A place where stories unfold

Audrey Jantjies se vrouemaand toespraak by die Swellendam Biblioteek

Dames,

Hierdie maand vier ons vrou wees. En wat ‘n maand was dit nie tot dusver nie!

Die afgelope paar weke voel ek so ‘n afdraende spiraal in my siel posvat – so,  waaroor gaan alles nou eintlik? Ek het selfs so ver gegaan om vir ‘n vriend te vra: jong, is ons nie dalk in die hel nie? Ek bedoel, kyk net wat gebeur alles om ons – moord, doodslag, verkragting, en sommer net minagting vir mekaar se bestaan – let wel, hierdie het niks met politiek of ras of klas te make nie – dis ‘n gesprek wat drie weke gelede al plaasgevind het.

Ek is seker ek voel nie alleen so – so geisoleerd, so undone, so verlore, so bleh!  En toe kom die gastro ook nog! Ek het gevoel soos JM Coetzee se Michael K sekerlik op een of ander stadium in sy lewensreis moes voel – tot die dood toe moeg, maar ons moet voort. Anders wat bly oor?

Daar is net te veel wat ek nog wil doen, te veel het ek nog om te gee, sou dit my Skepper behaag. Ek kan nie toelaat dat die negatiewe impak van dit wat ek op sosiale media, rondom my, op nuusblaaie my onderkry.

Ek moet opstaan en halala!

Ek moet die lof besing van die mamma wat haar seun se swaar skool rugsak bult opdra in Murraystraat – sy haarself so tengerig en fyn dat ek party oggende haar kreun en kners kan hoor, want mense! Daai sakke is swaaar. Maar elke oggend is hul daar, oppad skool toe, vir beter vir hom en haar.

Ek moet die Skepper loof vir die antie wat met haar lekker heupswaai stappie soggens oppad werk toe in haar pienk overalls, ‘n huppel in my eie sit en ‘n breë smile op my gesig sit vir die res van my dag – sy weet dit nie eers.

Ek moet die mamma salueer wat omsien na ‘n 26 jarige seun wat Down’s Sindroom het en ‘n man wat bedleend is a.g.v beroerte. Haar enorme krag, is awe inspiring vir my wat dink my lewe is tog so swaar.

Ek moet die vrou, wat soms net ‘n bietjie rys in haar koskas het, uplift en saam met haar rejoice oor haar dogter wat weereens die 2023 meriete klas gehaal het – eerste plek! Ten spyte van die feit dat die lewe oor die algemeen vir ma en dogter n opdraande stryd is.

Ek moet jubel vir die dogter straat af wat ten spyte van die skielike dood van haar ma, so twee jaar gelede, alles insit vir haar en haar eie dogtertjie en prys en dank gee, want sy het sopas haar eerste karretjie gekoop – in plaas daarvan dat ek vra: waar kry sy geld?

Ek moet die blinde antie wat haar man soggens met soveel vreugde in beide hul stappies begelei werk toe, hoog op my skouers sit en vir die wereld verkondig – kyk! net watter inspirasie is sy!

Ek moet die moeder wie se dag soggens 04h00 begin in preparasie van haar en haar gesin se dag selfs hoër oplig, want luister  wanneer ek nog lekker knus in my bed lê, staan sy by die optelpunt van waar die lorrie haar optel en sy tussen ander asems moet in squeeze om te gaan sitrus pluk met hande wat byt van die koue, want meel en suurdeeg, melk en suiker – dit moet gekoop word.

Ek moet die boervrou wat Canola oes aanry met die dertig ton trok begroet met ululasie – sjoe! Kyk wat doen sy vir die vrouedom en ek moet vir haar sê, ek sien vir jou, ek bewonder jou.

Daar is so baie fasette van vrouwees, ma –wees, suster, vriendin, dogter, ouma, caretaker.

En om te dink iewers binne elkeen van ons as vroue, is dit alles teenwoordig. Dit is magies! Betowerend!

Hoekom sal ek dan so n veel fasettige nalatenskap  wil ruineer met swart sakke vol las, verledes, sondes, jaloesie, afguns, kleinlikheid en venyn?

Nee, ek wil saam met ander vroue die vreugdes, die suksesse, die liefde, die ekstases van doelwitte wat bereik is,  besing en vier. Terselfdertyd wil ek ook kan sê, ek wil saam met jou bou, en herbou – ek is hier vir jou.

Ek wens alle vrou hier en ook daarbuite  die lieflikste vrouemaand verder. Laat ons nooit moeg word nie, mag ons tree nooit wankel meer as wat ons bene kan dra.

© Audrey Jantjies

+ posts

Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *