A place where stories unfold

Mombakkie

Die blokhuisie in Rondomskrik is ’n vierkant binne én buite. ’n Pondokkie met letterlik net plek vir drie mense se gemaklike beweegruimte, maar dis Buckingham-paleis vir my vriendin Rietjie. Sy bly hier saam met Rolene, haar ewe plankdun teenager-meisiekind. Ek skat die feit dat hulle al twee so brandmaer is, maak in ’n way op vir die gebrek aan spasie.

Ek en Rietjie sit by die kombuistafel. Ek trek aan ’n fong kong-sigaret en sy staar ingedagte met ’n koffiebeker teen haar lippe. Die son huiwer al op Twaalfuurkop van die Langeberg.

Dis Maandag – Rietjie se af dag. Sy is ’n restaurant cook. Die naweek se wasgoed is op pad na droog en sy wonder hardop oor aandete. “Moet dit meelpap of die laaste twee eiers wees?”

Payday lê nog ’n hele week weg, bitter ver wanneer jou koskaste leeg is. Maar eet sal hulle eet, daarvoor sal my vriendin sorg. ’n Klop aan die deur skud haar uit haar menu musings.

Toe Rietjie oopmaak, staan daar ’n baie mooi vrou. Sy’s baie lank ook, te oordeel aan hoe sy halflyf oor die onderdeur lê. Sy kom reguit van ’n salon af, want haar kroon is stokstyf en blink gespray. Die makeup is in plek, perfek gedoen. Die lang vingers, klouend oor die onderdeur, eindig met skêr-skerp vingernaels, duidelik ook ’n studio job.

“Celeste!” gil Rietjie opgewonde. Sy ruk die onderdeur oop en verdwyn in die amasone se omhelsing.

Toe hulle die kombuisie betree, wil die gas se kop net-net aan die dak raak. Haar klere, hoewel baie stylvol, lyk of dit aangespuit is. Op die oog af is daar geen twyfel oor haar geslag nie, maar iets lyk vir my net nie lekker nie.

Sy gaan sit grasieus, haar lang, slanke bene inclining, declining en uiteindelik reclining – soos een van daai eteriese karakters in ’n sci-fi-fliek. Dan maak Celeste haar mond oop. ’n Dieper baritone as Morgan Freeman en James Earl Jones combined klink op, en ek verstom my oor my eie onnoselheid.

“Hello,” sing-vra hy nuuskierig na my kant toe, “en wie is jy?”

“Ek is Bella,” sê ek ongemaklik, sonder om na hom te kyk. Bang dat hy sal vra hoekom ek so staar.

“Jou hare is mooi gedoen,” voeg ek by, terwyl ek nog sluk aan my oordeelsfout. Maar ja, my derra sê ’n perd struikel oor vier bene, wat nog te sê van ’n mens met twee.

“Ta, vrou.” Hy kyk vir my met halfgeslote oë vol agterdog, sekerlik oor die bedoeling van my kompliment.

Dan draai hy na Rietjie. “Meisa, ek bring good news vandag.”

Hy klink skielik kinderlik opgewonde en opreg gelukkig. Tog kan ek sien die glimlag wat sy oë vol lê, bereik nie heeltemal sy mond nie. Sy bolip is oor sy tande getrek, soos wanneer mens jou snor wax.

Hy vroetel in sy handsak en steek eers die dunste sigaret aan, wit filter, en blaas uit. “Ek het twaalf jaar, sewe maande en drie dae hiervoor gewag.”

Nou is my nuuskierigheid geprikkel. O jirre, hy gaan vir ’n sex change! Wat anders kan dit wees? Mens spaar nie eers so lank vir ’n kar nie. Hy gaan seker oorsee vir die operasie.

“Uiteindelik, ná al die jare, ná al die kak wat ek moes opvreet van daai hond van ’n baas, ná al die toebek-smilery, ná almal se jokes oor my fokken mombakkie, gaan ek Vrydag vir my porcelain veneers!”

And then all hell broke loose, soos die Engelsman sê.

Rietjie vlieg uit haar stoel en gryp vir Celeste. Eintlik gaan val sy hom bo. Die lendelam stoel se skewe poot raak nog skewer soos wat hulle sit en dans-wieg.

Ek voel soos ’n gepopte ballon. Tande? Vir wat gaan hulle so aan? My fok, terwyl hier soveel mense met pap bekke rondloop. Valstande is mos nou nie só outrageous nie.

Vir die tweede keer is ek sommer vies vir myself. Hier sien ek al hoe kom hy gevaginaliseerd terug uit Kuba. Ek het sy verhaal vir hom uitgewerk to a T – hy moes net sê, vir dié wat hom nie ken nie, hy’s ’n retired supermodel. Hy’s vir seker mooi genoeg daarvoor.

Ek voel defeated, maar hulle twee is lost in oblivion.

“Bella, gaan kyk gou in my klerekas,” instruct Rietjie vir my so tussendeur. “Haal daar uit die boks ’n bottel van daai redundant champagne wat ek laas Krismis by my baas gekry het.”

Ek moet my champagne maar uit een van die gewone Pep Stores-glase drink, want Rietjie het net twee ordentlike champagne flutes. Dié het sy ’n paar jaar gelede present gekry by Mam’ Tol, vir haar en Roland se special occasions. Maar Roland het die pad gevat en die nuwe rule is dat sy glas gehou word vir wie ook al die bearer of good news is. Vandag is die glas Celeste s’n.

Ek sluip badkamer toe ná ons gecheers het. Ek voel kriewelrig rondom Celeste, dis al asof hy déúr ’n mens kyk. Hy is after all tweeseksig, so dit kom seker met allerhande superpowers.

Ek was my gesig en draai so lank moontlik in die badkamer. Ietwat meer composed keer ek terug na die kombuis. Die twee is steeds hewig aan’t klets en fake champagne drink. Rietjie se wysvinger met die groot knop waar die restaurant se vleismes haar getref het, vou fyntjies om die swart steel van die glas.

Meteens vlieg sy op. Haar kop swaai wild van Celeste na my. “Ons moet by die hotel gaan celebrate.”

Ek verstik byna aan my drank. Die vrou is mos bedonnerd! Ek is werkloos. Sy pay skaars genoeg vir ’n maand se kos. Al Celeste se geld is sekerlik vir die valstande.

Hoe de fok gaan ons anyway doer onder in die dorp kom? Dis soos om Tarkastad toe te loop van hier af. En dis ’n weeksdag, ’n werksdag – almal wat ons ken met karre werk. Wat van haar kind wat binnekort uit die skool uit kom? Behalwe dat ons nie geld het om iemand te betaal om ons hotel toe te vat nie.

Ek noem al hierdie goed, maar my liewe vriendin, altyd die personification van positiwiteit, sê sy weet net hoe.

“Bella, ek bak mos vetkoek vir ’n ekstra geldjie. Ek het nog ’n paar rand oor. Rolene is mooi groot, sy kan haarself help vir vandag. Ek los die sleutel hier langsaan by Fytjie. Verder skuld oom Faan Beentjies my nog geld vir ’n baksel van voorverlede week. Hy kan ons ry.” En sy kyk my so uitdagend aan.

Die Here is my hart bekend! Die vrou wat nou net gesit en stres het oor wat om te eet vanaand!

“Jy’s seker nie van dié lekker lewe nie, Rietjie.” Celeste sit sy glas met ’n klipharde bang! neer. “Ekke, hierie movie star ekke, gaan nié in daai excuse vir ’n bakkie ry nie. Wie gaan voorin sit, wie agterop? Sê nou my wig waai af? Jirre, nee. En jy kan nie voor sit nie, daai pervert gaan jou beklou.”

Rietjie vat ’n lang sluk van die champagne wat al meer soos moswyn ruik en proe. Dit makeer nie baie drank om haar te laat vergeet van haar bedeesde, preutse self nie. Haar wild side, gekombineer met haar “I saw the light yonkers ago”-optimisme, is ’n dodelike kombinasie. Ons gáán en klaar!

Celeste bekyk haar. “Maar agterop gaan ook nie werk vir jou hare nie, vriendin,” gee hy toe.

Ek word soos ’n slagskaap net ignore, asof my opinie nie saak maak nie.

“Dit gaan in all directions staan by die tyd dat ons daar onder kom en ek gaan my vir niemand skaam nie,” praat Celeste verder. “Bella het ’n lang gladde bolla, so sy kan agterop klim. Ek sal maar ’n doek opsit.”

Oom Dik Faan Beentjies word gesummons. Terwyl ons wag, word ons makeup gedoen deur Celeste se geoefende hand. Ek leen earrings en ’n paar van Rietjie se kerkskoene, want Celeste sê so. Ná nog ’n bottel champagne arriveer ons vervoer in ’n rokerige waas.

