eensaam en alleen en drink jouself tot niet in die stilte, want jy dra die geheim van jou kinder verkragting al die jare alleen  en ek vra nie hoekom nie – ek oordeel net want jy is net ń ou dronklap in my oë.

Jy is my vriendin daarom vertel jy my van jou diepste drome, maar ek discourage jou want sê nou jy outshine vir my?

Jy is die moeder van klein kinders wat jy moet voed met ‘n byna leë koskas, want payday is nog ver, en jy offer jou bietjie kos op en gaan slaap en staan honger op – onseker oor waar die vlg dag se maaltyd vandaan gaan kom, en wat doen ek om te help?  Ek het nie geld nie. Wat van selfs net bietjie rys, ‘n ui of ‘n paar aartappels – dit sal ook genoeg wees.

Jy loop heeldag en glimlag vir almal en dit lyk asof you have it all maar niemand weet van die verskriklike swaarkry wat jy innerlik ronddra.

Jy is die vrou wie se verhaal ek wil hoor, maar jy mag my nie verongemak met jou dialek, of tongval nie – jy moet dit vir my mooi vertel, want ek is beter as jy – sulke taal ken ek nie en ek wil ook nie en so ontgaan die omvang van jou  lewensverhaal my want al wat ek hoor, is jou vuil ongeletterde mond en verder  wil ek nie opgesaal wees met die ware aakligheid van jou omstandighede nie.

Dit is hoe ons van mekaar wegdryf.

Ons is die rugsteun van die universe.

As ons as vroue nie nóu begin om net dáár te wees vir mekaar nie, dan bou ons verniet aan ń samelewing. ‘n Sameleweling alreeds só verrot en deurmekaar dat ons sommige dae nie weet of ons kom of gaan nie – ons beweeg asof in outomaat. Verniet probeer ons om voort te bou op dit wat ons voormoeders só hard voor gewerk het, terwyl ons vasklou aan oppervlakkigheid en leef in ‘n wêreld vol pretensie en dinge van total irrelevante goed soos vel kleur en wie ry die mooiste kar.

Daar is niemand soos jy nie. Elkeen is hier op aarde geplaas met haar eie unieke doel. Gebruik dit tot voordeel van jouself, hulle rondom jou en hulle wat na jou hier gaan wees.

Ons het mekaar nodig! Laat ons mekaar, ondersteun en versorg  in ń kosmiese ontploffing van liefde en vrede.

Sida ge hoapa hâ!  – Ons is orals!

Foto: Audrey Jantjies met Dr Lizé Van Schalkwyk, GP en die vrou van Swellendam Executive Mayor en Lorraine Lank van die Swellendam Biblioteek.

+ posts

Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *