A place where stories unfold

Audrey Jantjies: Eina! ma’ toema

“Ek dra graag hierdie kortverhaal op aan almal wat al ooit deur Alsheimer’s, of dementia geaffekteer is – die families, elke vrou, elke care worker – daar is nie ‘n salaris groot genoeg vir julle nie –  elke kind wat al ooit sy ouers so moes versorg en spesiaal aan elke pasiënt wat aan hierdie hel suffer – ons sal jul nie vergeet nie, ons sal onthou.”

Vandag is een van daai dae – middel Februarie 2020.  Ek is kriewelrig. Nes daar rooi miere onder my vel wil kom nes maak. Dit is nie warm nie. Ook nie koud nie. Hier is wel ‘n sterk bries wat die wolke rond waai. Die lug is tegelyk blou en donker met spatsels rooipienk tussenin – nes die ultimate Weatherman ook bored is.

Ek sit met ‘n gevoel van afwagting op my bed. Vir iets. Waarvoor weet ek self nie. Maar laat iets tog net gebeur!

“Het ek my geldjie vi’jo gegee,”  hoor ek my pa vir my ma vra vir die umpteenth time vandag.

“Praat man!,” sê hy ge – irriteerd wanneer sy te lank na sy sin vat om te antwoord.

Ek sien voor my geestesoog hoe sy stilweg haar kop net knik, ‘n twakpil uit haar bont voorskootsak uithaal, met haar Lion mêtjies aansteek en die walms ‘n  donker wolk kolom om haar rooi bont kopdoek maak soos wat sy swaar sugtend  die rook uitblaas.

Heeldag is ek so verveeld. Dan sit, dan bietjie lê. Dan bietjie lees, maar die karakters wil nie lewendig word nie, so dan los ek maar, nes my brein ook bored is. Ek probeer bietjie slaap – niks maak nie.

Ek dink aan Tolstoy – “Boredom. The desire for desires.”

My kleinneef Saul van ant Lenie kom loer vinnig in en loop weer vinnig  na ‘n glas rooi Jive koeldrank en die jongste skinder update oor die familie op die plaas..

“Saul praat net kak,” sê Derrie luiters na Saul weg is en gaan sit sy draadloos hopeloos te hard aan op Radio sonder Grense – die konsertina musiek dryf my tot waansin!

Kwart oor drie – laat die wind my kry, daar is ten minste ‘n view oor die  lewe ander kant van die spoorlyn.

Net toe ek die onderdeur oopmaak, sien ek boeta Tewis van die agterste straat  op sy  Raleigh bike verby trap. Afdraand, maar hy trap nog altyd. Sy oranje-pienk hemp maak ‘n bol agtertoe sy collar  is tot onder sy ken toegeknoop en slaan sy wange laat die trane loop, maar sy swart en grys afro maak nie ‘n move nie. Sy wye broekspype is weerskante met wasgoed pennetjies vasgeknyp. Wat uitrustings aanbetref, het die man  regtig in die sewentigs agter gebly, ai.

Antie Miena van oom Blikkies, ons buurvrou aan regterkant kom hang haar wasgoed met pienk en blou rollers in haar hare –  voordat sy my kan sien, glip ek  vinnig om die draai want ek is nie lus vir hoe ga’ nits en leen gou bietjie dit en bietjie dat, terwyl sy heeltyd oom Blikkies se dronkgatgeit beklaag nie.

Vier jong skool meisiekinders kom haastig pad op geloop.

“Julle, os moenie os vriendskap veloor nie, veral nie net oor os nou graad 8 toe gaan nie. Os moet nog altyd bymekaar kom. Os moet aan mekaar klou. Al staan os in verskillende groepies by die skool, moet os nog steeds praat mekaar”, hoor ek die een sê.

“Antie,” acknowledge hulle almal respectfully vir my en ek knik my kop in ontvangs erkenning.

Tjaila tyd  en sirenes begin loei of soos wat party hardcore locals hier rond sê, daar val die kind van die kooi af.

Wit vrouens begin hulle huiswerkers aflaai – al die anties sit agter in. In party karre sit honde links voor sit met ore wat flap na links en regs soos wat hul spoggerig by die venster uithang, die antie versteek.

Een kar se nommerplaat sê 2, 3, 4, 5 – en ek staan en dink hoe ek outomaties gewonder het waar 1 dan is – als begin mos met 1. So selfs daai ritme is versteur vandag.

Daar kom die Interkaap aangesleep op die N2 – rigting Kaap en ek wonder weemoedig waarom ek nie ook op daardie bus is nie.

Ek bekyk ‘n klomp tipper trokke se slakkepas op die N2 – diè se spoed word opgehou deur ‘n stroper wat hul vooruit  ry – op pad silo’s toe om  graan oes te gaan drop. Daai manne gaan tot ou nag toe aflaai.

‘n  Lendelam geroeste wit lorrie oorlaai met seisoen werkers kom verby gery. ‘n  Bisarre gesig – hulle het almal balaclavas op – hulle lyk dan nou soos demone  uit die donkerste  hoek van die hel.

“Eina! ma’ toema”, skree een van die mans vir my en die ander spring ook op en skiet voorarms uit hy n klap wysvinger teen middelvinger en ek skud net my kop en rol my oë vir sy aanlê poging

Daar sleep die ander bure se gestremde seun, Klippie oor die heuweltjie – hy gaan nou sy aaptwak pyp rook – nes elke dag diè tyd. Sy twee houtbene in perfekte unison met die sy onbeholpe twee vleeslikes. Die mense maak gerugte van bloedskande oor diè familie. Die kind  loop so snaaks, sê hulle, want sy pa is glo sy ma se bloedneef!