Die seating arrangements is as volg: ek en Celeste agterop en Rietjie voor by oom Faan. Hy beheer die bakkie se pedals met ’n customised knopkierie, aangesien hy hewig in die steek gelaat is met die groei van sy bene. Vir hierdie ride hoef Rietjie gelukkig net met sy honger ogies te deal.

Ons loop in gelid na die neëntien-voetsek Mazda-bakkie, oorwegend ligblou maar met ’n bloedrooi passasiersdeur. Rietjie stoei en stamp aan die deur met die inklimslag. Celeste swaai een tentakel vir ’n been soos ’n balletdanseres oor die rand en dan die ander. Bly eers ’n rukkie staan om vere reg te trek, Marilyn Monroe-style doek styf onder die ken vasgemaak, voor hy gaan sit. Dan is ek op en val lomp langs hom neer, ons rûe gestut teen die agterruit. Ek voel asvaal teen hierdie beeldskone kreatuur.

Die bakkie trek kuggend weg. En route na die hotel word ons soos skoudonkies bekyk en uitgelag deur die straat se vuil snotneuskinders en die skinderbek-anties met overalls en swirlkouse wat op die straathoeke vergader. Celeste gee vir hulle net sulke uit-die-hoogte-kyke. Ek follow suit en hou vir my ook “celebritatious” (Celeste se woord).

Hier stop die Mazda halfpad. Wat de fok nou?

’n Vreemde man draf nader en beklim die bakkie in slow motion. Hy kry sy sit so naby aan my en Celeste dat die uitgedrukte puisiegate sigbaar is op sy growwe geel gelaat.

“Awê,” sê hy so stadig soos ’n graad R-learner wat leer klank, sy hand gelig in ’n groet.

Sy bloedbelope oë huiwer eers oor my en settle dan op Celeste. ’n Ander atmosfeer daal op die bakkie neer. Creepy. Invasive. Asof my diepste privaatheid geviolate word. Die man se hele demeanor wil my van die bakkie af laat spring, sommer so in die ry. Ek en Celeste groet nie terug nie, sit letterlik net so met ons bekke in die wind.

By die spoorlyn stop die bakkie vir ’n aankomende trein. Die man vestig nou sy uitkyk daarop. Celeste knyp my venynig in die sy.

“Kyk die jong se tattoos,” fluister hy dringend.

Dis toe eers dat ek die man se linkervoorarm oplet. ’n Ster lê in die mik tussen wysvinger en duim. ’n Dice en die afbeelding van ’n vrou is op die buitekant geëts in ’n tint van kotsgroen.

Instinktief skuif ek en Celeste nader aan mekaar.

Ek dink skielik aan Niela, ’n vriendin se dogter wat ons verlede jaar in Worcester se tronk gaan besoek het. “Saans hoor ons hoe huil die mans aan die ander kant,” het sy gelate vertel.

Ek sidder by die herinnering, want dit het my maande gevat om daarvan te vergeet.

Nou is ek fokken bang. En ek kan aanvoel Celeste is ook bang.

Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar dis of die bliksem begin rusteloos raak. Soos ’n wilde dier wat wil pounce, sit en klap hy sy knieë in versnellende perkussie teen mekaar. Oop, toe, oop, toe. Sy oë gly hongerig van my na Celeste. Heen en weer. Heen en weer.

Ry net, oom Faan, bid ek binnetoe, dat ons by die hotel kan uitkom.

Uiteindelik is ons daar. Soos vroeër by die huis afgespreek, vra Rietjie vir oom Faan om bietjie te reverse sodat die mense nie kan sien wanneer ons van die bakkie afklim nie. Ons stap so al regtrekkend na die hotel terwyl Celeste onvroulik spoeg na die verdwynende bakkie. Ons medepassasier se agternastaar vul my met afgryse, maar ek skud dit van my af.

Die hotel se setup is baie basies, dis eintlik maar ’n drankhool. Geelgebleikte tafeldoeke wat nevermindedly oor die plastiektafels gegooi is, versier met rooiwyn- en oliekolle. Halfvol blikasbakke en gelamineerde menu’s. Lendelam stoele waarop jy jou sit moet ken.