Die spreeus begin op die telefoonpale die dag se laaste meeting hou – hulle het land invasion tot ‘n nuwe level gevat. Bekak die hele wêreld – doen mos naellope op die dak met pootjies vinniger as Usain en Wayde gekombineerd.

Daar kom oom Jiems uit die dorp uit. Hy stoot ‘n kruiwa met ‘n 20kg gaspot in teen die bult uit. Dis snikheet en hy het ‘n muscle T -shirt aan wat voorop staan “as seen on TV”.  Sy spiere bult onder die los vel van sy bo arms. Sy rug is half geboë en sy vereelte hande omklem die kruiwa se handvatsel soos wat mens vir jou lewe sal klou. Die hitte en sekerlik sweet het sy bril tot byna onder sy neus gestoot, maar hy durf nie nou gaan stilstaan nie – nie voor hy nie die bult uit is nie – anders gaan hy nooit bo uitkom nie.

“Maak opie donnigse deeg, mammie!” gil die tikverslaade aiaman hier agter – hy het nou ‘n Babilon aiaman geword, sê my milleniër laatlam broertjie Jorsie,  sê die rastafari elders.

Nou kom die manne in blou overalls in groepies verby en anties met pienk en blou blokkies overalls wie se wit oumiese hulle huis toe laat loop en ek skat dis 17h00 – snaaks hoedat jy almal herken selfs met die maskers op.

Twakwalms loop hulle vooruit. Die manne se leë kosblikke in Spar of U – save plastieksakke in een hand en twakpil  in ander.

Die anties dra handsakke, party het ook plastiek sakke waarin daar ice cream blikke met die witmense se oorskietkos van die vorige aand of middag in.

Ek gaan in huis toe – ek het nie nou lus vir ‘n gegroetery nie.

Ek maak die onderdeur agter my toe.

“ Makhosi!” ek herken oom Hennerik,  Derrie se cannabis supplier in ‘n previous life na hom roepgroet, nes elke dag wanneer hy van die dorp afkom – die dagga help glo vir memory en eetlus en alle ander luste het ek gehoor.

 “Na wie roep daai ou jong so saans”, vra Derrie elke aand wanneer hy die tjaila tyd lewe deur veil van die kant gordyn staan en beskou, maar Oom Hennerik hou aan roep. Elke aand.

“Sesuur” sê my pa uit die bloute. “Sesuur” sê hy weer, asof hy wil hê iemand moet dit beaam en loop gang af toe niemand reageer nie, sy moer baie duidelik gestrip aan die manier hoe hy die toilet deur agter hom toeklap.

My niggie, dik Sanna berug vir haar sekskapades met getroude mans waaruit drie kinders verwek is  bel en vra of ek nie Hussain, haar en die Somaliër wat die tuck shop op die hoek het, se kind gesien het nie,  want sy staan nou buite en die kind het die deur se sleutel. Ek stuur vir Jorsie, om te gaan kyk of die klong van haar in die straat agter is. Hy vang net kak aan,  daai klong Hussain – verbeel hom hy is ‘n up and coming Rastafari – maar hy mis geheel en al die essence van Rasta! wees.

Dis sterk skemer toe ek by die venster uitkyk. Die lugruim is nou heeltemal oortrokke met verskillende shades van donker, net so ‘n touch wit tussenin. Huise se buite ligte gaan aan. Die sterk bries het gaan lê. Dis nou heeltemal stil, want mense nuttig aandete en kyk Sewende Laan en nuus en Rhythm City en goeters.

“Het ek my geldjie vi’jo gegee,” vra my pa vir my ma vir die umpteenth time vandag.

“Praat man!,” sê hy ge – irriteerd wanneer sy te lank na sy sin vat om te antwoord.

Ek sien voor my geestesoog hoe sy stilweg haar kop net knik,  ‘n twakpil uit haar bont voorskootsak uithaal, met haar Lion mêtjies aansteek en die walms ‘n  donker wolk kolom om haar rooi bont kopdoek maak soos wat sy swaar sugtend die rook uitblaas.

Derrie sit sy draadloos vir die laaste keer vandag kliphard aan.

Simon & Garfunkel sing: Slip slidin’ away, you know the nearer your destination, the more you slip slidin’ away.

Ek dink aan wat daai man vir my geskree het: “Eina! ma’ toema”.

As iets net wil gebeur.

End.

© Audrey Jantjies

+ posts

Audrey Veronica Jantjies van Suurbraak, net duskant Swellendam, het na skool joernalistiek aan die destydse Skiereiland Technikon studeer, maar kon weens finansiële beperkinge ongelukkig nie haar kursus voltooi nie. Dit was nog altyd haar passie om mense se stories op te skryf. Sy het onlangs ʼn skryfkursus van Ingrid Winterbach bygewoon en dit het haar siening oor die “Afrikaans-wat-ek-ken” en haar manier van dink oor die “Afrikaans-waarmee-ek-kan-skryf” verander. Belangriker is die dringendheid waarmee sy opnuut besef het dat die stories van haar mense – die mense van Suurbraak se wêreld – vertel moet word, want hierdie mense het baie om te sê.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Audrey Jantjies: Eina! ma’ toema”