Dis betreklik vol vir ’n Maandagmiddag, seker maar ’n byeenkoms van uitgeweke ellendelinge wat die naweek se babbelas kom oormaak. Die enigste beskikbare tafel is reg in die hoek, aan die oorkant van die stoep. Rietjie neem die leiding. Celeste stap te midde van onderlangse kyke en ’n gefluister soos wat dit royalty betaam. Ek volg, embarrassed en terselfdertyd gevul met ’n moederlike beskermingsdrang.

Rietjie gaan sit met haar rug na die geboue aan die oorkant van die pad. Ek en Celeste face die hele crowd. ’n Motorbike helmet en ’n paar oversized leerhandskoene kyk vir ons van die tafel langsaan, tesame met ’n half uitgebrande sigaret en ’n vol glas amberkleurige drank.

“Die Here moet my regtig vergewe,” sê Rietjie verskonend. “Volgende week is ek en my kind weer vegetarians. Maar ’n mooi smile is altyd iets om te vier.”

Sy staan op en gaan bestel vir ons: tequila en drie draft-biere. O jirre, vanaand gaan ons smokkelhuis-gesuip wees!

’n Elmboog in my ribbekas ruk my uit my bepeinsing. Ek kyk na waar Celeste met ’n effense kopknik beduie. By die tafel langsaan het ’n baie realistiese replica van X-Men se Wolverine plaasgeneem.

O donner, hier kom groot drama, sê ek vir myself. Maar ek kan nie help om stilletjies ook ’n bietjie te kwyl nie.

Die drank arriveer en ons suip. Terwyl ek en Rietjie al louder party-gees vang soos die middag verskemer, word Celeste al sagter – letterlik en figuurlik. In my drankbenewelde toestand sien ek hoe sy die finale transition maak.

Celeste het bier verruil vir rooiwyn en haar pinkie staan al meer orent om die glas se steel, haar lippe raak rooier, haar dreamlike oë versluier agter die pruik se kuif. Haar smile word iets wat Leonardo da Vinci nie in ’n duisend Mona Lisas sou kon capture nie. Die baritone is magically vervang deur ’n skaars contralto.

Sy eye vir Wolverine en hy eye vir haar met die kyk van ’n uitgehongerde leeu. Hy is op jag, en sy prooi is duidelik baie gewillig.

Ek en Rietjie suip en maak lawaai te midde van al die kopdraaie en oë vol afkeer na ons kant toe. Maar ons gaan aan en aan. Begin later love songs sing. Dronkverdriet op sy beste.

“Last round!” skree die barman skielik.

Celeste sit nie meer op haar plek nie. Ek en Rietjie kyk gelyk na Wolverine se tafel en ontdek hy is ook weg. Én die motorbike helmet en gloves.

Ons vra vir water terwyl ons wag vir Celeste en bespiegel oor haar whereabouts.

Toe die barman sê dis closing time, kla ’n vrou kliphard sy kan nie by die toilet in nie en haar nood is groot. “Hoe lank moet ek nog wag vir daai reier van ’n moffie om uit te kom?”

Ek en Rietjie kyk mekaar aan in ’n eureka-oomblik. Ons maak haas na die toilet. Dis gesluit en die night manager word ingeroep.

Met ’n tool case in sy hand klim hy op die manstoilet langsaan om in te kyk. Hy snak na sy asem en klim kreunend af. Bly doodstil toe ons vra wat hy binne gesien het.

Hy ontsluit die vrouetoilet met ’n screwdriver.

Ek hoor ’n gegil, maar kan nie uitmaak of dit my of Rietjie se stem is nie.  

Celeste sit-lê daar, swart broek halfpad afgetrek oor die slanke heupe. ’n Dun straaltjie bloed kronkel van onder haar sitvlak tot waar dit vervloei in die krake van die verweerde teëlvloer. Haar gelaat is opgepof en het ’n sieklike bloupers kleur. Die kneusplekke laat dit lyk soos botox gone wrong.

Die pruik is half van haar kop af en die beige swirlkous komplementeer mockingly haar donkerbruin voorkop. ’n Lang vals wimper lê in ’n lopsided grin onder haar een oog. Die afgestompte, verbruinde botande het skeef uit haar mond geglip. In ’n desperate poging om dignity word dit nog vasgehou deur die agterkaak. En Celeste lyk net dood.

Nee, nie dood nie.

Sy lyk vrek. Vrek gemáák.

Hierdie verhaal het eerste verskyn in die US Woordfeesbundel van 2021 – Iets anders.

+ posts

Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Mombakkie”